Garry Paterson van Pretoria het in gisteraand se episode van Wie word ’n miljoenêr, die grootste vasvraprogram ter wêreld in Afrikaans, sy opmars na die R1 miljoen voortgesit nadat hy die vorige week die R125 000-kerf gehaal het sonder om enige van sy drie hulplyne in te span.
Die programaanbieder en storieverteller van formaat, Rian van Heerden, moes natuurlik weer ’n storie oor die Skotte vertel. Garry is immers ’n Skot.
“Die Skotte is ’n nasie wat al ’n groot klomp hiper-slim mense opgelewer het. Alexander Graham Bell, uitvinder van die telefoon; John Logie Baird wat die televisie uitgedink het, en Alexander Flemming wat penisillien ontdek het.
“Maar as jy nou ’n bietjie lekker braai-spice oor ’n Skot gooi en hom so 40 jaar in Afrikaans, en die Suid-Afrikaanse son, marineer . . . dan kry jy nou vir Garry Paterson.”

Terug in die vuurwarm stoel
Garry het sommer met die gaan-sit gewys hy was reg vir die vrae wat mag kom. En vriend Piet was weer daar in die gehoor om hom te ondersteun. Rian het skertsend vertel dat daar al reeds bespiegel is of daar ballonne of konfetti vrygelaat gaan word sou Garry die oorblywende drie vrae korrek antwoord.
“Net nie gholfballe nie,” was Garry se komiese reaksie.

Lyndon B Johnson is in 1963 vir die eerste keer op Air Force One as Amerikaanse president ingehuldig en Garry het sonder huiwering die korrekte antwoord verskaf. Sy prysgeld het opgeskuif na R250 000!
Met R500 000 wat wink, was Garry onseker oor die korrekte antwoord. Wie was die laaste man wat in 1972 op die Maan geloop het? Hy het sy eerste hulplyn, die 50/50-opsie, gekies. Maar selfs die twee name wat oorgebly het, het hom nog oortuig van wie die regte antwoord is nie. Die gehoor se hulp is ingeroep, en 89% van hulle het gedink dis John W. Young.
Garry het besef nie een van sy vriende gaan die antwoord ken nie, en sy laaste hulplyn was Rian, wat dit duidelik gemaak het dat hy ook onseker is oor John W. Young. Dis net daar waar Garry besluit om eerder die geld te vat as om ’n kans te waag. Hy het darem ’n welkome R250 000 huis toe gevat nadat hy “ ’n noodlanding uitgevoer het,” aldus Rian.

Die regte antwoord was Eugene Cernan, die bevelvoerder van Apollo 17. Young was deel van die bemanning van Gemini 3, Gemini 10, Apollo 10, Apollo 16 en die eerste pendeltuigvlug (STS-1) en die bevelvoerder van STS-9.
Sy wengeld van R250 000 maak van Garry die voorloper wat wengeld aanbetref in die huidige seisoen van Wie word ’n miljoenêr.
Wie word ’n miljoenêr? word Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: Drie legendes vanjaar by die Silwerskermtoekennings vereer

