kategorieë: LeesOntspanning

Sonate, hoofstuk 4

Die ou vrou sit by die klavier. Sy tokkel die kinderliedjie Siembamba met een vinger. Haar versorger sit op ’n rusbank naby haar. Sy blaai deur ’n tydskrif. Die ou vrou staan op en gaan sit langs die versorger. Hulle blaai saam deur die tydskrif.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Kyk net die mooi bruid, Emmatjie. Pragtig, né?” Sy streel met haar vingers oor die foto.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Sjoe, Tannie. Ek wens my lyf het so ’n dun middeltjie gehad. Kyk net die oop rug. Mens moet darem vreeslik maer wees om jou rug so kaal te los.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hulle blaai deur die boek.

“My pa sou nooit toegelaat het dat ’n bruid so half kaal in sy kerk trou nie, Emma. Die pastorie was langs die kerk. Ek het baie Saterdae op die kerk se galery gaan wegkruip en geloer hoe my pa die mense trou. Die paartjie moes my pa altyd voor die tyd kom sien en dan het hy met hulle gepraat oor die heiligheid van die huwelik. Ek onthou dit so goed. ‘Die heiligheid van die huwelik’ en die ‘maagdelike reinheid van die bruid’. My pa het altyd daarna verwys. Hy was baie streng, my pa. Hy het maklik geweier om ’n paartjie te trou as hulle nie reg leef nie. Hy het gesê ’n bruid dra net wit as sy ’n maagd is. Net as sy nie voor God skaam hoef te wees nie.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die ou vrou sit ’n rukkie na die foto’s van die bruide en staar.

“Tannie het toe nooit getrou nie?”

Die ou vrou lag sag.

“Maagdelik rein? God se alsiende oog het gesien. Ek kon daardie oog oral op my voel. Ek was nie rein nie.”

Emma vou haar arm om die ouer vrou se skouers.

“Tannie, ek glo God het gesien wat daardie man aan Tannie gedoen het. Hy het geweet.”

“Emmatjie, mens voel almal weet. Ek het gehoop my ma weet. Partykeer het ek verkies om te dink sy weet regtig nie en daarom doen sy niks daaraan nie.”

“Dit was nie Tannie se skuld nie.”

“Mens voel altyd skuldig, Emma. Bang dis jou skuld. Ek het gevoel ek het dit toegelaat. Dit later … geniet …”

Sy begin huil.

“Ek was skaam. My lyf. Dit het my verraai, Emmatjie. Tot my eie lyf het my verraai!

“Tannie was net ’n kind!”

Ansa huil harder.

“’n Kind? Agter oom Stan se gordyne, daar was ek ’n vrou. ’n Vrou in ’n kind se lyf.”

***

Die kind sit voor die klavier en speel Siembamba met een vinger. Haar ma roep van ver af. Dan kom sy ingestap. Sy skrik as sy die kind se gesig sien.

“Ansa! Wat het jy aangevang! Hoe gaan ons jou gesig skoon kry!”

Die kind kyk verward na haar ma.

“Dis my make-up. Ek wou mooi lyk vir die musiekles. Vir oom Stan.”

Die ma begin met haar voorskoot die rooi lipstif van die kind se mond afvee.

“Jy is nog te klein vir grimering. Kyk hoe rooi het jy jou wange gesmeer. Hoe gaan ek dit afkry?”

Die kind raak huilerig en probeer keer as haar ma haar gesig met die voorskoot vryf.

“Issie, dit lyk mooi. Ek lyk mooi. Ek wil soos ’n tannie lyk.”

“Jy is nog te klein om soos ’n tannie te lyk. Los die grimering, dis grootmensgoed. Waar kry jy die vreeslike rooi lipstif?”

“Annine het dit vir my gebring. Ek het haar geruil vir my Fanta- yo yo.”

Die ma haal haar sakdoek uit haar mou en vryf hard oor die wriemelende kind se oë.

“Dit was baie stout van jou! Jy het dan so gekerm oor die klimtol? Pappa …”

“Ek het Pappa in die winkel gewys watter een ek wil hê. Ek wou die Coke ene hê. Maar hy het gesê mense wat Coke drink pleeg sonde …”

Die ma bekyk die rooi lipstif op haar sakdoek.”

“Weet Annine se mamma dat sy die lipstif vir jou gegee het? Sjoe, dis darem baie rooi.”

“As ek groot is, wil ek soos Annine se ma lyk. Sy is vreeslik mooi, né, Mamma?”

Die ma lyk onthuts.

“Annine se ma is goedk…. Ordentlike vroue dra nie … Ag, gaan was jou gesiggie, ons is laat. As Pappa jou so sien, is die duiwel los.”

Die kind protesteer as haar ma haar aan die hand vat en badkamer toe stap.

“Oom Stan sê Annine se mamma is beeldskoon. Die mooiste vrou in die dorp, sê hy.”

Die ma snork verontwaardig.

“Oom Stan is ’n man. Vir mans is vroue soos … Ag wat, eendag sal jy verstaan.”

***

Die bejaarde vrou sit op ’n bankie in die ouetehuis se tuin. Sy neurie die liedjie Siembamba. Die versorger kom sit langs haar.

“En die hartseer gesig op die sonnige middag, Tannie Ansa? Kyk net hoe mooi blom die madeliefies al.”

“Het jy al gewens jy is dood, Emma?”

Emma neem Ansa se hand.

“Hoekom weer so morbied vandag?”

Sy wys haar arms vir Emma.

“Hierdie letsels op my arms. Ek wou nie meer lewe nie.”

Emma vryf oor die letsels.

“Dis lankal verby, Tannie is nou oukei.”

Ansa begin huil.

“Ek het aanhou probeer. Pille. Lemmetjies. Maar God was wreed. Hy het my elke keer teruggestuur. Ek was so kwaad vir Hom. Dit het gevoel selfs Hy wou my nie by Hom hê nie.”

Emma troos haar.

“Nee, Hy het Tannie gespaar. Hier is Tannie nog vandag.”

“Ek het ure gebid. Die Bybel deursoek vir antwoorde. Hoe kon God  dit toelaat? … laat die kindertjies na My toe kom …”

Emma hou Ansa se hand vas en praat sag, paaiend.

“Kom ons los die hartseer, netnou maak dit Tannie weer deurmekaar. Dis amper teetyd. Kom, ek help Tannie in.”

Emma help Ansa op. Hulle stap stadig na die sitkamer.

“Tee? Emma? Gaan ons tee drink? Mamma wou alles weg troos met tee. Vier suikers. Sluk, Ansa, sluk. Dan was alles vergete. Kom, my kind, kom ons gaan drink soet tee voor Pappa kom …”

Die twee vroue skuifel tot by ’n rusbank. Emma help Ansa om gemaklik te sit.

“Soet tee, Emma. Vier lepels suiker.”

“Stroopsoet. Dan sal Tannie beter voel.”

***

’n Jong vrou in haar twintigs sit in ’n roosbedding en sing ’n kinderkoortjie:

“Laat ons skyn vir Jesus met ’n helder glans, skitter soos die sterre, aan die hemeltrans, is die wêreld donker, skyn dan skyn, jy in jou klein hoekie en ek in myn …”

Sy kniel tussen die rose en begin bid.

“Hoor U my, my God? Dis ek, Ansa.

Na al die jare weer hier tussen Ma se roosbome.

Sien U my angssweet? My roosdoringkroon.

Die gebed in my benoudheid?

Neem hierdie beker by my verby, My Vader.

My lydensweg. Dit kronkel oor die klippe.

Die pad. Dis so lank. Ek is so moeg.

Die lem het diep gesny, maar U het my teruggestuur.

Kyk, ek bloei nog. Kan ek net aan U kleed se soom aanraak, Rabbi?

Dan sal ek rein word, vir ’n bruidsrok.

Kyk die klippe, My God.

Dit reën om my. Hulle gooi en gooi.

Hoor hoe hulle my uitjou.

Hoor U?

Kan U my wit was?

Wit?

Ek is ’n kindjie klein. Maak my hartjie rein.

Ek weet U is daar. U hoor.”

Haar ma kom aangestap.

“Ansa? Ag nee man! Wat maak jy? Staan op uit die grond. Kyk hoe lyk jou klere nou! En die bloed op jou gesig. Haal af daardie rooskrans. Die dorings sny jou voorkop stukkend. Ai, en ek het Pappa belowe jy sal die diens bywoon. Noudat jy beter is …”

“Is ek beter, Mamma? Ek het God in die tuin kom soek, Mamma. Hier by Mamma se rose. Ek het kom bid.”

Die ma hou haar dogter vas.

“Ai Ansa …”

Die dogter druk haar gesig in haar ma se rok.

“Hy luister Mamma, Hy luister as niemand anders luister nie.”

Die ma vryf oor haar hare.

“Moet jou kop nou nie weer deurmekaarkrap nie, my kind, jy kom nou net uit die kliniek.”

“Maar dis God, Mamma, Hy weet. Hyt gesien.”

Die ma maak haar los uit die dogter se omhelsing.

“Ansa …  Moet nou nie weer daarmee begin nie.”

“Maar Mamma, dit het dit het nog nooit opgehou nie. Dit vreet aan my. Dit hou nie op nie. Ek bly vuil, ek was en was.”

Die ma vroetel met die rose. Sy kyk weg van haar dogter.

“Dis in jou kop, my kind, alles in jou kop.”

“Ja, Mamma. In my kop en oor my lyf. Dis oral oor my lyf. Ek voel dit nog.”

Die ma begin wegstap na die huis toe.

“Ek bel dr. Esselen môre, ek dink hy moet jou dosis groter maak. Jy is nog nie reg nie.”

Die dogter stap saam.

“Nee, ek is nie reg nie. Mamma? Hoor jy my? Ek is nog nie reg nie!”

Die vrou gaan staan ’n oomblik. Sy kyk na haar dogter.

“Toe my kind, gaan maak reg vir kerk, hoor net daar, die orrel speel al. Oom Stan speel al.

Die dogter kyk in die rigting van die kerk langs die pastorie.

“Mamma, is God daar? Daar in die kerk?”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje
Tags: sonate

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.