kategorieë: Lees

Splinters, hoofstuk 12

Spieël

Sy het altyd vir die wolke gekyk as sy in die straat af loop. Na wolke, dakke, plafonne. Want sy het geweet bo is dit veilig. Daar is geen refleksie nie. In winkelvensters, spieëls, in blink karre het die monster-vrou geskuil.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sy kan nie onthou hoe oud sy was toe sy haar die eerste keer in die spieël gesien het nie. Maar toe was die monster-vrou ook nog klein.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Haar ouma het een keer vir haar ’n handspieëltjie vir Kersfees gegee. Een in ’n stel saam met ’n borsel. ’n Monster-kind het uit die spieël na haar teruggekyk. Toe gooi sy die spieël teen die muur dat die skerwe spat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy het probeer onthou wanneer die monster-kind haar die eerste keer begin beloer het.

Miskien was dit nadat sy gehoor het haar ouma verwys na haar as “die lelike ou enetjie”. Haar niggie Hanneke het goue blonde krulle gehad wat tannie Minet in lokke gedraai het. Hanneke het rokkies gedra wat so wyd uitpof as sy stap. Haar broekies het kant op gehad. Dit het nie saak gemaak dat Ma gesê het Hanneke is ’n mislike ou dogtertjie nie. Hanneke was mooi.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy het haar rooi krulhare en geel oë gehaat. God was seker in ’n slegte bui die dag toe hy haar gemaak het. Ou wortelkop of Vlam. So het die kinders haar genoem. Op universiteit was sy Ginger.

Geel oë? Kon God dit nie maar groen of bruin … blou gemaak het soos Hanneke se oë nie?

Hanneke het sulke dik lang goue wimpers gehad en by familie-saamtrekke het die ooms en tannies altyd iets oor Hanneke se oë gesê. Mislike ou Hanneke.

Sy kyk na die vlieswolke bo die winkels se dakke terwyl sy kafee toe stap. Sy koop ’n pakkie Camels en gaan staan buite onder ’n boom en rook.

Sy dink sy haat Hanneke nog steeds. Sy bly al van skool af weg van die familie. Dit het Pa woedend gemaak. Pa het haar en haar “geite”, soos hy dit genoem het, nooit verduur nie.

Sy weet Hanneke was seker by Ma se begrafnis. Maar sy het haar nie gesien nie. Sy het haar hoed laag oor haar oë getrek en die familie ontwyk. Sy kon hoor hoe die familie agter hulle hande oor haar fluister. “Siestog …” “… kop raas.” Sy het hulle gehoor, maar sy het nie omgegee nie. Ma sou verstaan het.

Ma het die spieël in die badkamer en die een op haar spieëlkas toegegooi sodat sy dit nie hoef te sien nie. Die een in die gang het sy afgehaal. Pa het gesê dis sommer nonsens, maar Ma het verstaan.

Na ’n paar skreeu-sessies by haarkappers is haar hare sedert laerskool nooit weer gesny nie. Sy kon net nie in daardie vertrek met al die spieëls sit nie. Die monster-kind het haar daar uit elke hoek gekoggel.

Toe sy op universiteit Shakespeare se Sonnet 130 gelees het, het sy geweet, hy het die monster-vrou ook geken.

“ …
Coral is far more red than her lips’ red;
If snow be white, why then her breasts are dun;
If hairs be wires, black wires grow on her head.
I have seen roses damask’d, red and white,
But no such roses see I in her cheeks;
And in some perfumes is there more delight
Than in the breath that from my mistress reeks.
I love to hear her speak, yet well I know
That music hath a far more pleasing sound …”

Die monster-vrou is moedswillig. Sy bekruip haar heeldag en kyk waar sy haar kan uitvang. Soms loer sy uit die weerkaatsing in iemand se sonbril. Of duik sy skielik op  in ’n plas reënwater. Sy skuil in klerewinkels se aantrekhokkies, in badkamers en selfs as die lig sleg val op haar rekenaarskerm.

In haar drome verlam die monster-vrou haar en kan sy nie wegkyk van die spieël nie. Sy grinnik en grynslag vir haar. Steek haar lang benerige vingers deur die spieël en gryp na haar.

Toe die kinders by die skool haar vrees vir spieëls ontdek, het hulle en die monster-kind haar lewe hel gemaak. Hulle sou onverwags ’n spieëltjie op die boek voor haar neersit of een onder die deksel van haar skoolbank wegsteek. As sy die deksel lig om ’n boek uit te haal, het sy daar gewag, die monster-kind.

Juffrou Maree het haar een keer badkamer toe geneem en gedwing om na die spieël te kyk. “Toe, kyk, daar is niks om voor bang te wees nie.” Ma moes haar daardie dag by die skool kom haal. Sy het gehoor hoe Ma vir Juffrou Maree belowe sy sal my na ’n sielkundige neem.

Die eerste groot woord wat sy oor haar “afwyking” geleer het, was katoptrofobie, ’n vrees vir spieëls. Maar sy het geweet hulle is verkeerd. Sy is nie bang vir die spieël of die weerkaatsing nie. Dis die monster-kind in die weerkaatsing wat haar bang maak.

Sy het een keer in ’n artikel oor die sanger Michael Jackson iets gelees wat vir haar verstaanbaar was. Hy het die weerkaatsing van sy eie refleksie gehaat. Selfs nadat hy sy voorkoms met verskeie plastiese snykundesessies verander het, het hy nie van sy eie voorkoms gehou nie.

Liggaamlike Dismorfiese Afwyking. Dis wat Michael Jackson gehad het.

Die psigiater het net herhaal wat sy reeds geweet het.

“Niemand verstaan die afwyking nie, Juffrou. Daar is nog te min navorsing gedoen.” Hy het patroniserend vir haar geglimlag en vir haar Zoloft voorgeskryf.

Sy het een keer by ’n werk bedank toe hulle die kantore gemoderniseer het. Hulle het glasafskortings tussen die werkstasies gesit. Refleksie. Toe bedank sy.

’n Vrou het haar een keer in die biblioteek omhels. “Het jy geweet dit is ‘hug a Ginger day’?” Die vrou het met ’n oop rooi mond vir haar gelag. Sy kon die monster-vrou se weerkaatsing in die vrou se bril sien.

Op die internet het sy gelees hoe mense soos sy by plastiese chirurge boer. Maar sy het geweet dit sal nie vir haar help nie. Net ’n kop-oorplanting sal help. Sy het liewer onder groot hoede weggekruip.

Een keer het iemand in ’n bus per ongeluk haar hoed afgestamp. Sy het op die vloer geskarrel om dit weer te kry.

Hy het bruin oë gehad en sy swart trui was vol kathare. Hy het haar hoed na haar uitgehou en geglimlag.

“Jy het die mooiste bos lang rooi hare wat ek nog gesien het.”

Sy het haar hoed gegryp en haar rooi hare weer onder die bol ingebondel.

Daardie aand het sy haar hare uitgekam en aan die man gedink. Die man met die trui vol kathare.

Sy het elke dag gekyk of sy hom op die bus sien. Sy het hom ʼn paar weke nie gesien nie. Toe kom sit hy skielik op ’n dag langs haar. Hy het sy selfoon uitgehaal en op ’n foto van ’n groot vet gemmerkat gekliek.

“Dis die ander rooikop in my lewe,” het hy gesê en haar hoed versigtig afgehaal.

“Kan ek net nog een keer na jou hare kyk?”

Hy het sag oor haar hare gestreel.

“Is dit nie pragtig nie?” het die vrou agter hulle aan die man met die trui vol kathare gesê.

“Asemrowend,” het hy gesê en haar hoed teruggegee.

Op pad kantoor toe het sy haar hoed afgehaal en blitsvinnig na haar weerkaatsing in ’n winkelvenster gekyk. Haar hare het in ’n rooi golf agter haar aan gewip. Sy het weggekyk voor sy die monster-vrou sien.

Die volgende dag het sy sonder ’n hoed op die bus geklim. Hy het langs haar kom sit. Hy het niks gesê nie. Net geglimlag en voor hy by sy halte afgeklim het vinnig oor haar hare gestreel.

“Lekker dag, Rooikop.”

Dit het nie vir haar so erg geklink soos toe meisies haar op universiteit Vlam genoem het nie.

By die kantoor het almal hulle vergaap aan haar lang bos rooi krulle wat tot onder haar sitvlak hang.

Haar baas het haar ingeroep. Hy het vriendelik uit sy baard geglimlag.

“Ek verbied jou om ooit weer ’n hoed op daardie pragtige hare te sit. Hoor jy?”

Daardie middag het sy weer vir haarself in ’n winkelvenster gekyk. Sy het nie die monster-vrou gesien nie.

Die volgende oggend het hy weer langs haar in die bus kom sit.

“Het jy geweet Oscar Wilde het een van sy mooiste liefdes-sonnette oor ’n rooikop geskryf” Het hy haar gevra.

“Wilde het nie van vroue gehou nie.” Het sy geantwoord.

“Maar hy het geweet wat mooi is.”

Sy het na die rooi kathare op sy trui gekyk.

Daardie aand het sy die gedig op Google gesoek.

Requiescat
by Oscar Wilde

Tread lightly, she is near
Under the snow,
Speak gently, she can hear
The daisies grow.

All her bright golden hair
Tarnished with rust,
She that was young and fair
Fallen to dust.

Lily-like, white as snow,
She hardly knew
She was a woman, so
Sweetly she grew.

Coffin-board, heavy stone,
Lie on her breast,
I vex my heart alone,
She is at rest.

Peace, Peace, she cannot hear
Lyre or sonnet,
All my life’s buried here,
Heap earth upon it.

“Daardie vrou oor wie Wilde geskryf hert, is dood,” het sy die volgende dag vir hom gesê toe hy weer langs haar kom sit.

“All her bright golden hair
Tarnished with rust,
She that was young and fair
Fallen to dust … Ek weet. Maar dit is ’n pragtige sonnet,” het hy gesê voor hy by sy stop afgeklim het.

“Kan ek vir jou iets sê?” Die sekretaresse het voor haar lessenaar staan en trippel van ongemak.

“Natuurlik.” Sy het opgekyk. Die sekretaresse se kort hare was vlamrooi gekleur.

“Ek was altyd skaam vir my rooi hare. Tot jy ophou hoed dra het. Ek het dit vanoggend laat kleur. Hoe lyk dit vir jou?”

“Pragtig. Jy is regtig pragtig.”

“Dankie, jy ook. Ek bedoel dit. Almal praat daaroor.”

Daardie middag was die monster-vrou nie in die winkelvenster nie. Sy het ’n rukkie na haar weerkaatsing staan en kyk.

“Kan ek weer jou kat sien?” het sy die volgende oggend gevra toe hy langs haar kom sit.

Hy het op ’n paar foto’s van die kat geklik.

“Sy is pragtig né?”

“Ja sy is.”

“As jy kom kuier, sal sy toelaat dat jy haar vashou. Sy hou nie eintlik van mense nie, maar ek weet sy sal van jou hou.”

Sy hou die vet gemmerkat versigtig in haar arms. Sy Purrr saggies en vryf met haar kop teen haar wang.

“Ek het dit geweet,” sê hy.

“Sy is pragtig.”

“Jy ook,” sê hy en streel oor haar rooi hare.

By haar deur gee hy haar ’n pakkie.

“Ek het gedink dit pas by jou. Dis ’n antieke handspieël. Ek het een keer ’n skildery van Gustave Coubet gesien. Ek het dit gisteraand op die net gesoek. Jo, the beautiful  Irish girl. Dis haar naam. Gaan Google dit vanaand.”

Sy het ’n ruk lank na die pakkie op haar bed sit en kyk. Toe maak sy dit versigtig oop. Die silwer handspieël was swaar. Dit het fyn blomrankies op die agterkant gehad. Sy het die spieël stadig omgedraai. Sy kon haar rooi krulhare in die lamp sien blink. Sy het versigtig na haar gesig gekyk.

“Hallo,” het sy sag vir haarself gesê.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.