kategorieë: Lees

Splinters, hoofstuk 9

Roomys

“Het jy geweet die meeste roomyskombi’s in die wêreld speel dieselfde deuntjie?” Sy haal ’n klein musiekboksie uit haar sak en maak die deksel oop. ’n Klein ballerina dans al in die rondte voor ’n spieëltjie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die sielkundige glimlag, want sy herken die deuntjie. Alle kinders wat van draairoomyse hou, ken daardie deuntjie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Dis Music Box Dancer van Frank Mills. Jy moet tog die lirieke Google. Dis eintlik baie mooi.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy maak die deksel weer toe.

“Die roomyskombi het Woensdae by my ouma se huis verbygekom.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy druk die boksie in haar groot sak. Die sielkundige bekyk die sak. Dis groot en bonkig en lyk swaar. Die vrou het behoorlik skeef geloop toe sy by die kantoor instap met die sak oor haar skouer.

“My ouma het die musiekboksie vir my gekoop. Voor Sub B.”

Dis die vakansie aan die einde van Sub B wat haar die mens gemaak het wat sy vandag is, vertel sy. Sy het elke skoolvakansie by haar ouma in Kaapstad gaan kuier. Haar ouma het gevoel ’n kind wie se ouers beide doof is, moet soms aan ’n normale omgewing blootgestel word.

“Al die pad van Worcester tot in die Kaap het ek gedroom van die draairoomyse wat die roomyskombi Woensdae bring. Ons was arm en ’n draairoomys was kleintyd vir my soos ’n stukkie van die hemel. Ek het altyd die een met pienk en wit roomys gekies. Een met ’n flake.”

Sy was van kleins af haar ouers se tolk. Haar ouers was op skool toe dowes nog net liplees geleer het. Toe besluit hulle om ook gebaretaal aan te leer. Sy het saam met haar ouers by die skool vir dowes les gekry.

“Almal was so trots op hoe vinnig ek dit kon aanleer. Ouma het my haar slim prinses genoem en die musiekboksie vir my gekoop. Ek was Ouma  se ‘ou staatmakertjie’ oor ek my ma en pa so mooi help.”

Oom Flip het by haar ouma gewoon. Haar Ouma se laatlam. Ouma het hom verafgood en geglo hy is die een van die gesin wat gaan uitstyg.

“My pa het altyd beduie Flip is ’n sleg blikskottel want hy is al ’n groot man en lê op sy ma se nek. ’n Man wat kan hoor, kan maklik ’n werk in Kaapstad kry, het my pa gevoel. My ma en pa het gewerk. Hulle het min verdien, maar my ouma het elke maand geld gestuur om ons deur te trek. Ouma het ’n neseiertjie en ’n huis in Woodstock gehad. My ouma was glo baie kwaad toe my ma swanger word met my. Sy was bang vir die  oorerflikheid. Maar toe ek gebore is en kan hoor, was Ouma bly. Ek en oom Flip het die Van Zyl-familievloek van my oupa se kant vrygespring, het sy altyd gesê. Ek en oom Flip.”

Sy begin bewe en tel haar bonkige sak op. Sy wieg dit soos ’n baba.

“Ek moet vandag daaroor praat. Ek moet. Ek moet.”

Sy wieg nog ’n rukkie.

“Dit was my eie skuld. Ek het so baie van daardie draairoomyse gehou.”

Sy druk haar gesig in die sak en snik.

“Oom Flip het gesê ek raak nou ’n groot meisie en moet ’n werkie doen vir die roomys.”

Haar ouma het Donderdae biduur toe gegaan. Dan het oom Flip gaan bad. Eers het hy haar geroep om net sy rug te kom was.

Sy bewe en kyk na die sielkundige vir hulp.

“Jy moet dit self vertel. Laat dit uitkom. Jy was net ’n dogtertjie.”

Die vrou wieg weer.

“My ouma het geweet ek was oom Flip se rug. Partykeer het hy my in die aand ook badkamer toe geroep. As ek nie wou nie, het Ouma geraas en my vertel hoe baie oom Flip my bederf met die roomys.”

Sy wou ná daardie vakansie nie meer na haar ouma toe gaan nie. Haar ouers het een keer per maand afgery Kaap toe om by Ouma te gaan kuier. Dan het sy heelpad gehuil.

“Ek was bang vir hom. Hy het gesê as ek vir iemand vertel, sal hy my ma en ouma vertel van die sonde wat ek gepleeg het vir die roomys en dan gaan hulle my weeshuis toe stuur en eendag as ek doodgaan, gaan ek in die hel brand. As mens eers met so ’n sonde begin het, kan jy nie ophou nie. Dis die een sonde wat God nie vergewe nie, het hy gesê. Ek wou een keer my Sondagskooljuffrou daaroor vra, maar ek kon nie. Ek het geglo al die kinders by die skool kan my sonde sien. Ek het by die hek gestaan tot die klok lui en dan het ek ingehardloop.”

Sy het in die Bybel begin soek na die sonde van die roomys. Dit moes daar iewers gewees het want die sonde het van binne aan haar gevreet. Sy het gevoel God is kwaad vir haar oor die sonde.

“Ek moes steeds elke vakansie by my Ouma gaan kuier. As ek die roomyskombi gehoor het, het ek probeer wegkruip. Ek wou nie meer roomys eet nie. Dan het my ouma gesê: ‘Watse nonsens is dit? Jy hou mos van roomys?’

Oom Flip het altyd my hand gevat as ons die tuinpaadjie afstap. Ek het my ouma gevra of ek nie saam met haar biduur toe kan gaan nie, maar sy het net gelag. ‘Dis ’n plek vir ou vrouens wat bid oor sondes. Nie die plek vir japsnoete nie.’ So het my ouma gesê.”

Sy het begin maagpyne kry as hulle Kaap toe ry. Soms moes haar pa stop sodat sy kan opgooi.

“Karsiek,” het Ouma verduidelik.

“Ek kon nie meer my ouma se skaapboud, gebakte aartappels en boontjies eet nie. Hy het altyd oorkant my gesit en sy voet onder die tafel tussen my bene probeer indruk. Dan het ek opgestaan en uitgehardloop. Ouma het een keer by my op die bed kom sit om te hoor wat is verkeerd. Sy sal na my luister, het ek daardie oomblik geglo. Ouma het my deur die gesig geklap en gesê ek raak ’n ongeskikte kind en is vol lelike gedagtes en ek moet nie dinge vir my ma-hulle erger maak met my nonsens nie.”

Sy vra die sielkundige of sy ’n sigaret kan opsteek en grawe rond in die sak.

“Weet jy? Ma en Pa se ore was doof, maar Ouma se hart was doof.”

Oom Flip het saans na haar kamer toe begin kom as Ouma slaap. Sy het die stoel voor die deur probeer skuif, maar dit het hom kwaad gemaak en dan het hy gevra of sy wil hê hy moet almal van haar sonde vertel.

“Ek was die eenkantkind op skool. Ek het die ander kinders, veral die seuns, vermy. Ek het geweier om matriekafskeid toe te gaan. Die dag toe ek op Worcester- stasie op die trein Johannesburg toe klim, was ek bly.”

Sy het as tolk vir dowes in die Johannesburgse Hooggeregshof gaan werk. Sy en haar ma het pakke briewe vir mekaar geskryf. Sy het skuldig gevoel omdat dit vir haar lekkerder was om vir haar ma te skryf as om met gebare te praat. Sy kon haar hart oopmaak vir haar ma. Behalwe oor die roomys-sonde.

“Ek kon nie. My ma-hulle was finansieel afhanklik van Ouma.”

Sy haal die musiekboksie weer uit die sak en lig die deksel.

“Hoor jy? Dit is die musiek van my sonde. Daar is ’n roomys-sonde. Ek weet dit nou beter as ooit.”

Oom Flip het ’n erge beroerte gekry en hy kon niks meer vir homself doen nie. Hy kon ook nie meer praat nie en was gefrustreerd en moeilik. Haar ouma het gesukkel om hom van die bed op die rolstoel te kry. Haar ma en pa moes Kaap toe trek om Ouma te gaan help. Ouma was sieklik en gedaan.

“Hulle was dit aan Ouma verskuldig. Ouma het gesê hulle kan haar huis en neseier erf as hulle Flip versorg tot sy dood.”

Sy wou lank nie in die Kaap gaan kuier nie. Sy het al meer briewe vir haar ma geskryf. Maar nooit na Oom Flip gevra nie. Sy was kwaad. Nou het hy ook haar ma en pa van haar weggeneem. Na Ouma se dood het oom Flip al moeiliker geraak. Sy kon uit die briewe agterkom haar ma kan nie meer nie.

“Ek moes my ma gaan help.”

Sy wieg weer die sak. Heen en weer, heen en weer.

“Ek moes …” Sy kyk reguit na die sielkundige.

“Ons het hom laas week begrawe. Langs Ouma”

’n Tante het altyd na oom Flip gekyk as haar ma-hulle dorp toe of kerk toe gaan.

“Dit was ’n Woensdagmiddag. Ma-hulle wou dorp toe gaan. Ek het aangebied om hom op te pas.”

Sy glimlag hartseer.

“Kan jy glo die roomyskombi ry nog steeds Woensdae deur Woodstock se strate? Dieselfde liedjie. Music Box Dancer, she is only a toy … Die roomys-sonde. Dink jy God sal my daarvoor vergewe?”

Sy het Flip met sy rolstoel die tuinpaadjie afgestoot.

“Ek het vir hom ’n pienk en wit draairoomys gekoop. Een met ’n flake. Ek het hom gevoer tot die roomys teen sy ken en wange tot op sy hemp afloop.”

Sy steek nog ’n sigaret aan en stap op en af in die kantoor.

“Hy het verstik, het die paramedici vir Ma gesê. Ma het vir my gesê ek moenie sleg voel nie want ek het net gedink ek doen goed.”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

13 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.