kategorieë: Ons menseBekendes

Sterre en stêre

Kim Kardashian West se blink geoliede kaal agterstewe op Paper se winteruitgawe het die sosiale netwerke laat gons. Ook Jennifer Lopez, Nicki Minaj, Serena Williams, Beyoncé, Shakira en Scarlett Johansson is besig om die media met sy plankdun voorskrifte vir vrouefigure te wys dat vroue met kurwes trots is daarop.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Seker die grootste deurbraak vir die normale vrouefiguur is dat die “modebybel” Vogue uiteindelik ’n goedkeurende kopknik in die rigting van voller boudjies gegee het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die beroemde onderklerereeks Victoria’s Secret se Angelsveldtog was verlede jaar in die moeilikheid omdat plankdun modelle se lywe in ’n advertensieveldtog as “Die perfekte lyf” uitgebeeld is. Britse vroue onder leiding van Change.org het in ’n petisie teen die advertensie beswaar gemaak omdat dit onrealistiese standaarde vir gewone vroue stel. Die reaksie was so hewig dat die slagspreuk na “A Body for Every Body” verander is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hulle was voorheen ook al in die moeilikheid en destyds en nou weer was die klagte dat Victoria’s Secret-veldtogte vroue minderwaardig oor hul voller, normaler figure laat voel. Ander besware wat geopper is, is onder meer die gevaar van dieetsiektes, gesondheidsprobleme en emosionele probleme weens ’n media wat plankdun lywe as die ideale figuur uitbeeld.

Vogue-joernalis Patricia Garcia het aan die einde van verlede jaar die lof van vroue met voller boude, soos Jennifer Lopez en Kim Kardashian in die artikel “We’re Officially in the Era of the Big Booty” besing. Die omstrede musiekvideo Booty van die Australiese rapper Iggy Azalea en Lopez (albei bekend vir hul voller agterstewes) is as voorbeeld van die normaler vrouefiguur voorgehou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Corlea Botha

Die sangeres Corlea sê die bedryf en media stel baie eise aan vroue, veral oor gewig, en skep ook soms die wanpersepsie dat alle vroue modellywe het.

“Dit pla my minder vandat ek besef het presies hoeveel daar met foto’s gepeuter word! Ek kan ’n onskuldige stryery met ’n meisie in graad drie onthou. Cindy Crawford was haar heldin, en sy’t verkondig dat Cindy natuurlik beeldskoon is en nie op enige foto grimering dra nie. Oeg, sy was baie kwaad toe ek sê alle modelle het áltyd grimering aan! Ek het van kleins af geweet dinge is nie altyd soos dit lyk nie.”

Corlea sê wanneer sy op die verhoog is, stap sy in ’n eie wêreld in en vergeet van alles om haar, selfs van haar eie lyf.

“Voor die kameras is ek ’n bietjie senuweeagtiger, maar raak darem gemakliker. En dit is nie ’n mite dat ’n TV-kamera ’n mens vetter laat lyk nie. Ek dink niemand wil hom ooit op televisie sien nie! Almal het altyd dieselfde reaksie: Lyk ek regtig só? Ek is al gewoond daaraan, maar wanneer ek na myself kyk, knyp ek nog maar een ogie half toe in afwagting op die skok.

“Die pluspunt is wanneer aanhangers jou in lewende lywe sien en sê: ‘Sjoe, maar jy’t maer geword.’ Dan sê ek maar net dankie. Ek weet dis die 10 kg van die kameras! No effort diet! ’n Tannie het wel een keer vir my gesê: Ag, jy’s in die regte lewe glad nie so vet soos op die TV nie! Siestog, sy het dit seker goed bedoel, hoewel daar net ’n vraagteken uit my mond geval het.”

Corlea sê haar gewig ry wipplank en mense kan nooit regtig agterkom wanneer sy gewig aansit nie. Hulle kan haar dus nie aan ’n standaardvoorkoms meet nie.

“Ek raak partykeer ongelukkig. Nie oor my voorkoms op die verhoog nie, maar wanneer vriende saamkuier, of almal op die strand is. Maar daardie gedagtes is ook van korte duur, want ek weier om my kos te weeg, ná elke ete op te gooi, of om myself nie klein plesiertjies in die lewe te gun nie. Ek wil ook nie altyd skuldig voel oor eet nie. Ek weier.”

Sy vertel sy is ook maar goed hardkoppig.

“As mense vir my sê om iets te doen omdat dit hulle pas, sál ek met mening na die ander kant toe oorhel. My hare was vanjaar rooi en almal was mal daaroor. Ek sou publisiteit saam ’n mediareus doen en hulle het geweier om voort te gaan tot my hare weer swart was. Toe kleur ek dit nog rooier!”

Sy weier om in ’n boks geplaas te word.

“Ek is ’n individu en ek sal tot op my sterfbed rebels teen klassifisering baklei.”

Sy voel gemaklik genoeg in haar lyf en sê sy het haar loopbaan op talent gebou, en nie op haar voorkoms nie.

“Ek is gemaklik genoeg om soos Adele te sê jy luister na musiek en kyk nie daarna nie, so as jy nie daarvan hou nie, beweeg met liefde aan. Ek is gemaklik genoeg om vir elke liewe vrou daar buite te sê die geheim is hoe jy jouself ‘dra’ – jou gewig en grootte maak nie saak nie.”

Antoinette Louw

Dis tragies dat skraalheid soveel gewig dra, sê aktrise Antoinette Louw.

“In die begin van die vorige eeu was die voller figuur en kurwes die toonbeeld van wat ‘mooi’ is. En ja, ek wens soms dat ek eerder deel van daardie era kon wees. Dinge sou soveel makliker gewees het, droom ek. Want ek het kurwes. Baie. En ek hou van eet. Baie. Dus trap ek ook in die strik om my met plankdun vroue te vergelyk en my kurwes weg te wens. Nog meer vanweë die bedryf waarin ek is.”

Sy vra haar soms af of sy meer werk sou gekry het as sy soos soveel van die aktrises skraler was?

“En dan word ek kwaad – vir myself en die media en die bedryf wat dit verwag. Want dis op soveel vlakke onnatuurlik en ongesond dat ’n plankdun lyf geluk en sukses bepaal. Dis onbemagtigend. Dit vat die fokus weg van dit wat regtig belangrik is.”

Sy sê sy kyk na Kim Kardashian se boude en dink: Dankie, tog!

“Miskien, net miskien, sal dinge stadig begin verander. Want ek is te lief vir my kaaskoek.”

Andriëtte Norman

Sy het aanvanklik gedink sy moet maer wees omdat sy altyd soos een van die groter meisies in die bedryf gevoel het, sê die sangeres Andriëtte Norman. “Maar algaande het ek soveel vrede gekry en net besef dat my geluk al is wat saak maak. Dit gaan oor ’n goeie selfbeeld – en elke vrou sukkel maar soms daarmee.”

Die ekstra kilogramme wat die TV-kamera aansit, het haar net aan die begin gepla.

“Omdat ek oefen, voel ek goed, en voel ook beter voor ’n kamera. Ek kan in elk geval niks daaraan doen nie, so dit moet nou maar so wees. Ek weet ek lyk nie in die regte lewe so nie.” Sy glo wel dat jy in die vermaakbedryf goed moet lyk.

“Mense luister maar met die oog, ook as jy op ’n verhoog staan. As ek ’n kilogram of wat aansit, dra ek net vir ’n rukkie minder van my stywe klere tot ek weer daardie 2 kg afgeskud het. Ek is ’n bietjie volronder as die gewone 55 kg-meisie. Ek glo ’n vrou moet vroulik lyk en jy moet jou liggaamsbou aanvaar. Ek het ’n medium bou en ek is trots daarop en versorg myself mooi. Dit gaan oor balans. En hoe meer ek oefen, hoe gesonder wil ek leef.”

‘Dis absurd’

Gesoute TV-skrywer Martjie Roos sê dis absurd dat daar druk op aktrises geplaas word om plankdun te wees.

“Daar’s soveel mollige aktrises wat hulle, ongeag hul ekstra kilogramme, op die silwerdoek en in bekende TV-reekse en sepies bewys het. Dink aan Sara Ramirez van Grey’s Anatomy-faam wat die sensuele dr. Callie Torrez vertolk. Moet ook nie van die suksesvolle Melissa McCarthy van die rolprent Bridesmaids vergeet nie. Lena Durham van die TV-reeks Girls is al met agt Emmy’s bekroon en is lief vir haar lyf. En dink aan die immergroen Kathy Bates. Sy het met haar sterk teenwoordigheid op die skerm en haar selfvertroue ’n rolmodel vir talle mollige vroue geword.”

Sy sê Suid-Afrikaanse vervaardigers soek nie noodwendig na die skraalste aktrises wanneer hulle oudisies doen nie.

“Lyfies van verskillende lengtes en groottes word gewoonlik vir die meeste TV-reekse, sepies en rolprente gekies.”

‘Van alle groottes’

Ernst Swart, publisiteitsbestuurder van Stark Films, sê die hospitaalsepie Binnelanders is in die waarheid ingebed en daarom kies hulle akteurs en aktrises van alle groottes.

“Solank ’n aktrise net haar gewig handhaaf, is die vervaardigers én die garderobe-afdeling gelukkig.”

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.