kategorieë: Lees

Stervanger, episode 13

Soen

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Amo is nie lus om die boodskap met die ander te deel nie. Sy gesprekke met Jessie is vir hom amper heilig. Maar later pla sy gewete hom.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Jessie sê sterkte. Sy sê ons moet die ander se alies skop.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die ander staar hom ’n paar sekondes verstom aan, dan antwoord Jaco. “Sê vir haar ons bring die beker huis toe.” Die ander stem saam. Vandag gaan hulle wen. Vir Jessie.

Die ander spanne is goefen. Dit is moeilik om hulle te klop. Die atmosfeer is gespanne in die saal. Die ouers wat hulle kinders kom ondersteun het, meng nie eintlik met die ander skole se ouers nie. Amo loer kort-kort of hy Mamoeks en Janus nog kan sien. Hulle sit byna heel agter in die volgepakte saal. Mamoeks gee elke keer so ’n klein wuifie. Sy weet sy mag nie ’n vreeslike scene maak soos van die ander ma’s nie. Hy skaam hom dood as sy ma voor in die saal kom staan en foto’s van hom neem.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dit is van die begin duidelik dat Brandwag en die span van die Adelaar die sterkste is. Amo is baie dankbaar vir die ekstra vrae wat hy en Jessie opgestel het.

“Vanjaar probeer hulle ons behoorlik vasvra,” fluister Ulrich onderlangs. “Hulle probeer mens uitvang.”

Met die vrae oor aktuele nuus is Jeandré die sterkste. Jaco is hulle brein vir die sportvrae.

Ulrich en Amo is die wetenskaplikes en Sanet die wiskundige. Esmé en Ellen het ’n wye algemene kennis en hulle help hier en daar met ’n vraag oor oorsese rolprentsterre en sangers. Voor ’n span ’n vraag kan antwoord, moet hulle seker maak hulle antwoord is reg voor hulle die bieper druk. As mens eers die bieper gedruk het, is jou span verplig om te antwoord.

Die eindstryd is kop-aan-kop. “Ons kan nie bekostig om nou ’n nalatige fout te maak nie. Hulle gaan julle nou met strikvrae probeer vang. Dink mooi voor julle antwoord,” waarsku Juffrou Wessels.

“Nou vir die voorlaaste vraag. Adelaar en Brandwag loop gelyk met 18 punte elk,” sê die aankondiger. Die gehoor sit op die punte van hulle stoele.

“Waar of vals. ’n Sterk magneet kan ’n stuk lood oplig.”

Nie een van die spanne druk die bieper nie. Dit is doodstil, behalwe vir die gefluister onder die deelnemende spanlede.

“Magnete kan net metale wat yster, nikkel en kobalt bevat, aantrek. Lood is nie een van hulle nie,” fluister Ulrich. “Hoekom verwys hulle dan na ’n sterk magneet? Is daar nie spesiale magnete wat lood kan oplig nie?” vra Jaco bekommerd. Hulle stem vinnig oor die antwoord. Dan druk Ulrich die bieper. “Vals, magnete kan nie lood aantrek nie.”

Dit voel of die stilte ’n ewigheid duur. Die span van Adelaar kyk angstig na die skeidsregter. Die groen lig op die verhoog gaan aan.

“Brandwag het negentien punte en Adelaar agtien. Nou vir die laaste en finale vraag. Wie is die uitvoerende vervaardiger van die TV-sepie 7de Laan?”

Die deelnemers kyk geskok na die vraesteller. “Wat ’n simpel vraag,” fluister Jaco. “Daardie vrae van Ou Wessels. Dit was daarin,” fluister Sanet. “Dit is ’n Odendal-ou, maar ek kan nie sy naam onthou nie.” Esmé onthou ook die vraag. “Is hy nie André Odendal nie?” Ellen keer dat hulle die bieper druk. “André Odendal is ’n akteur. Die ou se naam is Danie, ek is seker daarvan.” Genadiglik is die span van Adelaar ook druk aan die bespiegel.

“Sal ons Ellen se antwoord gee?” Almal stem saam dat hulle geen ander keuse het nie. Hulle het skaars die bieper gedruk of Adelaar se span druk ook hulle bieper. Die skeidsregter beslis dat Brandwag eerste gedruk het.

“O vrek, ek hoop Ellen is reg.” Dit klink amper of Ulrich in trane gaan uitbars.

Ellen maak haar rug regop. Hierdie is haar oomblik: “Die antwoord is Danie Odendal!”

Almal staar gespanne na die groen en rooi ligte op die verhoog. Juffrou Wessels spring op en af van spanning. Dan gaan die groen lig aan.

“Die wenner van die vasvra-olimpiade van die Noord-Vrystaat is vir die tweede agtereenvolgende jaar … Brandwag Laerskool van Ventersdrif!”

Juffrou Wessels is oorstelp van opgewondenheid. Sy spring in Johnny Bravo se arms.
Sanet en die meisiekinders omhels mekaar. Die seuns high five mekaar en bloos skamerig as die meisies hulle drukkies gee.

Die ouers van die ander skole klap stemmig hande en ruk hulle nekke geskok om as ’n paar harde wolwefluite en gille van agter uit die saal kom. Dis Janus en Mamoeks wat hulle so stuitig gedra, maar Amo gee nie om oor al die aandag wat die twee trek nie. Hy gooi onbeskaamd vir Mamoeks ’n paar soene. Hy stuur dadelik ’n WhatsApp vir Jessie:

“Ons het gewen! Net vir jou het ons Adelaar se alies geskop!” Sy antwoord nie dadelik terug nie. Op pad terug hou hy sy foon dop. Hy kan sien Jessie het nog nie die boodskap gelees nie.

Sanet vra Ulrich of sy met hom kan ruil. Amo skop Ulrich teen die enkel oor hy instem. Vir wat wil die meisiekind langs hom kom sit?

“Ek hoor jy gaan by Jessie kuier?” Sanet lyk skrikkerig om daaroor te praat. Seker bang na sy tirade anderdag in die saal.

“Ons ry môreoggend.”

“Sal jy vir haar groete stuur? Ek bedoel dit regtig. Ek is jammer ek was so mislik die begin van die jaar.”

“Ek sal haar sê.”

“Is sy jou meisie?”

Amo kyk geskok na Sanet. Watse simpel vraag is dit?

“Sy is my Buddy.”

“O, is dit soos ’n beste maat?”

“Ja, ons is beste maats.”

“Ek is bly sy is nie jou meisie nie.”

Amo skrik hom lam toe Sanet hom ’n vinnige piksoen op die wang gee en na die agterkant van die bussie laat spaander. Hy kyk skaam rond of iemand anders dit gesien het. Almal is gelukkig besig om op hul fone speletjies te speel of om na musiek te luister.

Wat gaan aan met die meisiekind? Wonder Amo en hy voel hoe sy ore soos bete gloei. Hy besluit hy gaan vir niemand vertel wat gebeur het nie. Veral nie vir Jessie nie. Sy sal vir hom lag. Ook nie vir Mamoeks nie.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

15 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.