Op 19 Desember 2025 het die lewe kuns nageboots toe die Suid-Afrikaanse animasiefliek David in Noord-Amerikaanse teaters vrygestel is – dit was op dieselfde dag as Avatar: Fire and Ash, The SpongeBob Movie: Search for Squarepants, en The Housemaid.
Net vir konteks. Die eerste twee Avatar-flieks het die eerste en derde plek op die wêreldwye lokettrefferlys van alle tye beklee; en The Housemaid is ’n verwerking van Freida McFadden se topverkoper-riller, met Sydney Sweeney, IMDb se vyfde gewildste ster van 2025.

In David waag ’n jong skaapwagter dit om ’n tree vorentoe te neem wanneer die reus Goliat opstaan om ’n nasie te terroriseer. Die klong het slegs ’n slingervel, ’n paar klippe en onwrikbare geloof.
Dit was ’n yslike verrassing van Dawid teen Goliat-proporsies toe die Bybelse animasiefliek beide SpongeBob en The Housemaid in Noord-Amerika oortref en in die tweede plek beland het, net agter Avatar: Fire and Ash.
David, wat op meer as 3 000 skerms vrygestel is, het $22 miljoen by die naweek se plaaslike loket verdien.
Dit is die hoogste inkomste-openingsnaweek ooit in die VSA vir ’n godsdienstige animasiefliek. Dit was ook die beste opening vir ’n Suid-Afrikaanse fliek in Noord-Amerika sedert District 9 in 2009.
Vier weke later bly David steeds op die VSA se toptien, nadat dit meer as $75 miljoen in Amerika alleen verdien het. Phil Cunningham en Brent Dawes het die musikale epiese rolprent geregisseer. Albei is in Zimbabwe gebore en woon nou in Kaapstad. Hulle het meer as 400 plaaslike en internasionale kunstenaars en spanlede gelei, beide intern by Sunrise se ateljee in Noordhoek en op ’n afstand in 32 lande.
“Ná 30 jaar van droom, beplan, werk, misluk en weer probeer, is dit ongelooflik om die fliek daarbuite te sien,” sê Phil. “Ons het ons voorgeneem om ’n Arc De Triomphe te maak, ’n baken van inspirasie vir ons generasie, so dit is wonderlik om soveel stories te hoor van hoe die film mense werklik aanmoedig en inspireer. Dit is moeilik om die woorde te vind om die ongelooflike span te bedank wat soveel opgeoffer het om dit te laat gebeur.”
Sunrise se lof is herhaaldelik deur sommige van die wêreld se topmedia besing. Rotten Tomatoes se kritici-konsensus het die fliek se “pragtig geanimeerde agtergronde” geprys; The New York Times het die besonderhede “verrassend manjifiek” genoem; en Variety het David geprys as “ ’n skouspelagtige vertoonkas vir die tegniese vermoëns van die Suid-Afrikaanse animasiehuis Sunrise Productions”.
Terugvoering van die gehoor was net so goed: David het ’n A CinemaScore en ’n 98% Rotten Tomatoes-gehoortelling ontvang.
Die Grammy-benoemde Phil Wickham lei die rolverdeling as die volwasse David, wat ’n musiekstuk sing wat deur Joseph Trapanese (The Greatest Showman) gekomponeer is.

David bly op die skerm in Noord-Amerika en Suid-Afrika, met planne om die fliek teen 1 Januarie 2027 in 44 internasionale markte vry te stel.
Gaan kyk die fliek nou by Ster-Kinekor of Nu Metro.
KYK | David se lokprent

Lees ook: 5 redes om die tweede seisoen van Een keer om die son te kyk!




