kategorieë: Verhoudings

Swaai uit vir dié slaggate in jou verhouding

In die verliefde waas van daardie eerste wonderlike dae van ’n romantiese verhouding sou julle nie kon glo dat jul verhouding ook maar soms in ’n stormsee van probleme en verskille sou beland nie. Maar dit gebeur. En hoe julle mekaar en die storms hanteer, bepaal dikwels die rigting, gehalte en geluk van die verhouding.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Om die emosionele uitdagings van verhoudings te hanteer, is ’n kunsvorm en nie ’n wetenskap nie. Daarom berus dit op aanvoeling en sekere emosionele beginsels en nié op vaste reëls nie. Mense en situasies verskil, en elke situasie verg ’n fyn aanvoeling en eiesoortige hantering. Prof. John Gottman van die Amerikaanse Relationship Institute, het stewige verhoudings en ook dié wat skipbreuk ly, oor baie jare bestudeer en tot interessante gevolgtrekkings gekom. Dié sielkundige sê hy kan in gesprek met ’n paartjie binne minute met 91% akkuraatheid bepaal of die verhouding sal hou of nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die vier tekens wat volgens prof. Gottman op ’n voorspelde breuk dui, is:

  • Kritiek, sê hy, is méér as klagtes oor ’n bepaalde optrede, of iemand se gedrag, want dit is betreklik normaal in ’n verhouding. Met kritiek val jy die ander mens se karakter aan en dit lei dikwels tot die volgende optrede: minagting.
  • Minagting, sê prof. Gottman, is dié duidelikste teken dat ’n verhouding in ernstige moeilikheid is. Dan word verwerping, afkeer, selfs afgryse in die maat, deur sarkasme, sinisme, vernederende name, spot, smalende en vyandige opmerkings, geluide, of rol van die oë gekommunikeer.
  • Blamering of verdediging is gewoonlik ’n normale reaksie op kritiek, maar dit bring ’n paartjie nie nader aan ’n oplossing nie. Dit sê eerder: Jy is die probleem, nie ek nie, en dit verhoog die konflik.
  • Ignorering of onttrekking is dikwels ’n reaksie op kritiek, minagting en blaam. En as die gesprek boonop hard en rigied begin het, draai een maat die rug na die ander en reageer net nie. Dit laat mense magteloos voel en maak hulle net kwater. Mans is meer geneig om dit tedoen, terwyl vroue eerder kritiseer. Vir ’n suksesvolle langtermynverhouding het jy veel meer as liefde nodig. Jy het dinge nodig soos respek, goeie kommunikasie, vertroue, positiwiteit en die wysheid om te besef dat die meeste goed waaroor mense baklei nie die geveg werd is nie. Jy kan so maklik ’n geveg wen, maar die mens en die verhouding verloor.

’n Gelukkige verhouding gaan daaroor om die regte dinge te doen en te sê!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Trap die volgende slaggate so mis:

1 Die mooi dinge bly agterweë. Wanneer die verliefdheid taan, hou mense soms op om die liefdevolle en spesiale dinge te doen wat hulle juis na mekaar aangetrek het, en wat die boodskap “jy is vir my spesiaal” uitgestuur het.

2 Doen weer die dinge wat julle gedoen het toe julle gelukkig en verlief was: gaan eet uit, fliek, dans, koop sjokolade, stuur liefdevolle boodskappe…

3 Maak meer tyd vir mekaar en gesels ure lank; deel weer met mekaar die stories van jul dag, jul drome, herkoms, vrese en mislukkings.

4 Praat op ’n liefdevolle manier met mekaar. Gebruik weer liefdestaal en troetelnaampies. ’n Mens kry verskillende taalregisters: liefdevolle taal, neutrale taal en afbrekende seermaaktaal. Wanneer ’n mens kwaad word, skuif jy na ’n volgende register om jou woede en standpunt sterker uit te druk. Wanneer julle meestal liefdevol met mekaar praat, skuif jy in ’n verskil of geveg na neutrale taal, wat beteken dat ’n mens dit grootliks kan vermy om afbrekende seermaakgoed te sê.

Ek is reg. Jy is verkeerd!

  • Wanneer een persoon glo hy is reg en die ander een is verkeerd, is hulle geneig om mekaar nie werklik te hoor en te verstaan nie. Dan gaan die hele gesprek daaroor om jou brose ego te beskerm en jouself as reg en die ander een as verkeerd te bewys. Die hartseer is dat daar in so ’n benadering meestal net verloorders is. Jy kan dalk die argument wen, maar jou maat en die verhouding is dan verloorders.
  • Doen afstand van reg en verkeerd. Verander dit na: Ek het ’n ander mening as jy; ons is verskillend en sien en beleef dinge verskillend en het verskillende behoeftes. Dan is dit makliker om mekaar te hoor en kompromieë aan te gaan en oplossings te kry.
  • Fokus daarop om jou maat te verstaan en ’n oplossing te kry, eerder as op wie reg of verkeerd is.
  • Hou op verdedig.
  • Wees bereid om te verander en moenie die dinge doen wat jou maat dwars in die krop steek nie – ter wille van jul verhouding, jul liefde vir mekaar én die vrede!

Baklei jy vuil?

Wees emosioneel volwasse en gelykmatig om die dinge te vermy waarteen prof. Gottman waarsku:

1 Staak jou kritiek: “Jy is nie ’n man se agterent werd as jy nie eens ons huweliksherdenking kan onthou nie.” Maar jy kan en móét jou teleurstelling en ongelukkigheid uitspreek: “Ek is so hartseer en voel onbelangrik wanneer jy ons huweliksherdenking vergeet.” Fokus op jou gevoel en ervaring en op die ander persoon se optrede, en bly weg van veralgemenings oor iemand se karakter.

2 Stel jou behoefte eerder as om te kritiseer: “Is dit nou tyd om by die huis te kom? Jy gee jy nie ’n duit vir my om nie, dis net jou werk wat vir jou tel!” teenoor: “Ek mis jou en het behoefte aan meer tyd saam met jou.” Albei benaderings sê in wese dieselfde ding, maar die tweede benadering sal ’n gunstiger reaksie uitlok.

3 Vermy minagting en kies skoon en neutrale taal om ongelukkigheid uit te druk: Weerhou jou van skeldname, vloekery, kras, afbrekende en minagtende woorde en uitsprake.

4 Kommunikeer oop en eerlik: Antwoord jou maat as sy met jou praat, al is dit om te sê: “Ek dink ons moet die gesprek nou hier stop, want ons is ontsteld en kwaad en gaan dalk dinge sê wat seermaak. Kom ons praat weer wanneer ons albei kalm is.” En dan moet julle wel later die gesprek bedaard hervat en die probleem uitpluis. Maar moenie jou maat ignoreer en wegstap nie, of nog erger, vir dae met stilstuipe straf nie.

5 Erken jou foute ruiterlik en weerhou jou daarvan om jou maat vir al jul probleme te blameer. Slagoffers blameer altyd iets of iemand anders vir hul probleme.

6 Hanteer jul probleme in privaatheid. Moenie wasgoed in die openbaar was en jou maat voor mense verkleineer of aanvat nie.

7 Maak seker dat jy baie meer waardering, liefde en dankbaarheid as klagtes of kritiek uitspreek en wys. Dit bring sagtheid, intimiteit en toegeeflikheid in ’n verhouding.

Familie en vriende

Bloed is dikker as water. Jou maat se ma is haar ma. As jy negatief oor haar ouers voel en hulle kritiseer, raak jy aan ’n baie sensitiewe stukkie van haar, en verwerp jy ’n fundamentele deel van haar menswees en herkoms. Moeilike skoonfamilie is dikwels deel van die pakkie wat jy saam met jou geliefde gekies het en sy mense moet maar met deernis, liefde en respek behandel word. Vermy konflik met sy familie en vriende. Vertrou hom liewer om die konfliksituasies sonder jou inmenging te hanteer. Bepaal saam met jou maat sinvolle grense vir familie en vriende se betrokkenheid en aansprake op jul lewe.

Ou koeie

  • Kry oplossings vir jul probleme. Moenie keer op keer oor dieselfde ou koeie baklei of jou maat oor ou kwessies verwyt nie.
  • Moenie aanhou kla en teem oor dinge waaraan jy niks kan doen nie. Verander wat jy kan en moenie onnodig sukkel nie.
  • Aanvaar wat jy nie kan verander nie; dit kan vra om te leer om met dikwels moeilike omstandighede saam te leef; om ou wrokke te laat gaan; om vergifnis te vra en ander te vergewe.

Geld wat stom is

  • Geld is een van die grootste oorsake van konflik in verhoudings en ’n middel waarmee ander beheer en gemanipuleer word. Manipulasie en beheer is gevaarlike speletjies, want dis moeilik om ander te beheer sonder om hul behoeftes te verwerp.
  • Neem medeverantwoordelikheid en bepaal saam ’n begroting.
  • Kry praktiese oplossings vir finansiële verskille: As haar telefoonrekening te hoog is, laat sy dit uit haar deel van die begroting betaal.
  • Daar moet in albei se finansiële, sosiale en emosionele behoeftes voorsien word, daarom moet albei toegang tot geld en vryheid hê.
  • Dieselfde reëls moet vir albei partye geld.
  • Moenie jou wil aan jou maat opdwing nie, en sy doen en late, wat hy mag doen, eet, aantrek of waarheen hy wanneer mag gaan, probeer beheer nie – al glo jy dis beter. Dis nie goed vir sy selfbeeld nie, en beslis nie vir jul verhouding nie.

Sonder haakplek

Wanneer jy ’n motor koop, moet jy bereid wees om petrol in te gooi en te laat versien. Wanneer jy ’n baba kry, maak jy stink doeke skoon. Alles in die lewe wat die moeite werd is, vra onderhoud, insette en moeite om te groei en tot iets spesiaals te ontwikkel. Verhoudings ook.

  • Bring saam tyd deur en wend ’n poging aan om die verhouding te laat groei.
  • Lees boeke en artikels oor verhoudingsake. Woon verhoudingskursusse of lewensverrykingseminare by om jul kommunikasie te verbeter.
  • Gaan spreek ’n deskundige om leiding en raad en om nuwe vaardighede aan te leer wanneer gevaarligte flikker.
  • Gaan ’n slag sonder die kinders met vakansie.

Seks

  • Seks is die taal van intimiteit, en intimiteit gaan oor meer as seks.
  • Moenie seks weerhou, of as ’n wapen of ruilmiddel gebruik nie.
  • Gesels openlik met mekaar oor jul emosionele en intieme behoeftes, seksuele voorkeure en fantasieë sodat julle mekaar ken en verstaan.
  • Doen moeite om vir jou maat seksueel te gee waaraan sy behoefte het. Wat ’n mens vir ander gee, gee jy ook vir jouself.
  • Doen moeite om die vonk en opwinding in jul fisieke verhouding te hou. ’n Bietjie eksperimentering, waagmoed en afwisseling verrig wondere, want verandering van spyse gee mos eetlus. Dit sluit nie ’n derde persoon in nie.

Wantroue en ontrouheid

  • Wedersydse vertroue is een van die basiese boustene van ’n gesonde verhouding.
  • Vertrou jou maat. Wantroue en om onder gedurige kruisverhoor te wees en beheer te word, breek verhoudings en kommunikasie.
  • Doen wat jy belowe, en hou by die datums en ooreenkomste.
  • Wees openlik en moenie dinge wegsteek, of skelm agter jou maat se rug doen nie, dit skaad vertroue.
  • Skelm verhoudings of flirtasies is nooit ’n opsie nie.
  • Moenie skelm na pornografie kyk nie, of webtuistes besoek om mense te ontmoet om mee uit te gaan nie.

Prioriteite?

  • Dikwels is kinders ’n bron van konflik, veral in hersaamgestelde gesinne. Balanseer julle tyd vir mekaar met jul ouerlike en werkspligte.
  • Staan saam, al stem julle nie saam nie. Moenie toelaat dat kinders julle teen mekaar afspeel nie. Besluit saam oor dinge rakende die kinders, soos aktiwiteite, reëls, verantwoordelikhede en dissipline.
  • Stel mekaar se behoeftes eerste – bo die ander eise in jul lewe.
  • Probleme in verhoudings moet aandag kry, anders ly jy en die verhouding ernstig skade.

Lees ook: Hoe om die beste orgasmes en seksuele bevrediging op elke ouderdom te kry

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.