Donnalee het by Ivan geleer:
- Jy kan nie jou omstandighede kies of kies wat met jou gebeur nie, maar jy kan kies wat jy daarmee gaan doen en wat jy daaruit kan leer. Niemand word positief of negatief gebore nie, jy moet daagliks ‘n positiewe ingesteldheid kies! Dinge in hierdie lewe het net soveel krag as wat jy kies om dit te gee. Jy kies om swaar daaraan te dra of die beste daarvan te maak.

Ivan en Donnalee leer by hul kinders:
- When in doubt, dance it out. In ons veertigs lyk ‘n house party nou anders. In ons huis, speel ons lewendige musiek, spring op en af en dans op allerhande lekker en lawwe maniere! Veral omdat ons so baie tyd voor ‘n rekenaar spandeer, glo ons regtig in healing through movement. Dans, lag en laf-wees stel endorfiene vry, so ons is lief vir danspartytjies!
- Ons kinders is ons grootste leermeesters. Al wat regtig vir hulle saak maak is die hier en nou. So groot soos wat ons droom en so hard as wat ons werk om daardie drome na te jaag, vergeet mens soms om regtig teenwoordig teen wees wanneer dit ‘n realiteit word. Ons maak ‘n punt daarvan om hardop te erken wanneer ‘n droom waar word en spreek dankbaarheid daaroor uit, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie. Ons spreek lewe in ons drome!
Donnalee het by haar ma geleer:
- Mens gaan slaap nooit met grimering aan nie, maak nie saak hoe moeg jy na ‘n lang dag is nie. Ek was elke aand my gesig want al voel dit soos vreeslike moeite in die aand, is dit baie erger om met gister se grimering op jou gesig wakker te word.

Ivan voel sterk oor:
- Die lewe is eenvoudig net te kort vir 1 ply-toiletpapier!
Ivan en Donnalee oor hard werk en uitbranding:
- Beide van ons werk ontsettend hard en het a spirit of excellence, maar hoe ouer ons word, hoe meer besef ons dat uitbranding nie ‘n ereteken is wat ons wil dra nie. Ons is nou op ‘n punt in ons lewe waar ons rus, vakansies en uitstappies prioritiseer. Ons beplan net so deeglik daaraan, as wat ons aan werkskedules beplan.
Oor klein oorwinnings:
- Groter take en lang lysies kan mens maklik oorweldig, maar soos mens takie vir takie afhandel, kom mens later agter jy het ‘n magdom take vermag. So, ons vier ons klein oorwinnings en klink sommer ‘n koppie koffie as ons iets klein bereik het.
Oor hul huwelik:
- Ons sal nooit ophou hande vashou nie en date mekaar steeds! Of dit nou vinnig voor skool of ‘n naweek weg is, ons maak tyd vir mekaar en bou voortdurend aan ons verhouding.

Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Januarie-uitgawe móét lees!
