Trou mooi vir minder deur Anet Schoeman

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Op Instagram lyk alle troues soos ’n sprokie. Die bruidspaar glimlag liefies en die tafels kreun onder die kos en blomme. Niemand sien die massahisterie en stres wat die prentjie soms voorafgaan nie: ’n rok wat ’n week voor die troue nie pas nie, die troukoek met drie lae wat soos ’n kaartehuis inmekaartuimel, die fluisterpienk blommemeisierokkies wat toe as skelpienk opdaag …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die lys naelbytoomblikke is so lank soos die bruid se sleep. En die uitgawes ook.

Die jolige bymekaarkom van familie en vriende om die begin van twee mense se lewensreis te deel het, helaas, in ’n peperduur produksie ontaard.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Die meeste voornemende bruidspaartjies begin met die vaste voorneme om nie soveel geld aan ’n troue te bestee nie,” sê Rebecca Kooiker, wat al vier jaar lank as ’n troubeplanner werk.
Maar namate die gastelys groei, verander die prentjie en voor jy kan sê “rokke en ruikers” vloei die geld soos water.

Tog is daar heelwat slim planne om hierdie spesiale geleentheid goedkoper te maak.

Wenke om mooi vir minder te trou

1. Behou perspektief

Die troue duur net ’n paar uur, die huwelik ’n leeftyd. Moenie fokus verloor en ’n koning se losprys betaal vir ’n geleentheid wat so gou verby is nie. Jy kan eerder minder bestee en die res van die geld spaar vir ’n deposito op ’n huis.

Lees ook: Belê in jou huwelik

2. Hierdie een ding spaar altyd geld

Minder gaste is altyd goedkoper. Sela.

Lees ook: Geskei? Etiket vir funksies

3. Prioritiseer

Besluit water aspekte van die troue vir jou die belangrikste is: om jou vriende en familie daar te hê, kos en drank, rok, foto’s … Kies twee en maak die ander ondergeskik daaraan.

Lees ook: Die regte klere vir elke troue

4. Die belangrike B-woorde

Beplan deeglik en betyds. Daar is baie dinge wat jy en vriende en familie kan doen as jy betyds begin.

Lees ook: Sou jy weer met haar trou?

5. Begroot, begroot, begroot

Stel ’n begroting op en hou daarby. As jou begroting R10 000 vir ’n fotograaf toelaat, moenie na pakkette van R30 000 kyk nie.

Lees ook: Droomtroue in Italië

6. Tweedehands is slim

Wees op die uitkyk na tweedehande trourokke. Stillwhite.co.za is ’n goeie begin en jy kan pragtige ontwerpersrokke vir die helfte van die prys koop. Kyk ook by innovine.co.za, vintagelace.co.za, liliesandlace.co.za, dejavudresses.co.za en Gumtree.

#rrWenk: Die meeste ontwerpers reken ’n ruim naattoeling in vir synate sodat dit verstel kan word as die bruid net voor die troue gewig aansit. Vra gerus die eienaar of die rokke breë naattoelatings het sodat jy dit kan verstel as dit effe knap is.

Lees ook: Hekel vir jou troudag

7. Saterdae is duurder

Trou op ’n Vrydag, Sondag of in die middel van die week. Heelwat voorsieners en onthaalplekke bied dan ’n goedkoper tarief aan.

Lees ook: Die foto’s van ons wentroue

8. Ver ry kos geld

Trou naby. Haar- en grimeer-kunstenaars vra meer as dit ver is. Onthou ook dat dit soms jou gaste meer kos om na verafgeleë plekke toe te moet reis.

Lees ook: 5 dinge wat niemand jou vertel voordat jy trou nie

9. Daar is baie helpende hande

Vra vriende en familie om te help. Dalk is daar ’n tannie wat jou blomme kan doen, ’n amateurfotograaf onder jou vriende en ’n gewillige vriendin wat die koek sal bak. (Lees die afdeling hieronder oor “Goedkoop en fiasko”.)

Lees ook: Lize Vermeulen van Makietie-makers gee raad vir partytjies

10. Die nagevolge van ’n gevolg …

Strooimeisies en strooijonkers: As jou begroting knap is, los die gevolg, want hul klere kan ’n fortuin kos. Of kies net een van elk. Of bespreek dit vooraf met hulle en vra of hulle bereid sou wees om hul eie klere te koop.

Lees ook: Gaan jou huwelik ’n baba oorleef?

11. Los hierdie een ding uit

Vergeet van geskenkies vir die gaste. Troubeplanners sê wanneer hulle die volgende dag opruim, kry hulle die meeste van hierdie geskenkies vergete op die tafels.

Lees ook: Gee jou huwelik ’n tweede kans

12. Laat jou troukoek werk

Moenie ’n groot troukoek én poeding voorsit nie. Bedien die troukoek saam met koffie as poeding, of saam met vonkelwyn (pleks van versnaperings) terwyl die bruidspaar hul foto’s neem. Die koeksnyseremonie word dan afgehandel voor die fotosessie begin.

Lees ook: Jy kan jou vaal huwelik red

13. Vonkelwyn kan duur raak

’n Jenewer- en biervaatjie is goedkoper as vonkelwyn direk ná die seremonie.

14. Dink aan slim spyseniering

Hier is drie slim opsies vir alternatiewe en goedkoper maniere van spyseniering

  • Huur ’n private restaurant as onthaalplek. Alles is reeds daar, die plek lyk mooi en jy betaal net vir kos en drank.
  • Ondersoek die moontlikheid van Chinese spyseniering. Hulle kan vir groot groepe mense kos maak en dit kan ’n heerlike, “anderster” troue wees.
  • ’n Slim bruid het met ’n wynlandgoed op Wellington gereël dat hulle die troue kombineer met ’n wynproe vir tagtig mense met kaas, patees en brode. Die plegtigheid word in hul pragtige lokaal gehou en ná die toesprake en kaas en wyn is mense huis toe. Of nader ’n olyf- of blomplaas – hulle het ook pragtige lokale.

15. Bekostigbare blomme

Gebruik meer blare, fynbos en loof as blomme. Penny gum-blare met woestynrosies wat soos lopers op die tafels lê, lyk lieflik.

Of kry vriende om vooraf origami-ontwerpe te vou en dit tussen die blare te sit.

Reël vir ’n mooi houer met water sodat die bruidsmeisies hul ruikers daarin kan sit en dan dien dit boonop as versiering. As ’n vriendin jou blomme gaan doen, hou by seisoenale blomme en bestel dit vooraf by ’n blommewinkel sodat jy kry wat jy wil hê.

16. Maak jou eie konfetti

Konfetti is duur. Droog blomme soos lentebloeisels, maar moenie wit bloeisels gebruik nie – die blaartjies word maklik bruin – of gebruik penny gum- of wilde olyfblaartjies.

17. Maak seker die mense wat jou help, weet wat hulle doen

Net omdat jou gewillige vriendin ’n baasbakker is, beteken dit nie dat sy ondervinding van stapelkoeke het nie. Menige spogkoek het al op ’n warm dag in die Zimbabwe-ruïnes verander. Gaan steek kers op by ’n bakwinkel of google “how to stack a wedding cake”.

18. Pasop vir studente

Ligloop om studente as haar- en grimeerkunstenaars te gebruik. Jy weet nie wat jy gaan kry nie. Die geleentheid is eenmalig en jy kan ’n bloutjie loop weens hul gebrek aan ervaring.

19. DJs is duur

Vergeet van ’n DJ vir musiek. Maak vooraf speellyste op jou slimfoon en huur klanktoerusting, of kry ’n straatmusikant.

20. Dink daaraan om hierdie self te doen

Doen jou eie grimering. Gaan vir ’n grimeerles by ’n plek soos MAC en koop sommer al die grimering daar.

Lees ook: Jy kan self hierdie mooi style kry:

Romantiese visgraatvlegsel

Vinnige vlegsel-bolla

Pragtige haarknoop

Pragtige vlegsel-haarstyl

Die fyn lyn tussen goedkoop en fiasko

’n Aanvanklike besparing kan ook ’n fiasko word wat jy met dubbel die geld ’n dag voor die troue moet beredder.

  • As mense aanbied om die blomme- of strooimeisierokke te maak maak seker die klere is lank voor die tyd klaar.
  • Oefen vooraf om blomkransies te maak sodat jy nie dink jy gaan in ’n japtrap tien kan maak om aan die kerkbanke te hang en dan verg dit veel meer tyd nie.
  • Maak die blomme die dag voor die tyd en sit dit in koue water.

Loer hier vir stap vir stap aanwysings om kransies te maak.

Hier is ’n paar opsies vir goedkoper alternatiewe opsies vir jou troue

Dink nuut!

Soms is dit makliker om iets heel anders te doen as om ’n tradisionele troue goedkoper te doen. Huur ’n skuur op ’n plaas, kry koswaentjies wat hamburgers of pitas maak, of hou ’n piekniek op hooibale.

Hou net fyn boek van wat jý alles moet betaal en doen.

As jy stoele, tafels en breekgoed moet huur en aanry en die saal versier, kan dit ook ’n aardige bedraggie kos en baie spanning skep.

‘Pop Up’-troues is ’n oulike opsie

Rebecca Kooiker van Pop Up Weddings SA haal al die spanning uit troubeplanning deur net ’n segment van twee uur vir ’n weelderige troue te voorsien. ’n Prentjiemooi plek vir die trouseremonie, blomme, bruidsruiker, fotograaf, troukoek … alles wat jy nodig het om die huwelik te voltrek (vir 12 of ’n maksimum van 17 gaste). Al wat jy moet doen, is om op te daag. Daar is vasgestelde datums, tye en temas en vier troues word per dag gedoen.

Elke trougeselskap het twee eksklusiewe uur vir die seremonie, toesprake, koeksny, vonkelwyn en volle fotosessie – net soos by ’n gewone troue. Al wat afwesig is, is die onthaal. Jy en jou gaste kan agterna by ’n restaurant gaan eet waar elkeen vir homself betaal, of ’n kaas-en-wyn-partytjie by die huis hou.

Die koste vir ’n Pop Up-troue beloop R35 000 tot R35 850, afhangend van die aantal gaste. Dis ideaal vir paartjies wat graag iets spesiaals wil hê, maar nie lus het vir die tyd, drama en koste van ’n tradisionele troue nie.

Popupweddingsa.co.za

Wat jy moet weet oor weglooptroues

As jy ’n romantiese weglooptroue oorweeg, wees slim en betrek die familie.

Hou ’n lekker ontbyt vir dertig mense by ’n mooi plek en vertrek dan op jou weglooptroue.

So voel almal deel van die geleentheid en julle het steeds ’n intieme geleentheid sonder dat dit jare se familie-onmin skep. Besoek Runawayromance.com vir unieke weglooptroues.

Goedkoper foto’s moontlik!

Nader ’n troufotograaf en sê jy wil net ’n geleentheidspakket hê waar die fotograaf begin neem sodra die bruid in die kerk loop en tot ná die toesprake. Jy gaan steeds oorgenoeg foto’s hê. Selfs topfotograwe wat pakkette van meer as R30 000 aanbied, is bereid om dit vir tussen R5 000 en R8 000 te doen as dit naby is en hulle die trouplek ken.

Sommige fotograwe is bereid om op Vrydae, Sondae of in die middel van die week vir minder te werk. Hulle skiet ook graag unieke geleenthede sodat hulle dit as deel van hul portefeulje kan gebruik. As jy iets besonders doen, bied aan dat hulle die foto’s in artikels kan gebruik en beding ’n beter prys.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.