kategorieë: ReisOntspanning

Venesië vir beginners: deel 1

Die “universe” steek al vir jare ’n stokkie voor my besoek aan die stad van gondolas, waterstrate en baie bruggies.  Die eerste keer is ons halfpad op pad daarheen by Slovenië se grenspos van die bus af gegooi (dis ’n ander dag se storie) … Die tweede maal was daar ’n lugredery-staking. Boonop is Venesië letterlik twee uur se ry van een van my geliefde dorpies, Rovinj in Kroasië, waar ek al vele male gaan draai het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Vanjaar het ek my nie laat fnuik nie en van Zagreb af per bus soontoe gereis. Skaars ses uur met pragtige landskappe, en sommer ook ’n draai deur Slovenië. Die bus het by Mestre-hoofstasie in Venesië geland. Vandaar spring ’n mens op die trein na “VENESIЁ” en presies 8 minute later land jy reg langs die Grand Canal by San Lucia-stasie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

LW: Jy kan ook van die hoofstasie van enige Europese stad by Mestre-stasie aankom – google gerus.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Later die middag ontmoet ek my twee SA-vriendinne, al die pad uit die Kaap, by ons hotel. Dis nou as ek die hotel Al Duca di Venezia in die Santa Groce-distrik kan vind. Dit neem 45 min van slangetjies-en-leertjiestap voor ek die rooi banier van die hotel sien. Struikel daar in soos iemand wat die laaste paar treë van die Camino moes gee. Dit is ’n knus klein hotelletjie met net 14 kamers en ons het definitief die honeymoon suite gekry, want brokaat, fluweelrooi mure en goudbeslane kandelare glinster verleidelik in die skemerte as ek oopsluit. Die vriendinne land ook ’n uur of wat later met stoom om die ore en bloedrooi wange – moeg verdwaal. Later vind ons uit dis net ’n gewone trippelkamer en die derde bed hardloop heelnag op wieletjies. Nogtans bekostigbaar, met fantastiese diens.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

My grootste verrassing is hoe “klein” Venesië eintlik is – ja, alles gebeur links en regs van die Grand Canal. By die Piazalle Roma doen die meeste busse/trams van die vasteland af aan, en van hier kan jy letterlik stap tot by die heel laaste punt – links of regs. Waar ookal ’n kanaal oorgesteek moet word (170 van hulle) is daar ’n klein bruggie (400 altesaam) en verder kronkel jy deur piepklein, verkrummelde straatjies om elke nou en dan verras te word met ’n pragtige gebou, museum, kunsgalery of koffiewinkel. Die meeste geboue word net van die eerste vloer af bewoon aangesien die watervlak wat opstoot die grondverdiepings onbewoonbaar gemaak het.

Vaparetto-ry

Daar is Venesië vir stappers en dan is daar Venesië vir vaparetto-ryers. Laasgenoemde is die waterbote wat elke paar minute by een van die “stasies” aandoen oral langs die Grand Canal. Die koste van een kaartjie moedig jou glad nie aan om onnodig hiermee rond te rits nie (€12 per rit), maar daar is ook kaartjies beskikbaar vir 1, 2 of 3 dae. Die een vir drie dae kos 40€ en dagkaartjies laat jou ook toe om tot in Murano, Lido of Burano (drie nabygeleë eilande) te ry.

Venesië Kuns Biennale 2017

Die 57ste Internasionale Kunsuitstalling getiteld VIVA ARTE VIVA word vanjaar gehou. Dit word georganiseer deur La Biennale di Venizia. Die hoofuitstallings is oop vanaf 13 Mei tot 26 November 2017 by die Giardini en Arsenale-lokale. Daar is ook talle uitstallings in die historiese gedeelte van Venesië. Meer as 120 genooide kunstenaars uit 51 lande neem deel aan hierdie tweejaarlikse kunsgenot.

Elke saal, gebou of courtyard word gebruik vir kontemporêre kuns van die hoogste gehalte. Name soos David Hackney, Yoko Ono en Damien Hirst word op non-galante wyse op baniere en lamppaalplakkate rondgestrooi. Die kuns bekruip jou van oral – ’n groot rooi plastiekgorilla in ’n vyfsterhotel se venster, of reuse wit hande wat vanuit die kanaal verrys om ’n gebou “regop” te hou.

’n Vriendin van my neem vanjaar deel by die Kiribati Nasionale Paviljoen, Palazzo Mora, en die uitstalling is getiteld “Open Structures”. Elke vloer is gevul met beelde, moderne en soms selfs absurde kuns. Yoko Ono het my nog nooit vreeslik beïndruk nie, maar haar kamer met spieëls van elke grootte en vorm het my geraak – jy stap in en kyk na die spieëls wat elke deel van die vertrek vul en sien dan die glashouer met pen en papier raak. Die vraag om op jou stukkie papier te beantwoord: “How do you see yourself?” Jy raak deel van die kuns.

Kuns deur Yoko Ono

Marlene van Jaarsveld se deelname in bogenoemde gebou as deel van die Meadows Personal Structures-projek is kleurvol, fyn deurdag en briljant, nes sy, en ek voel sommer trots om ook ’n SA-naam daar raak te loop. ’n Ander uitstalling genaamd “Homeless” het strukture uit perspeks en blik. Dit bied ’n diep weergawe van hierdie wêreldwye dilemma.

Kunswerk deur Marlene van Jaarsveld

Die aftiklys

Ry die hele lengte van die kanaal op ’n vaparetto teen skemeraand. Begin by die Ponte degli Scalzi (Bridge of the Barefoot) naby die treinstasie en gly onderdeur die Rialtobrug en die groot houtbrug Ponte dell’ Accademia. Jy kry ’n kykie in die lewens van Venesiane met tafels wat gedek word en stoele wat weer opgepof word. Op een villa se stoep dans ’n bruidspaar geruisloos deur die gaste getooi in aandklere. Die silhoeëtte van geboue se liggies dobber op die water en as jy weer terugdraai, weet jy hoekom jy eenmaal hierheen moes kom.

Natuurlik moet jy by die Rialto-brug uitkom, vir ’n paar redes: selfies in die middel van die brug met die pragtige kanaal en sy grasieuse bote agter jou/die Rialto Mercator (mark) waar jy enigiets van Murano-glassleutelhouers en maskermagnete met hansworsklokkies tot groter leermaskers kan laat maak volgens jou eie gelaatstrekke. Jy neem ook waar hoe Venesiane kibbel by die vis- en varsprodukte-markte.

Reël no 1: Moet aan niks vat nie! Wys waarin jy belangstel en die handelaar sal dit met graagte vir jou uithaal.

Belangrik: vergeet vir een dag dat alles duur is en eet iets by die restaurantjies teen die kanaal. Jy is dalk net een keer in jou hele lewe daar – waarom wil jy nou broodrolletjies in jou hotelkamer afwurg? Ons tref een van die restaurantjies teen happy hour en kry ’n glas heerlike Prosecco gratis. Vonkelwyn, pizza en gondolas wat geruisloos verbywieg – wat meer kan ’n mens begeer?

Die San Marco-plein is ook een van die doendinge. Die reuseplein is besaai met Pakistani’s wat elektriese woer-woergoedjies in die lug laat opvlieg, cafébars met strykorkeste, en sulke duur drankies dat selfs die water jou sooibrand gee. Dus luister jy maar in die verbyloop, neem baie foto’s van die pragtige fresco’s op die buitemure van die St Mark’s Basilica, en as jy gelukkig is, sien jy ’n bruid oor die plein hardloop (’n bekende ritueel).

Kopies by die Strada Nova

Dwaal weg van die plein na die strate so ’n entjie boontoe, bekend as Le Mercerie. Verder af in die rigting van Canareggio is die Strada Nova. Dis die area en strate vir die groot shopping-ondervinding en as jy nog net van Louis Vuitton, Max Mara en Dolce & Gabbana in die haarsalon se omgekrulde tydskrifte gelees het, is dit die plek om neus teen die ruit te loop. Elke ontwerper se winkeluitstalling is ’n skildery op sy eie en as ons skoorvoetend die D&G-winkel instap, verwag ek enige tyd ’n stywelip verkoopsdametjie wat ons die deur gaan wys. Gelukkig is daar ’n oulike, fynbesnaarde seun wie se ma seker ook nie by die winkels koop nie. Hy ontvang ons vriendelik en sprak g’n sprook oor die nommertjies wat ons duidelik nie gaan pas nie. Later oor ’n glasie Aperol Spritz (die nasionale drankie van die Italianers blyk dit) sien ek ’n vietse dame verbydartel met D&G van kop tot tone. Ek kyk met nuwe respek na haar gade –  hy is pas R30 000 tot R40 000 armer.

Beatrix, Merlene en Daphne

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.