kategorieë: Verhoudings

Vir ewig en altyd? Lê die fondament vir ’n gelukkige huwelik

Julle is verlief en dis al wat nou saak maak. Julle het mekaar met sterre in die oë die jawoord gegee en julle daarmee tot ’n lewenslange huwelik vol liefde en geluk verbind. Die fokus is op die troue en julle bestee soveel tyd en energie daaraan; praat ure lank daaroor; beplan alles haarfyn. Dan is dit maklik om te dink die huwelik is ’n lang, romantiese en gelukkige wittebrood, want dis hoe alles nou voel en lyk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Maar vir ’n lewenslange huwelik is daar is veel meer voorbereidings nodig as net die trourok, die gastelys, die wittebrood en waar julle gaan bly. Doen julle dit nie, kan daardie liefdesvlammetjie wat nou so passievol en helder brand binne ’n jaar of twee taan of selfs uitdoof.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

As mense maar soveel tyd, aandag, energie en selfs geld kon bestee om hulle op die huwelik voor te berei, sou baie paartjies die huweliksgeluk wat hulle so begeer wel ervaar. Voor die troue is juis die tyd om die fondament vir ’n gelukkige huwelik te lê.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Baie paartjies betree die huwelik onvoorbereid. Hul verwagtinge is onrealisties, hulle ken mekaar nie werklik nie en hul rolle en doelwitte is ongedefinieerd. Hulle het dikwels ook nie die emosionele vaardighede nie, of het nie rolmodelle gehad om sinvol vir mekaar te kan gee wat werklik nodig is om die verhouding te laat werk nie.

Paartjies moet besef die liefde verg konstante aandag en werk. As jy verlief is, word die verhouding deur romantiese liefde gedryf. Cornelia Swart, ’n huweliksterapeut, onderskei tussen romantiese liefde, vriendskapsliefde en toewydingsliefde.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Navorsing toon dat die aanvanklike romantiese fase veral in die eerste maande deur talle bedwelmende hormone aangehelp en aangevuur word. Testosteroonafskeidings verhoog mans en vroue se seksuele aangetrokkenheid en behoefte. Dopamien en norepinefrien gee verhoogde obsessionele gevoelens van vreugde en ekstase. Dan bewerk fenieletielamien ’n behoefte aan nabyheid, en oksitosien en vasopressien gee ’n kalm, hegte en intieme band soortgelyk aan wat ’n borsvoedende ma en haar baba ervaar. Die afskeiding van dié hormone bring aanvanklik intense gevoelens van verliefdheid, wat mense se oordeel en gedrag verander. Maar dis ongelukkig tydelik, want die intensiteit daarvan neem binne die eerste twee jaar dramaties af.

In die romantiese fase ervaar mense ’n euforiese, energieke en passievolle verbintenis. Hulle het verhoogde seksuele gevoelens en die geliefde oorheers hul emosies en gedagtes. Hulle gee hul beste self vir die ander een en sien die beste eienskappe van die geliefde raak.

Cornelia sê ’n verhouding is in die moeilikheid as romantiese liefde die enigste grondslag is vir ’n paartjie se besluit om te trou. Hulle moet ook vriendskapsliefde en toewydingsliefde ontwikkel en ervaar.

In vriendskapliefde gaan dit daaroor dat die paartjie dinge deel, dit geniet om dinge saam te doen en sonder pretensie kan speel. Hulle deel hul drome, vrese, mislukkings en hoogtepunte met weerlose eerlikheid met mekaar. Hulle heg waarde aan hul maat se mening en perspektief en gee werklik vir die ander een se welstand om. Hierdie liefde maak die huwelik gesond en gelukkig.

In toewydingsliefde gaan dit oor die wilsbesluit wat paartjies neem om permanensie aan die verhouding te gee en nie net oor gevoelens nie. Dit gaan oor meer as net ek of jy, dit gaan oor óns. Dit gaan oor volle toewyding aan getrouheid; dat ons permanent net aan mekaar behoort. Hierdie liefde laat die verhouding hou.

Mense in die romantiese staat van verliefdheid word verswelg deur die emosie daarvan en bestee nie altyd tyd daaraan en kry genoeg afstand om eerlik te besluit of die maat reg vir jou is nie. Dis belangrik om te weet wat die huwelik vir elkeen van julle beteken. As jy twyfel, of ander waarsku jou, moenie jou twyfel of die waarskuwings sommer in die wind slaan nie. Praat met mense en kundiges oor jou twyfel, of woon saam ’n kursus by.

Gevaartekens vir ’n langtermynverhouding

• Alkohol en middelmisbruik
• Fisieke geweld en mishandeling
• Beherende gedrag – jy mag nie dit of dat doen nie
• As mense nie vriende het nie, of glad nie met hul familie en kollegas oor die weg kom nie
• As hulle glad nie ’n werk kan hou nie
• Wanneer daar emosionele of persoonlikheidspatologie is wat nie behandel word nie, en waarin hulle geen insig het nie.
Die fisieke wys en ervaar van liefde en eerlikheid is belangrike boustene om enige verhouding te laat werk. ’n Paartjie moet soveel inligting moontlik met mekaar deel. Hulle moet sonder om vir die ander persoon se reaksie te vrees eerlik kan wees oor hul emosies, hul gewoontes, hul voorkeure en afkere, hul finansies, hul vriendskappe en ander verhoudings, hul verlede, hul daaglikse aktiwiteite en hul planne vir die toekoms.

Kry vooraf uitsluitsel hieroor

’n Huwelikskontrak: Gaan spreek saam ’n kundige met ’n regsagtergrond wat goeie leiding kan gee, want elke paartjie se omstandighede is uniek met unieke behoeftes en eise. Hoe lyk die kontrak rakende die besit van eiendomme, motors, beleggings, geld?

Finansies: Dis dikwels ’n bitter strydpunt in huwelike. Hoe werk ons begroting? Waaraan en hoe bestee ons geld? Wie beheer die finansies, of watter deel van die finansies? Watter bates en hoeveel skuld het elkeen? Een bankrekening of twee? Watter betekenis heg julle aan geld en waarvoor dit gebruik moet word?

Kinders: Wil julle kinders hê? Hoeveel? Wanneer? Hoe gaan julle hulle grootmaak? Volgens watter waardes en watter ouerskapstyl? Wil julle jul loopbane opoffer om meer tyd saam met die kinders deur te bring? Wie gaan dit doen en op watter grondslag?

Aktiwiteite wat julle saam gaan doen: afsprake net vir julle twee? Tye met familie en kinders, religieuse aktiwiteite, projekte, sport en ander aktiwiteite?

Aktiwiteite waar julle mekaar ruimte gee om afsonderlik te doen: werk, sport, verdere studie, ontspanning, kuier met eie vriende?

Elkeen se lewenstyl en gewoontes: Hoeveel tyd bring elkeen voor die televisie, die rekenaar, iPad, of op die foon deur? Is rook en drankgebruik vir jou aanvaarbaar? Hoe dink julle oor gesondheid, kos en oefening?

Verwagtinge en denke oor seks: Hoe dink en voel julle oor ander seksuele verhoudings – is dit aanvaarbaar of taboe? Bespreek kwessies soos masturbasie, pornografie, ander seksuele fantasieë en praktyke. Wat is regtig jul seksuele behoeftes, voorkeure en wat is vir elkeen lekker? Wie doen die aanvoorwerk? Wat is jou maat se seksuele verlede en watter impak kan dit op die verhouding hê?

Die verlede: Die huis waarin elkeen grootgeword het; die verhouding met die ouers en die impak daarvan op elkeen; vorige verhoudings; finansiële en werksgeskiedenis; mediese en psigiatriese gesiedenis.

Die rol en verhouding met ouers en skoonouers: Hoeveel tyd gaan julle saam met hulle deurbring en wanneer. Wat is ouers en skoonouers se verwagtinge van julle, en wat is jul verwagtinge van hulle?

Verwagtings oor huishoudelike take en rolle: Wie gaan wat doen? Hoe raak dit elkeen se beroep en ambisie? Wat is verwagtinge oor die styl, netheid en organisasie van die huis?

Kommunikasie, waardes en beginsels vir jul huwelik: Hoe gaan julle verskille en konflik hanteer? Kan elkeen foute erken en jammer sê, of speel een of albei manipulerende speletjies? Hoor en verstaan julle mekaar?

Godsdiens: Kan julle oor jul geloof en spiritualiteit praat en mekaar ruimte daarvoor gee?

Behoeftes: Wat is die maat se primêre en emosionele behoeftes? Wat is sy of haar liefdestaal?

Hierdie besprekings help ’n mens ook om die verhouding se sterktes en potensiële gevare (of groeigebiede) te identifiseer. Hierdeur ontwikkel julle openheid en bepaal julle reeds voor die huwelik die beginsels vir jul samesyn. Dis baie makliker om oor hierdie goed te onderhandel as julle op ’n liefdevolle en positiewe plek in die verhouding is. Dit voorkom konflik en onmin en leer julle om mekaar met goeie kommunikasievaardighede in ag te neem. Dit verseker ook dat julle nie met onrealistiese verwagtinge in die huwelik instap nie.

In verliefdheid bespreek mense dikwels nie die dinge nie omdat alles dan so goed gaan en so lekker en reg voel. Of hulle dink dit sal klink of hulle die ander een nie vertrou nie en dan bespreek hulle nie belangrike kwessies nie. En dit veroorsaak juis later bittere ongelukkigheid en konflik.

’n Huwelikvoorbereidingskursus is van onskatbare waarde en ’n groot geskenk wat ouers hul kinders of ’n paartjie mekaar as trougeskenk kan gee.

’n Goeie kursus sal verseker dat al die kwessies hanteer word. Dit voorkom konflik en leer hulle om konflik te hanteer. Dit bemagtig die paartjie om die vaardighede te ontwikkel om doeltreffend met mekaar te kan kommunikeer. Dit gee hulle vaardighede om die gevoel van liefde lewend te hou. En dit gee aandag aan hul vrese of die huwelik regtig kan werk.

Cornelia Swart sê die belangrikste dinge wat paartjies moet leer, is om werklik na mekaar te luister, werklik hul emosies en verwagtinge te kan deel en mekaar waarlik te ken. Wanneer mense verskil, hoor hulle dikwels nie wat die ander een sê en voel nie. Hulle wil net hê die ander een moet soos hy voel en dink. Emosies word ontlaai en bestuur as elkeen ervaar dat hy gehoor word en dat daar ruimte en erken-ning vir elkeen se mening, behoeftes en perspektief is.

Berei jou vir die huwelik voor

• Woon ’n huweliksvoorbereidingskursus by of gaan spreek saam ’n huweliksterapeut of sielkundige en maak seker dat julle goeie kommunikasievaardighede ontwikkel, en mekaar werklik ken en verstaan.
• Lees saam en bespreek boeke oor die huwelik en voorbereiding vir die huwelik, of kyk saam na sulke video’s.
• Vul huweliksvoorbereidingsvraelyste soos © Roy Sheppard 2009 Pre-Marriage Due Diligence Checklist eerlik in en bespreek dit met mekaar. Dis gratis op die Internet beskikbaar.
• Voer eerlike dieptegesprekke oor die huwelik: oor jul verwagtinge, verantwoordelikhede en rolle.
• Spreek professionele mense oor regs- en finansiële aspekte soos die huwelikskontrak, finansiële beplanning en besluite, polisse, testament en eiendombestuur.


Boeke of artikels om te lees

• All-in-One Marriage Prep deur Suzanne M Alexander
• 365 Questions for Couples deur Michael J Beck en Seanna Beck
• The Hard Questions: 100 Essential Questions to ask before you say ‘I do’ deur Susan Piver

Huweliksvoorbereidingskursusse

• Imago-terapiekursusse
• Lewensverryking Seminare
• Emotional focused couple therapy
• Emotional Centred Couple therapy
• Eie ontwikkelde kursusse deur huweliksterapeute soos Cornelia Swart Telnr.083 6255 685 / www.premaritalcounselling.co.za

Maak net seker dat die persoon wat die kursus aanbied ervare en goed opgelei is.

Jy moet vooraf weet of julle dinge kan oplos en uitpraat, of anders moet jy werklik baie katvoet wees vir ’n huwelik… jakkals verander nie sommer van haar, streek of kleur nie. Die eienskappe wat verhoudinge maak werk, is respek, eerlikheid, betroubaarheid, vertroue, getrouheid, hulpvaardigheid, openheid, goedharigheid en dankbaarheid. En die dinge wat verhoudinge vernietig is voortdurende kritiek, minagting, vernedering, blamering, beheer, aggressiewe uitbarstings en emosionele en fisieke ignorering en onttrekking.

Dis so belangrik dat huweliksmaats aan mekaar moet sê waarom hulle mekaar kies. Wat dit is wat jou vir my so spesiaal maak, dat ek niemand anders begeer nie! Wat waardeer ek. Wat bewonder ek … wat is dit van jou wat my betower! En dat ek in hierdie verhouding myself en my toekoms en geluk in jou hande vertrou.

Die seksualiteit en die passie in ’n verhouding verander. Die uitdaging is om ’n balans te vind tussen ’n gesonde afstand en konneksie met mekaar, om nuut en begeerlik vir mekaar te bly en voortdurend romantiese en intieme situasies te skep. In die volhoudende intieme gesprekke, fisiese liefdesrituele en deel met mekaar lê die geheim wat jou huwelik sal maak werk … as albei na jare steeds geliefd voel … dan bly die engele sing, die sterre skyn … die glimlag in ons oë en om ons mond en die hemel in ons huis, bed en harte! Dan verstaan ons iets van die ewigheid en die hemel!

Lees ook: Swaai uit vir dié slaggate in jou verhouding

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.