kategorieë: LeesOntspanning

Vlam hoofstuk 54: Slot

Vlam hoofstuk 54: Slot deur Martie Swanepoel. Hooffoto: iStock/Oleh_Slobodeniuk

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Voordat jy Vlam hoofstuk 54: Slot lees, moet jy eers opvang met die vorige hoofstukke! Klik hier om van die begin af te lees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vlam hoofstuk 54: Slot

Onder ‘n koelteboom in die snikhete namiddag in Angola speel ‘n rolprent in die kleine voor Niekie af. ‘n Tragiese verhaal. Die storie van ‘n klein seuntjie wat in ‘n weermagkamp in Suid-Afrika grootgeword het onder die sadistiese heerskappy van ‘n wrede, dronk pa.

Sy hoor hoe die seuntjie en sy ma na haar Franse vaderland gevlug het vir ‘n nuwe begin en hoe die pa later selfmoord gepleeg het.

Marco en Duard se hegte band is in die Franse Vreemde Legioene gesmee. Die legioene het Duard die geleentheid gegee om ‘n nuwe identiteit op te bou. Hy het as Ewerard du Preez daar ingestap en as Duard Wayne daar uitgestap.

Hy het Melissa ontmoet en haar pa het die Hollywood-deure vir die paartjie oopgemaak.

Eintlik ken sy die storie oor die seuntjie in die weermagkamp baie goed. Haar pa het dit een keer vir haar vertel. Nou weet sy hoekom haar pa se houding so skielik teenoor Duard verander het. Hy is Ewie se seun.

Hoe vreemd is die toeval van gebeure? Hoekom moes juis sy gekies word om by die Border War Patrol-rolprent betrokke te wees? En die toeval dat Marco Duard ken? Die noodlot speel soms ‘n vreemde spel met mense se lewens.

Sy gaan sit later met ‘n beker koffie langs haar pa.

“Ek weet nou wie Duard regtig is.”

Haar pa se gesig versag.

“Ek is bly. Die grensfliek het uiteindelik ‘n einde kom maak aan die grensoorlog wat al die jare nog in my kop woed. Ek kon vrede maak met Ewie. Die recce waarop ek en Duard en Alano was, was nodig. Ons het teruggegaan na waar dit gebeur het en al drie met vrede in ons harte teruggekom. Dit was nie maklik vir Duard nie. Gee die ou ‘n kans. Moenie so hard wees op hom nie.”

Na middagtee begin die tonele waarteen Niekie die meeste opsien. Die liefdestonele. Sy staan en kyk hoe Duard en Melissa soos ou geoefende geliefdes voor die kameras vry dat die stoom trek.

Tussen die skote vang Melissa haar oog. Sy kan die snedige spot op die aktrise se gesig sien. Sy wens sy kan vir haar skree, “Toemaar, jy het gewen. Kry hom nou maar vir jou!”

Niekie het die hele dag geen oogkontak met Duard gemaak nie. Sy glo hy probeer haar ook doelbewus vermy na die oggend se kaal-eskapade.

Na aandete gaan stort sy en sluit haarself toe in haar woonwa sodat sy haar wonde in vrede kan lek.

Sy lees die nuuste nuus op twitter en drink die een glas wyn na die ander. Dan skok ‘n twiet haar tot stilstand. Die tydskrif Soetlief kondig eksklusief Duard Wayne en Melissa se verlowing aan! Hulle bron is glo iemand na aan die paartjie!

Sy voel soos ‘n gek omdat sy heeldag so sleg voel oor haar verlore liefde. Dis ‘n liefde wat sy eintlik nooit gehad het nie!

Haar hart skeur weer oor ‘n man, een wat sekerlik al weke lank sy verlowing beplan. Weke waarin hy met haar geflirt het! Hoe verkeerd is Marco en haar pa nie oor Duard nie! En Henk.

Na die ontvoerdrama het Henk haar probeer oortuig Duard is ‘n goeie ou. Henk, en Pieta!

Intussen is Duard Wayne glibberiger as wat almal dink. Ja, hy het ‘n hartseer verlede en sy is jammer vir hom en sy ma. Maar kyk wat doen hy nou? Is dit hoe ‘n edele man optree? Arme Melissa! Sy gaan met ‘n man trou wat agter haar rug flirt!

Sy voel nie eens skuldig dat sy die hele bottel wyn alleen uit drink nie. Sy het dit nodig om haar hart te kalmeer. Sy voel soos ‘n groot gek. Sedert sy aan die projek van die fliek begin werk het, het sy die een krater na die ander van haarself gemaak. Maar nou is sy die grootste gek ooit!

In haar wyn-aangedrewe verdriet weet sy een ding: Sy gaan nooit daardie voorstedelike droom kry nie, want naas haar pa, Pieta en Henk kan sy geen man vertrou nie. Marco en Duard het haar finaal van mans genees.

‘n Boodskap flits oor haar selfoonskerm. “Gaan jy ons nie kom geluk wens nie? Ek het jou mos gewaarsku om jou onervare handjies van Duard af te hou!”

Moet Melissa die ellende invryf?

Sy raak verdrietig aan die slaap. In die middel van die nag is daar weer ‘n kloppie aan haar deur. Kan Marco haar nie maar net uitlos nie? Sy ruk die deur oop.

“O, ek is bly om te sien jy het wel klere aan!”

Duard druk verby haar en kom ongenooid binne.

“Dis nie ek wat vanoggend kaal was nie.”

Duard gaan sit op Marco se onopgemaakte bed.

“Ek weet. Hoekom ruik dit soos ‘n wynvat hier binne?”

Hy kyk na die leë wynbottel.

“Gelukkig is die woonwa te klein vir wawiele. Dis mos wat jy doen as jy dronkverdriet het?”

Sy besef nou hy praat net Afrikaans, maar sy maak geen aanmerking daaroor nie.

Sy draai selfbewus ‘n laken om haar lyf om haar verweerde slaapbroek en flenter T-hemp weg te steek.

“Marco …”

Sy onderbreek hom.

“Hy het in die nag hier aangekom en het net slaapplek gesoek. Nie dat ek dit aan jou hoef te verduidelik nie. Jy is immers ‘n verloofde man.”

Hy sit regop.

“Verloof?”

“Ja, julle verlowing is op Twitter aangekondig. Jy en Melissa s’n.”

Duard lag lekker.

“Ai, Melissa en die vervaardigers en hulle publisiteitsfoefies. Het hulle toe sowaar daai een getrek nadat ek vir hulle gesê het ek speel nie saam nie? Melissa en die vervaardigers probeer al maande almal oortuig ons het steeds ‘n verhouding ter wille van publisiteit vir die fliek. Ons is al ‘n paar jaar net vriende. Sy het juis die nag toe jy gebel het weer by my kom afpak nadat een van haar boyfriends haar gelos het. Ons het goeie tye in ons jeug gehad en ek is dankbaar vir die deure wat haar pa vir my oopgemaak het. Maar dis nou verby. Ek sal more met die vervaardigers praat. Hulle sal dit moet regstel.”

Niekie is nie heeltemal oortuig nie.

“Kan ek vir jou swart koffie gaan maak om jou nugter te kry? Ons het ernstige sake om oor te praat.”

Sy vererg haar.

“Ek kan ‘n paar glase wyn hanteer, ek is ‘n joernalis. Ek is by my volle positiewe, dankie. Ek is meer as bewus van wat om my aangaan, en ek is nie meer lus vir nonsens nie.”

Hy neem haar aan die arm en sy stap onwillig saam tot by die kombuistent.

“Maak los die laken. Jy lyk nogal sexy in daardie outfit.”

Haar sin vir humor is nie goed in die middel van die nag nie en sy vou die laken stywer.

Duard maak koffie.

“Terloops, Marco slaap nog altyd kaal, ek was in die Franse Vreemde Legioene in dieselfde bunker as hy. Ons manne het nie een sy slaapgewoontes waardeer nie. Lyk my ek en jy sukkel maar met die moeilike eks geliefdes?”

Hy kyk na haar asof hy haar aandag daarop wil vestig dat hy een van sy groot geheime uitgelap het.

“O, die Legioene, nou verstaan ek jou oorlogpakkie die aand van die ontvoering. Wat wou jy bewys deur by die polisie se ondersoek in te meng? En my kamma te red? Ag asseblief, was dit nie bietjie dramaties nie? Lyk my jy kan nie meer onderskei tussen ‘n draaiboek en die werklike lewe nie? Ek is bly ons is nou alleen. Ek wil jou sommer mooi vertel wat ek van jou dink. Ek is nie een van jou Hollywood-poppies met wie jy net kan flirt en my dan weggooi nie. Voortaan bly jy weg van my. Jy is bad news vir ‘n vrou, Duard Wayne!”

Duard kom staan teenaan haar.

Sy oë vonkel.

“Ditsem, daar is my kwaai Vlam nou! Ek weet presies wat jy voor die fliek van my gedink het. Jou pa het my vertel hoe julle twee al die jare gedink het ek is ‘n wannabe-soldaat. Hy is ‘n fantastiese mens, jou pa. Hy was saam met my pa in die army hier in Suid-Afrika. Hulle was beste buddies. Tot my pa uitgehaak het. Jy ken seker die storie van Ewie? Wel, ek is Ewerard du Preez, sy seun.”

Duard lyk skielik kwesbaar.

Sy onthou haar belofte aan Marco. Sy sal nie uitlap dat sy reeds alles van sy verlede weet nie.

“Ek dog jy praat nie oor jou verlede nie?”

Hy vou sy arm om haar skouers.

“Ek praat met jou daaroor. Ek wil hê jy moet alles van my weet.”

Sy voel ‘n gloed van opwinding oor haar spoel, maar sy probeer dit onderdruk. Sy vertrou hom nog glad nie.

“Hierdie gaan my laaste fliek wees. Ek gaan uittree na hierdie fliek.”

Sy weet nie hoe om al hierdie nuwe inligting te hanteer nie.

“Waar gaan jy bly? Amerika? Frankryk?”

“Na my ma se dood is daar niks meer in Frankryk vir my nie. Dis tyd dat ek na my geboorteland terugkeer. Ek wil graag ‘n nuwe begin hier maak.”

Dis baie inligting om te hanteer in die middel van die nag.

“Hoekom vertel jy vir my al hierdie goed?”

Hy vou haar toe in sy arms.

“Want ek wil in ‘n voorstedelike huis bly met ‘n rooikopvrou en baie rooikopkinders.”

Die vlinders in haar maag vlieg verwoed. Party vlug na haar brein en sy voel hoe die waarskuwende stemmetjie in haar kop op vlug slaan.

“Miskien het ek te veel wyn gedrink.”

Hy soen haar op beide wange.

“O, is jy weer op ‘n trip soos daardie dag in die hospitaal? Ek hou daarvan as jy op ‘n trip is. Jy is skreeusnaaks.”

Hy buig vooroor en soen haar in die nek.

Dan sag en dringend op die mond.

Sy laat val die laken en staan op haar tone.

Sy gooi haar hande om sy nek.

Hoekom het sy geen selfbeheersing as hierdie slymbol naby is nie?

“Jy smokkel met my kop, Niekie Branders,” sê die man wat haar hele hart gryp en daarmee weghardloop.

Sy gee haar oor aan sy soene.

Soos die aand van die gyselaardrama, maar dié keer swiep die emosie en haar hormone haar van haar voete af.

Haar kop sweef tot bo by die sterre terwyl hy haar terugdra na haar woonwa.

As jy Vlam hoofstuk 54: Slot geniet het, sal jy beslis ons twee vervolgverhaalvoorlesings geniet! Klik hier om na Botox, Barbies en Bietse te luister, en hier om na Dans met die rooi rok te luister.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.