Maak seker jy word nie ‘n slagoffer van hierdie algemene wanopvattings nie:
-
Jy kan nie verbruin (tan) as jy sonroom aansmeer nie
ONWAAR | Enige blootstelling aan die son veroorsaak dat jou velselle in verdediging gaan, of jy nou son- room dra of nie. Die oomblik wat jy aan die son blootgestel word, begin jou selle meer melanien vervaardig om jou vel te beskerm. Dit is wat ons ken as ‘n tan, maar wat eintlik net sigbare sonskade is. Sonroom keer nie hierdie proses nie, maar sal wel help dat jy nie so maklik brand nie, en beskerm jou vel teen veroudering (maar sluit dit nie uit nie).
-
As jy gebrand het, sal dit in ‘n tan verander
WAAR | Dis waar, maar slegs omdat jou vel reeds blootstelling aan die son gekry het en dus beskadig is. As jy slegs vyf keer in jou lewe al sleg gebrand het, verhoog dit jou kanse met 80% om melanoom te ontwikkel. Is dit die risiko werd? Definitief nie.
-
As jy wil verbruin, moet jy olie gebruik
ONWAAR | Olie is gevaarlik. Vroeër jare het mense graag al wat ‘n olie is (sonder SBF) gebruik om ure lank in die son te lê, en vandag kan jy die gevolge duidelik sien. Dis soos om ‘n vergrootglas tussen jou vel en die son te sit. Deesdae is die son ook heelwat gevaarliker. Daar’s baie meer besoedeling en vrye radikale wat ‘n mens in ag moet neem. Formules het gelukkig heelwat verbeter en daar is dus geen verskoning om baba-olie te gebruik nie.
-
Ek hoef nie sonroom in die winter of as dit bewolk is, aan te smeer nie
ONWAAR | Jy mag dalk nie die fisieke hitte van die son op jou vel voel nie, maar die son en UV-strale is steeds daar en kan jou vel beskadig.
-
‘n Sonbed is ‘n veiliger manier om te verbruin omdat ek dan die son vermy
ONWAAR | ‘n Sonbed straal meer UV-strale uit as die son, maar net in ‘n korter tydperk. Dit beteken jou vel doen baie meer skade op. Sonbeddens word dikwels deesdae verbied omdat dit skade veroorsaak en daar soveel wanopvattings daaroor bestaan.
Lees ook: Hou vlieë uit jou huis! Hier’s 10 afskrikmiddels wat jy self kan maak
