Francois Boyce, die geliefde sanger, liedjieskrywer en radio-omroeper, het onlangs ’n kragtige nuwe weergawe van die lied “Asemrowend” vrygestel. Dié verwerking is egter nie net nog ’n enkelsnit nie: dit is ’n huldeblyk en fondsinsamelingsprojek ten bate van sy vriend, die gospelsanger Leon Ferreira, wat tans ’n dapper stryd teen aggressiewe prostaatkanker voer.
“Hierdie liedjie is oorspronklik deur Leon opgeneem en is een van sy mooiste liedjies,” vertel Francois. “Die woorde het my hart geraak en beskryf presies hoe ek self God beleef. Uit ’n musikale oogpunt gaan sit die melodie in jou kop vas en ’n mens kry dit nie uit nie.”
Volgens Francois, wat met Leon se musiek in die huis grootgeword het, het hulle vriende geword nadat hy en die Grammy-benoemde vervaardiger Neville D met hom ’n onderhoud op Radio Tygerberg gevoer het. “Asemrowend” is tydens hierdie onderhoud gespeel en Francois en Neville D het in daardie oomblik besef dat hulle iets met hierdie lied wou doen. Ná Leon se onlangse kankerdiagnose, het hulle besluit om saam met die evangelistiese groep Die Lekker Crew ’n splinternuwe verwerking daarvan op te neem, as deel van ’n BackaBuddy-veldtog om fondse vir sy mediese behandeling in te samel.
“Leon is iemand vir wie ek ongelooflik baie respek het. Hy is ’n nederige man en as gevolg van iemand soos hy, het ek vandag ’n musiekloopbaan. Daarom het ek gevoel dis niks minder as reg om te probeer help waar ek kan nie,” deel Francois.
“Nêrens in die Bybel staan daar die lewe gaan maklik wees nie, maar daar staan wel – dit is moontlik saam met die Here.”
Francois Boyce, het tydens die Covid-19-pandemie gewildheid verwerf vir die sosialemediaplatform, Hoezit Samelewing, en buiten vir sy musiekloopbaan en werk as radio-omroeper, is hy ook ’n motiveringspreker, stemkunstenaar, kindervermaakkunstenaar en klavieronderwyser.
“Hoezit het my by mense uitgebring waar ek nooit anders sou uitkom nie. God kan enige iets tot sy voordeel gebruik. Al moet ek my naam met ’n plank slaan, sal ek dit doen, want vir iemand daarbuite is dit ’n oomblik om te glimlag,” vertel hy.
Wat hoop jy ervaar mense wanneer hulle na “Asemrowend” luister?
Dieselfde wat ek beleef het toe ek die eerste keer die lied gehoor het. Ons gaan nooit genoeg woorde en asem hê om God se grootheid te kan besing of beskryf nie. Mag mense sien: Hier sing iemand wat self moes kies om aan God se asemrowendheid vas te hou terwyl sy eie wêreld nie altyd lekker is nie. God bly asemrowend ten spyte van my omstandighede.
Wat het jou die meeste geïnspireer tydens die opnameproses saam met Die Lekker Crew?
As jou menslikheid en nederigheid harder skree as jou talent, sit jy liggies in my menswees aan! Hulle is ’n klomp mense met ongelooflike stories, maar wat hul roeping uitleef om die Goeie Nuus deur musiek te versprei. Kyk, dan kan ’n mens nie die talent eenkant los nie. Hoe lekker is dit nie om die voorreg te hê om met sulke goeie stemme te kan werk!
Wat leer jy by Leon, nie net as kunstenaar nie, maar ook as ’n mens en gelowige?
Jou situasie is nooit groter as God nie en jou roeping verdwyn nie as gevolg van jou omstandighede nie. Dit was so lekker om saam met hom deur hierdie proses te gaan. Ons het elke stap met hom gedeel, want mens het besef dit beteken vir hom ongelooflik baie. Ek het hom eendag gebel net nadat ons vir hom ’n opname gestuur het. Hy kon vir 20 minute skaars met my praat, want dit het hom so aangeraak.
Wat inspireer jou om aan te hou skep en projekte aan te pak wat ander mense se lewens raak?
As jy een keer in jou lewe beleef het hoe iemand na jou toe kom en vir jou vertel hoe iets wat jy gedoen het, hulle geraak het, kan jy nie anders as om aan te hou nie. Musiek is ’n taal wat almal verstaan, al verstaan jy nie ’n woord wat gesing word nie. Dit laat jou iets voel en beleef. As jy die vermoë het om dit te kan gebruik as ’n manier van kommunikasie, moet jy.
Wat sou jy vir jong kunstenaars sê wat graag gospelmusiek wil maak of hul stemme wil gebruik vir iets groter as hulself?
- Wees sonder twyfel net jouself. Die wêreld het net een van jou, gebruik dit. Moet dit nie weggooi om iemand anders te probeer wees nie. Leer by ander, en gebruik die lesse om jouself beter te maak.
- Bou konneksies. Gesels en leer mense wat in die bedryf werk waarin jy wil wees. Jy weet nooit wanneer jy op iemand se koppie moet druk vir raad, idees of hulp nie.
- Beskerm jou roeping met alles wat jy het. As jy weet wat jy moet doen, beskerm dit, want niemand anders gaan nie. Leef dit wat in jou hart is, uit. Al voel dit of jy buite die lyne hardloop. Daar is niks wat vir jou soveel geluk en vrede bring as jy in die baan hardloop wat die Here vir jou gegee het.
As jy graag fondse wil bydra om te help met Leon Ferreira se behandeling, kan jy ’n skenking deur BackaBuddy maak.
“Asemrowend” is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier.
Lees ook: Luwellen wys R40 000 van die hand in ‘Die brug’: “Om vir niemand te sê nie beteken dit is steel”