kategorieë: LeesOntspanning

Wipkar, hoofstuk 11

Arien staan na haar eie spieëlbeeld en kyk. Sy sien ’n vrou wat heelwat gewig verloor het. ’n Vrou met ’n moderne haarstyl en mooi kant-onderklere.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Maar ’n vreemdeling wat voor haar staan. Sy voel of sy die vrou nie ken nie. In haar hart voel sy nog soos die vrou wat die skaal op 82 kg getrek het. Op die oomblik voel dit of haar gemoed steeds die skaal se naald in die tagtigs laat bewe. Ondanks Jos se rehabilitasie en die seuns se opsigtelike beter gemoedstoestand … ondanks die opwinding op die krop van haar maag na haar ontmoeting met Hendri. Sy het na die ontmoeting teruggesweef salon toe. Haar hart was weer die van die tienerdogter wat holderstebolder verlief was. Maar haar kop … dis waar konflik, bekommernis en ’n skuldige gewete baljaar. Die meisies by die salon het haar na die lang koffiesessie met afwagting ingewag. Hulle wou antwoorde hê op die gebeure van die middag. Hulle het Hendri dadelik as ’n Daniel Craig-kloon geïdentifiseer en in groephisterie het hulle klaar ’n romantiese toekoms vir hulle baas en die mooie man uitgewerk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Hokaai, meisies! Dis net ’n ou jeugvriend. Ons het net saam gaan koffie drink.” Arien het probeer keer, maar kon sien haar woorde word nie geloofwaardig aanvaar nie. Haar personeel kon sweerlik sien hoe haar hart byna by haar ore uit bons.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Op pad huis toe en deur die nag het haar gedagtes haar na uitputtende hoogtes en laagtes geneem. Enersyds is dit vir haar wonderlik dat Hendri na al die jare steeds dink sy is beeldskoon en onweerstaanbaar. En, ja, die meisies by die salon is reg, hy is onweerstaanbaar aantreklik, soos Daniel Craig. Dit is vir haar ongelooflik dat ’n man wat so lyk kan dink sy is onweerstaanbaar! Sy wat net onlangs nog bloomers en lunsriem-bra’s gedra het. En los swart jurke om haar oorgewig te verbloem. In haar hart is sy nog daardie oorgewig vrou met die onseker emosies. Haar hart probeer haar verseker sy verdien die nuwe geluk en dat dit Jos se eie skuld is dat sy nou nuwe geluk soek. Na jare se selfsug verdien Jos mos immers om haar te verloor? Maar haar kop wil haar emosies in toom hou. Jos en die seuns kom nou so goed oor die weg. Jos probeer so hard. Hy verdien nog ’n kans.

Voor die spieël onthou sy die nagmerrie van die vorige nag. Sy was weer op universiteit in die streng Dr. Immelman se Letterkunde-klas. Sy moes ’n lesing gee oor die goeie en die slegte engel wat op Dr. Faustus se skouer sit, maar in haar droom het sy haarself en Faustus verwar en die studente het haar gekonfronteer oor die slegte keuse wat sy maak. Sy het wakker geskrik met Dr. Immelman wat voor haar staan en sy vinger waarskuwend voor haar swaai.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy kyk na die vrou in die spieël. Verdien sy geluk? Is sy na ’n ongelukkige huwelik van jare geregtig om ’n verhouding aan te gryp wat haar weer vroulik en onweerstaanbaar laat voel? Sy kyk na die merke wat haar keisersneë op haar maag gelaat het. Dit herinner haar aan die seuns. As tieners is hulle nou op ’n sensitiewe plek. Hulle het vir die eerste keer in jare ’n goeie pa-figuur en ’n rustiger ma. Sy kan dit nie nou van hulle wegneem nie.

Haar foon lui. Dis Jos se nuwe sekretaresse. Hy het nie by die werk opgedaag nie. Sy wil nie vir die vrou sê Jos woon nie meer by haar en die seuns nie. Sy kar het seker gebreek? Dalk ’n ongeluk op die snelweg? Jos se foon is af. De ja vu … Ou herinneringe. Ou emosies van nie so lank gelede nie. Het Jos dalk weer gedwaal? Is hy gekaap of het hy ’n ongeluk gemaak? Is hy dalk vir dronkbestuur gevang? Dit voel soos gister wat sy elke keer ’n string  telefoonnommers gebel het om uit te vind waar haar verlore man is. Sy begin weer bel. Daar was nie ’n ongeluk in die radius van Jos se gastehuis en sy nuwe kantoor nie. Ook geen verkeersknoop of kaping nie. Die polisiekantore in die omgewing herhaal wat sy reeds weet, hulle kan nie na Jos soek as hy nie reeds 24 uur vermis is nie. Een simpatieke offisier gaan darem vir haar die rekords na. Jos is nie vir dronkbestuur gevang nie en daar was geen ongeluk aangemeld waarin hy betrokke was nie. Sy bel die gastehuis heel laaste. Jos het nie daar oornag nie. Sy begin sy vriende bel. Dit is vernederend. Dit het haar nog altyd soos ’n temende vrou laat voel. Soos ’n vrou wat haar man nie vertrou nie. En ja, sy is ’n vrou wat haar man nie vertrou nie. Nog nie. Jos se reis op die reguit paadjie was nog nie lank genoeg om haar kan te gee om hom weer te vertrou nie.

Sy ry salon toe. Met ’n stukkie hartseer in haar gemoed besef sy sy is nie dieselfde vrou wat die vorige dag op ’n wolk van ekstase daar uit gesweef het nie.

In die voorportaal wag ’n groot bos wit rose. Sy weet dadelik van wie dit kom. Hendri weet wit rose is haar gunsteling. Sy weet die terapeute in haar span probeer ongemerk haar reaksie op die blomme dophou. Hulle is dierbaar. Hulle weet van die hartseer wat al lank oor hul baas hang, sy weet hulle gun haar geluk.

“Kom dit van James Bond af?” Jana se oë vonkel.

Arien speel saam al hang daar ’n gewig so swaar soos ‘’n baksteen aan haar hart.

“James wie?”

Die meisies lag.

“En toe, gaan jou jeugmaat jou weer kom ontvoer vir koffie?” Jana herrangskik kamma aan die bos rose wat die voorportaal met ’n soet aroma vul.

“Ek het baie werk, ek het nie tyd vir muisneste nie.” Arien maak haarself in haar kantoor toe. Sy sit ’n rukkie stil na haar lessenaar en staar. Waar is Jos? As hy weer die pad byster geraak het, gaan dit die seuns se harte breek. Dit gaan haar hart ook breek want sy het so gehoop alles gaan nou weer regkom. Dat hul lewens nou rustiger gaan wees.

Die dag strek lank uit. Sy werk meganies met haar kliënte. Sy benut haar ou geoefende glimlag en vra die ou roetine vrae om aan haar kliënte te wys sy gee om. Mense kom na haar salon om bederf en gepamperlang te word. Hulle wil nie weet of die terapeut se hart in duisend stukke geskeur is nie. Hulle wil ’n vriendelike terapeut met ’n warm glimlag sien. Arien het haarself al gekomplimenteer oor haar vernuf op dié gebied. Sy is ’n Oscar-gehalte aktrise voor kliënte. Knap gedaan, Arien, klop sy haarself op die skouer toe die laaste kliënt uitstap.

Daar is ’n hele paar boodskappe van Hendri op haar foon, maar haar siel is te moeg om dit oop te maak. Die stilte vanaf Jos se kant het deur die dag elke hoekie van haar gedagtes gevul en die geluk en euforie van die vorige dag verteer.

Arien glimlag hartseer as sy daaraan dink. Jos het dit weer reggekry om haar borrel van geluk te bars. Deur die dag het haar vrese ’n werklikheid begin word. Sy hoef nie met Jos te praat om dit te bevestig nie. Sy weet Jos het weer geswig.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.