kategorieë: LeesOntspanning

Wipkar, hoofstuk 16

Die salon is vol bespreek. Arien is dankbaar dit lei haar gedagtes af van haar effe onstuimige lewe. Sedert Hendri se laaste besoek boer hy in haar gedagtes. Sy kwesbaarheid het ou emosies in haar wakker gemaak. Arme Hendri. Hy lyk so vol selfvertroue. Wys jou net. Hy het materieel alles wat sy hart begeer, maar sy huwelik is vol hartseer. As ’n vrou soos Lorna maar geweet het wat ’n onvervulde huwelik regtig is. Iemand soos Lorna moet bietjie ’n paar maande saam met ’n verslaafde soos Jos bly. ’n Man wat nie altyd saans huis toe kom nie en sy vermaak by ander vroue soek. Hoe onregverdig is die lewe? As Lorna maar besef hoe gelukkig sy is dat haar man hard werk en darem elke aand by die huis is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Jos hou al vir weke sy afstand want hy is diep seergemaak dat sy ondanks sy nuwe rehabilitasieprogram steeds met die egskeiding voortgaan. Die seuns  is baie rustiger sedert hulle begin aanvaar het dat ’n egskeiding mettertyd vir hulle ’n meer stabiele huishouding gaan gee.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Arien is besig met ’n groep vroue wat hulself saam kom bederf vir hul skool se veertigjarige reünie. Gesigbehandelings, masseersessies en mani- en pedikure is ingeryg in elke minuut van die dag.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Na ’n paar strawwe ure kan Arien uiteindelik self haar voete in ’n masserende voetspa laaf. Sy is gedaan, maar die oomblik toe Jana die koppie tee langs haar neersit, weet sy daar is ’n groot probleem. Dit is die laaste ding waarvoor sy vandag lus is.

“Jong , hier is ’n huilende vrou in die voorportaal. Sy smeek dat ons haar inpas vir ’n troetel-sessie. Siestog, sy het erge huweliksprobleme en sy sê ons sal haar lewe red as sy vir ’n uur net kan ontspan.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Arien het dadelik begrip vir die vrou se probleem. Sy het dikwels self gevoel sy het ’n bederfsessie nodig as haar lyf styf getrek is van spanning.

“Die probleem is net dat sy wil hê jy moet haar behandel. Iemand het jou by haar aanbeveel en sy voel net jy sal haar hartseer en spanning kan weg masseer. Ag, kom ons help die arme vrou. Sy is in ’n helse toestand. Ek belowe jou as jy klaar is neem ek jou onder hande op die masseertafel.”

Die vrou sit in ’n beteuterde bondeltjie in die ontvangsarea. Sy snuit kort-kort haar neus in ’n snesie en Arien kan sien haar neus is al bloedrooi van die huil.

Jana dra sommer vir die vrou ook ’n koppie tee aan. Sy hou ook ’n bordjie sjokoladekoekies na die vrou uit.

“Eet, jy het dit nodig. Daarna sal Arien jou van al jou sorge laat vergeet.”

Arien het al ’n paar keer ’n snikkende vrou op haar masseertafel gehad. Sy hou die snesies byderhand en saam met die strelende musiek gesels sy sag met haar kliënt.

Vir die eerste paar minute huil die vrou onbedaarlik. Arien gebruik mandaryn-olie omdat dit ’n kalmerende effek het. Sy kan voel die vrou se skouer- en nekspiere is soos staalkabels. Sy werk sagkens oor die gespanne spiere tot sy voel die spasma begin effe skiet gee.

Die vrou het ’n pragtige sonbruin lyf, merk sy op. Hoe hartseer dat ’n vrou met so ’n lieflike lyf ongelukkig getroud is. Dit voel skielik of almal om haar ongelukkig getroud is.

“Jy sal nou begin ontspan. Luister na die musiek. Laat jou gedagtes ver weg dwaal na die gelukkigste plek waar jy al ooit was.”

Die vrou huil sag.

“My wittebrood in Thailand. Dit was idillies. Ons was so verlief. Toe het ek gedink niks sal ons huwelik ooit kan benadeel nie.”

Sy huil skielik harder.

“Weet jy hoe voel dit as jy na ’n paar jaar nie meer goed genoeg is nie?  Ek het gesorg dat my lyf perfek is. Ek het op slaaiblare geleef en elke dag geoefen. Maar dit was nie goed genoeg vir hom nie. Hy het altyd ’n vrou gekry wat beter afleiding is as ek.”

Arien troos en gee neutrale antwoorde. Sy weet dit sal onprofessioneel wees om haar eie persoonlike lewe by die gesprek in te bring. Maar sy verstaan die vrou se hartseer. Sy weet hoe dit voel as jou man vermaak soek in die arms van ’n ander vrou.”

Sy pak die louwarm klippe al langs die vrou se rugstring.

“Die gewig van die klippe en die hitte sal jou lyfseer weg streel. Voel jy die sagte rondheid van die klippe? Adem die aromatiese olies in. Ek wil hê jou lyf en gees moet rus. Vergeet van alles. Op hierdie oomblik is dit net jy wat saak maak. Wees selfsugtig en dink net aan jouself en wat jou gelukkig sal maak.”

Die vrou snuit haar neus en draai haar kop skuins in Arien se rigting. Haar oë is powwerig gehuil.

“Al wat my gelukkig sal maak, is dat my man ander vroue sal uitlos. Kyk na my. Is ek fisiek so afstootlik dat hy bevrediging by ander vroue moet soek?”

Arien kyk na die vrou se sy gladde, sellulietlose bene, haar gespierde agterstewe en ferm rug. Sy het perfekte borste en geen los nekvelle nie. Daar is hier en daar tekens van kosmetiese hulp, maar die vrou het ’n pragtige lyf.

“Ek wens ek het soos jy gelyk. Ek het selluliet aan my bene en rekmerke op my maag na my babas. Jou lyf is pragtig en jy hoef nie te voel daar is iets met jou verkeerd nie.”

Die vrou slaan met haar vuiste op die masseertafel.

“Maar ek is nie perfek nie! Ek is nie goed genoeg vir hom nie! Hy soek altyd ander vroue wat beter is. Hy vertel my gereeld wat hulle alles het wat ek nie het nie. Partykeer is dit geleerdheid, soms avontuurlus, baie keer kennis van seksuele bevrediging wat ek blykbaar nie het nie. Ek het al alles probeer om by te hou. Ek het studeer, kursusse bygewoon, my borste laat groter maak, my neus laat reguit maak. Ek is net nooit goed genoeg nie.”

Na ’n lang sessie begin die vrou uiteindelik kalmeer. Sy lê doodstil en haal diep asem. In een stadium dink Arien selfs sy is aan die slaap.

Op ’n vreemde manier help die terapie aan die bedroefde vrou Arien ook ontspan. Dit laat haar voel sy is nie die enigste een wat ’n mislukking van ’n huwelik het nie.

Die vrou bind na die sessie haar blonde hare in ’n poniestert en stap grimeringloos voorportaal toe.

“Dankie. Ek voel beter. Ek het gekry waarna ek gesoek het.”

Arien pak ’n mandjie vol bederfgoed en hou dit na die vrou uit.

“Vandag se sessie is op my. Gaan bederf jouself. Jy verdien dit. Moenie toelaat dat jou man jou laat voel jy is nie goed genoeg nie. Jy is. Onthou dit.”

Lank na die vrou by die salon uit is sit Arien nog in haar kantoor en dink oor die vrou se bedroefde geween tydens die massering. Sy het lanklaas so ’n gebroke mens gesien.

Net voor sy die salon se deur agter haar toetrek, zirrr haar selfoon se WhatsApp-funksie.

Sy ken nie die nommer nie.

“Dankie vir die heerlike massering. Ek weet nou hoekom jy die nuwe afleiding in Hendri se lewe is. Jou hart is so sag soos jou hande. Ons sal mekaar weer sien, Lorna.”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.