kategorieë: LeesOntspanning

Wipkar, hoofstuk 2

“Hendri du Toit”. Die naam flits swart in haar e-pos se inboks. Arien skrik so groot sy moet eers gou badkamer toe gaan. Haar blaas hou nie van skokke nie. Sy sit op die troon en bewe en vryf haar troupand verskonend blink met toiletpapier. Die ellendige Jos! Dis sy skuld dat sy dié onbesonne daad gepleeg het. As hy haar so nou en dan soos ’n vrou laat voel het, het sy nie na Cari se raad geluister nie. Cari en haar ellendige Italiaanse warmbloedigheid het haar nou in groot moeilikheid. Arien weet sy is in haar wese te konserwatief om ’n minnaar te kry. Maar die skade is klaar gedoen. Daar wag ’n e-pos van Hendri  du Toit op haar en sy wil weghol!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sy bel Cari bewerig. Dié is natuurlik oorstelp oor die nuus.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Meisie! Hoe kan jy dit uithou? Lees dit dadelik en bel my terug!”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy wens iemand wil haar tot haar sinne bring. Miskien moet sy haar ma bel? Maar ’n skril stemmetjie in haar binneste keer haar. Haar ma sal ’n hartaanval kry!

Sy klik op die e-pos. Dit voel soos ’n ewigheid voor dit oopmaak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“My Rientjie! Hoe bly is ek om van jou te hoor! Natuurlik wil ek my foto’s terug hê! Moet dit asseblief nie in die asblik gooi oor ek so ’n stupid skoolseun was nie! Kan ons vanmiddag gaan koffie drink? Ek is juis nou in Sandton.”

Arien hol weer badkamer toe van skrik. Na Dana se geboorte is haar blaas oppiekoffie. Sy kan nie eens hard nies nie en ’n e-pos van Hendri is heeltemal te veel vir haar knypers.

Haar mond is droog en haar hande bewe. Sy wens sy hoef nooit weer uit die toilet te gaan nie. Sy sal liefs haar lewe op die troon deurbring as om saam met Hendri du Toit te gaan koffie drink. Genade! Sy weeg 82 kg! Daar is geen manier wat sy sal toelaat dat haar groot skoolliefde haar so sien nie!

Sy bel Cari weer.

“Bly kalm, Meisie. Ons sal die man besig hou tot jy 10 kg verloor het. Ek kry jou vanmiddag vieruur by Newscafé in Rivonia, dan beraam ons ’n plan van aksie. Intussen wees jy koel en formeel en vertel hom jy is toegegooi onder afsprake en … ja, vertel hom jy gaan ’n week by ’n spa deurbring want jy en jou man het ’n groot funksie waarvoor jy stunning wil lyk!”

“Spa? ’n Funksie? Ek en Jos? Ons gaan nêrens heen nie!”

“Ag jinne, Arien! Partykeer wil ek jou skud! Natuurlik weet ek jy en ou brombeer gaan nêrens heen nie, maar jy moet jou lover darem wys jy het nie al die jare na skool oor hom getreur nie.”

Arien voel trane van magteloosheid agter haar oë brand. Dit voel klaar of die situasie haar versmoor.

“Moenie die man my lover noem nie!”

Cari lag so hard dat Arien die foon ’n entjie weg van haar oor moet hou.

“Ons werk daaraan, Meisie. Wag net!”

Arien wens sy was nie so hulpeloos teen Cari se aanslae nie. Sy weet in haar hart sy is en bly ou koekerige Arien wat in die Vrystaat grootgeword het. Sy verkies ’n normale, rustige lewe. Sy wil die e-pos aan Hendri so gou moontlik stuur sodat sy ’n einde kan maak aan die gemors.

“Hoe moet ek die e-pos begin? Jy sal moet help! Jy het my aangehits!”

Cari gee duidelike instruksies. Arien moet ten minste twee uur wag voor sy die e-pos beantwoord. “Die man moet ’n bietjie in spanning wag. Ons wil nie te gretig lyk nie.” Cari voorsien sommer die bewoording van die e-pos ook: “Goeiedag Hendri, Gaaf om van jou te hoor. Ek is ongelukkig druk besig vandag. Kan ek die foto’s in die pos gooi? Groete Arien.”

Arien bid dat Hendri sy pos-besonderhede sal stuur en dat die hele simpel speletjie verby sal wees. Sy verorber ’n hele staaf Cadbury’s Bubble van spanning.

Hendri antwoord blitsig.

“Rientjie, dit sal nie deug as jy die foto’s vir my pos nie! Ek MOET jou sien!”

Arien se bene voel soos jellie. Haar maag slaan bollemakiesie en sy is naar van die homp sjokolade en skok. Dié ding moet so gou moontlik gestop word!

Teen vieruur sit sy by haar en Cari se gunstelingtafel by Newscafé in die rokers-afdeling. Sy het al ’n G&T weens spanning agter die blad as Cari opdaag. Sy vroetel met die elegante pakkie Vogue-sigarette in haar hand. Dis die eerste keer dat sy haar eie sigarette gekoop het! Sy weet sy is nou op die afdraande pad. Die brede weg! Die sigarette en die e-pos en als is verkeerd, sy weet.

“Dit help nie jy betig Jos oor sy drinkgewoontes en hier sit jy self en slaan ’n drankie weg teen spanning nie,” maan ’n stemmetjie haar. Haar konserwatiewe gemoed waai verwoed rooi vlae.

Cari kom sensueel deur die tafels aangesweef. Newscafé sit gepak van die manne van die aandelebeurs en Cari se aankoms word nooit misgekyk nie.

“En toe! Jy het sommer klaar ’n nuwe gloed op die wange! Ek het jou gesê jy het ’n lover nodig!”

Arien neem ’n groot sluk G&T.

“Hou op daarmee! Die man is nie my minnaar nie! Ek het net ’n e-pos vir hom gestuur.” Arien skrik vir haar eie stem wat bo die gedruis skemkelkie-stemme opklink. Die mans by die tafel langs hulle het haar beslis gehoor want hulle hou haar nou oor die rante van hul whiskyglase dop.

“Sien jy nou!” Arien fluister waarskuwend aan Cari. “Die soort ding is nie vir my nie. Ek is nie Italiaans nie en ons Afrikaner-meisies is nie die lover-soort nie.”

Cari se rooi lippe tuit in die rigting van die waarderende gehoor by die tafel langsaan.

“Wag nou, Meisie. Hierdie ding het jy nodig. Jy weet dit net nog nie. Jy sal my nog bedank hiervoor.”

Arien sluk byna ’n halwe glas G&T weg en stik.

“Ek gaan Jos nie verneuk nie! Hy is ’n buffel, maar hy is …”

Cari maak haar sin klaar.

“ … hy is ’n lummel en hy waardeer jou nie. Sê my? Wanneer laas het julle … ?”

“Cari!” Arien bloos en sy loer of die mans by die tafel langsaan Cari se welluidende stem gehoor het. Hulle het! Hulle sit nou openlik en luister!

Loverboy Hendri gaan nog handig wees. Jy sal sien. Hier, ek het navorsing gedoen en vir jou uitgedruk. ’n Detox-dieet wat jou vyf kilogram in een week sal laat verloor. Jy kan die afspraak met Hendri maak vir oor twee weke.” Sy hou haar gemanikuurde hand oor Arien se glas. “En hierdie is jou laaste G&T tot jy 10 kg verloor het. Van nou af net mineraalwater vir jou. Liters mineraalwater.”

Arien kou van spanning die stukkies ys onderin haar glas.

’n Kelner daag na ’n ruk op met ’n yslike bottel ontwerpersmineraalwater. Met komplimente van die manne by die tafel langsaan, beduie hy. Arien is lus en trap hulle uit omdat dit onbedagsaam is om haar en Cari se gesprek af te luister. Die grynslag op hulle gesigte keer haar. Een hou sowaar sy duime in die lug en knipoog vir haar!

Arien bestuur in ’n waas van spanning en ergernis huis toe. Haar vaal lewetjie het in chaos verander die oomblik toe sy die e-pos aan Hendri du Toit gestuur het. Sy wonder hoe oorleef mense dan die spanning van ’n affair? Sy weet Jos loer rond en kuier tog te lekker saam met die meisies op kantoor, maar in haar wese was sy nog altyd lojaal aan hom.

Jos is genadig nie by die huis nie. Hy werk weer laat. Maar vanaand gee sy nie om dat hy waarskynlik weer vir haar jok nie. Sy wil alleen wees. Sy bestel pizza vir die seuns en verskoon haarself. Sy lê ure in die fetusposisie op die bed en luister na haar malende gedagtes. Sy weet haar lewe saam met Jos is ver van ideaal. Sy weet Cari is reg oor Jos. Maar haar lewe is in ’n soort van gemaksone waarin sy weet hoe om die verantwoordelikheid van ’n beroep en huis en die seuns te hanteer. Sy weet hoe om Jos en sy dinge te hanteer. Sy weet dis hoegenaamd nie aanvaarbaar hoe Jos haar behandel nie, maar sy weet sy sal nie maklik die moed hê om hom te los nie.

Haar selfoon vibreer teen elfuur. Sy weet dit is ’n SMS met een van Jos se flou verskonings en sy skakel die foon af. Vanaand gaan sy nie by die foon waak ingeval haar selfsugtige man in sy dronkenskap ’n ongeluk maak of hy gevang word vir dronkbestuur nie. Vanaand wil sy sin probeer maak van die warboel emosies wat haar lewe op ’n skielike wipkarrit geplaas het.

Sy weet nie meer of sy hartseer is oor Jos sy vermaak in ’n bottel whisky en die oulike jong makelaars soek nie. Sy is hartseer oos haar seuns nooit kwaliteit-tyd saam met hulle pa deurbring nie en dat hulle gesinslewe ver van ideaal is. Vanaand is sy hartseer omdat Jos haar maag nooit meer laat bollemakiesie slaan soos Hendri du Toit se e-pos gedoen het nie. “Rientjie.” Hendri is die enigste man wat haar nog ooit so genoem het. Sy onthou hoe smoorverlief sy was op die hoofseun en rugbykaptein wat HAAR raakgesien het. Hy het HAAR uitgesoek as sy prinses! Jos het haar nog nooit so spesiaal laat voel nie. Nie eens toe daar nog romanse in hul lewe was nie.

“Ek MOET jou sien.” Dié woorde van Hendri stuur ’n tinteling deur haar gespanne lyf. Hendri wil haar sien! Daar is ’n dringendheid in sy e-pos. Sy wéét skielik sy gaan môre op sy e-pos beantwoord en ’n afspraak maak om oor twee weke saam met hom te gaan koffie drink. Sy weet sy doen iets onbesonne, maar dit is asof sy besig is om beheer oor haar gemoed te verloor. Cari is reg, sy verdien dit ook dat ’n man haar lipstiffie afsoen. Sy verdien nie ’n man wat haar haar maskara elke dag laat afhuil nie. Al is dit hoe verkeerd, weet sy sy het die tinteling nodig wat die gedagte aan Hendri du Toit deur haar lyf stuur. Sy weet sy gaan vir twee weke net op suurlemoene en spinasiesap leef. Sy gaan ongelooflik lyk as sy by die koffiewinkel instap. Sy gaan Hendri wys wat hy al die jare gemis het.

Laatnag drink sy ’n kalmeerpil saam met ’n koppie soet tee. Sy weet sy moet steeds die volgende oggend vroeg opstaan en die seuns skool toe neem. Sy moet steeds funksioneer al is daar muisneste wat besig is om die linkerkant van haar brein toe te spin.

Voor sy in ’n salige slaap val, draai sy haar troupand om en om. Dis ’n eenvoudige goue ring sonder die diamant wat Jos al sedert hul troue vir haar belowe. Sy kyk altyd na mooi ontwerpe van diamantringe. Sy het mooi hande, dis haar beste bate, het so baie mense al vir haar gesê. Die ideale hande vir ’n mooi diamantring. Die ou bekende seer kom lê in haar. Sy was nog nooit vir Jos belangrik genoeg om vir haar ’n diamantring te koop nie. Nie eens ná die kinders se geboortes nie. Sy weet dit is ’n belaglike wens wat sy deur die jare koester, maar sy wou nog altyd ’n mooi ring gehad het waarmee sy kon spog. Dit verteenwoordig vir haar in ’n mate hoe ’n man oor sy vrou voel. Die eenvoudige ring aan haar vinger is ’n seer herinnering hoe Jos oor haar voel. Sy is vir hom die praktiese een wat die huishouding en sy lewe laat glad verloop. Op aande soos vanaand voel sy sy is vir Jos niks meer nie.

Haar laaste gedagte boer by Hendri du Toit. Al druis dit teen alles waaraan sy glo, wens sy sy kan net een keer in Hendri se arms wees. Sy wil net een keer weer iemand se prinses wees.

Sy wil nie aan die gevolge vir haar huwelik met Jos dink nie. Sy herhaal die gedagte aan haarself: Dis Jos se eie skuld.

Lees ook hoofstuk 1

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.