kategorieë: LeesOntspanning

Wipkar, hoofstuk 5

Etenstyd stap Arien en die verbode kredietkaart weer by die lingerie-winkel in Sandton City in. Die winkelassistent groet haar soos ’n ou vriendin.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“My husband sent me,” beken sy.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Oh.” Die assistent knipoog asof sy weet wat Jos in gedagte het. As sy maar weet, dink Arien en laat haar weer gewillig na die luukse aanpaskamer lei. Vandag voel dit of daar meer spieëls is. Sy voel nie meer sexy nie ondanks die peach-broekie en kantbra. Sy sien ’n onseker vrou wat desperaat is om haar huwelik te red.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Panties, bras en nagklere. Die assistent dra aan en sy pas aan. Sy voel roekeloos. Jos het gesê sy kan haarself kom bederf. Jos het gesê sy lyk goed in haar nuwe onderklere. Iewers onder die mufheid van haar emosies oor Jos roer iets. Eens het Jos vlinders in haar maag in sirkels laat vlieg. Sy kon nie wag dat hy saans huis toe kom nie. Sy onthou hoe sy sit en wag het en hoe sy ’n tinteling in haar maag gevoel het as sy motorligte by die hek indraai. Hy het haar soms deur die dag gebel om sommer net haar stem te hoor.

Dis moeilik om te sê wanneer dinge verkeerd begin loop het. Miskien toe hy by die groot firma in Rosebank begin werk het? Toe het die drankies na werk begin. Die laat kom. Die verskonings. Sy weet dit het haar in ’n stadium in ’n kywende heks verander. Sy het baklei en geskree. Sy was benoud en desperaat om hom terug te wen. Nagte om het sy lê en wroeg oor die soort huis waarin haar kinders grootword. Dis nie soos sy hul lewens beplan het nie. Dan, as hy soms nanag insluip, het sy gemaak of sy slaap. As hy begin snork, het sy omgedraai en in die skemerte na die slapende man langs haar gekyk. Iewers in sy wese het iets verander en sy het nie geweet hoe om dit weer reg te maak nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hy het gesê sy gun hom nie die sukses in sy loopbaan nie. Sy behoort hom te steun. Hy moet saam die ander makelaars drankies drink om te netwerk. Dis normaal, sê hy.

Hy het al later begin huis toe kom. Is dit normaal om elke aand na twaalf van die kantoor te kom? Hoeveel moet mens netwerk om suksesvol te wees? Hy het altyd die skuld na haar verplaas. “Jy wil my loopbaan en ambisie demp. Ek doen dit vir jou en die kinders.”

Dan het sy skuldig gevoel en weer probeer. Sy kos warm gehou. Sy klere reggesit vir die volgende dag.

Toe het agterdog in haar begin nes maak. Sy en Cari het een aand na werk in Rosebank na die launch van ’n nuwe parfuum gegaan. Dit was in ’n private saal van ’n nuwerwetse kuierplek. Hulle het toevallig by die kroeggedeelte verbygestap. Jos het by ’n tafel gesit omring deur jong vroue. Hulle was beslis nie makelaars nie. Arien weet hoe trek vroulike makelaars aan. Die vroue saam met Jos se kapsel was net te groot. Hulle naels te lank en hul rokke te kort. Jos het haar nie gesien nie, maar dit het soos ’n lem deur haar hart gesny. Sy kon dit nie meer ontken nie. Cari het getroos en haar huis toe geneem. Sy het vir haar soet tee gemaak en ’n pienk pilletjie gegee.

Die volgende oggend het Arien oudergewoonte verskonings vir Jos begin uitdink. Dalk was dit tóg net ’n werkverwante afspraak? Maar eintlik het haar hart geweet sy is verkeerd.

Sy het neuroties begin raak. Jos se selfoon begin fynkam as hy bad. Hy flirt graag met vroue op WhatsApp. Verskillende vroue.

Sy het baie gehuil en was seergemaak. Huweliksberaders en sielkundiges moes haar smarte aanhoor. Jos wou net een keer saamgaan na ’n berader. Daar is niks verkeerd met hul huwelik nie, het hy verseker. Die volgende keer het sy alleen gegaan. Die berader was simpatiek, maar reguit. Die huwelik kan nie gered word as Jos nog in die ontkenningsfase is nie. Sy het nooit weet teruggegaan nie want Jos het in die ontkenningsfase gebly.

’n Sielkundige het na ’n paar sessies vir haar gesê sy is die perfekte ko-afhanklike. Hoekom? Het sy gevra.

“Jou man is ’n alkoholis.”

“Nee, hy drink net baie omdat hy moet netwerk vir sy werk,” het sy Jos probeer verdedig.

“Arien, as ek op ’n professionele vlak na Jos se gedrag kyk, is dit duidelik. Hy is afhanklik van drank. As hy naweke ook oormatig drink tot die bottel leeg is, en dan nog gaan koop, dan moet jy dit begin aanvaar. As sy drankverbruik jou gesin raak, is daar ’n probleem en deur dit nie te beken nie, steun jy hom. Jy enable hom. Dan is jy sy ko-afhanklike.” Sy was kwaad. Sy is dan die slagoffer? Hoe kan die sielkundige die skuld op haar pak? Sy het gewroeg en geween en na ’n paar weke teruggegaan na die sielkundige.

“Wat kan ek doen om hom te help?” Sy het die intervensie gereël met Jos se familie teenwoordig. Haar skoonma en swaer het gedink sy oorreageer. Haar skoonsuster het haar in die kombuis vasgedruk en gesê: “Los hom terwyl jou kinders nog klein is. Moenie dieselfde pad loop as ek nie. Dit gaan jou menswees opkerf en jou kinders verdien nie om so groot te word nie.” Jos se broer was al ’n paar keer in klinieke. Sy het deur die jare gesien hoe haar skoonsus voor haar oë verwelk. Op vyftig lyk Sandra soos ’n sestigjarige. Daar is diep hartseer groewe langs haar eens mooi mond. Jos was woedend. Hy het gevoel sy het hom verneder. Haar skoonma het nog minder van haar gehou en Jos en sy broer het ’n paar drankies gedrink op haar nederlaag met die intervensie.

Daarna was dit asof ’n skakelaar iewers in Arien se brein afgeskakel het.

Vanaand wil Jos haar in kant onderklere sien. Vir die eerste keer in jare het hy haar vanoggend as ’n begeerlike vrou raakgesien.

Cari het lank stilgebly toe Arien haar vertel. “Ek wil nie hê jy moet seerkry nie, Meisie.” Sy het Cari verseker Jos is opreg. “Ek dink hy wil regtig aan die huwelik werk,” het sy voortgeborduur op die tapeserie verkonings wat sy deur die jare vir Jos gemaak het. “Dan is ek bly vir jou. Maar bel my as jy my vanaand nodig het.” Cari sal môre haar wantroue in Jos moet sluk, het sy haarself getroos.

“Oh dear, where were you, girl? Your thoughts were very far. Looking forward to tonight with Hubby? What are you planning?” Die winkelassistent het haar in ’n purper nagjurkie probeer indruk.

“It is too revealing,” het sy gekeer.

“Then it is perfect!”

Sy het geen idee wat sy vir die aand beplan nie. Dis Vrydagaand, dalk moet sy reël dat die seuns by maats oorslaap? Haar kop werk oortyd. Daar sal net tyd wees vir kos by Woolies. Kerse, lekker wyn. Nuwe beddegoed.

Die assistent bring ’n hoop sensuele slaappakkies.

“This is our Erotic Lingerie Collection. You need something with a silk nigt gown for dinner, and then after desert you slip it off. Your husband will be in heaven.”

Arien kies ’n rooi japon van 100% sy saam met ’n sy-nagjurkie met ’n kaal rug, lae snit voor en ’n G-string. Jos gaan steier as hy die prys sien, maar as dit haar huwelik gaan red, is dit ’n belegging.

***

Die seuns is opgewonde oor hul onverwagte uitslaap en oorreed haar om sommer die Saterdagaand ook oor te slaap. Sy laai elkeen by ’n maat af en gee vir die maat se inskiklike mamma ’n groot boks sjokolade.

Sy weet sy sal moet spring as sy als wil regkry voor Jos huis toe kom. Die bed word danksy die geduldige kredietkaart in wit parkal katoen oorgetrek. Kerse, ’n bos rose, bakkie aarbeie en ’n bottel vonkelwyn in ’n emmer ys wag langs die bed om haar te help om haar huwelik te red.

Sy pak die Woolies-feesmaal op die patio-tafel uit en steek die kerse aan voor sy in geurige olies gaan bad. Tussen die borrels sluk sy aan ’n glas vonkelwyn om haar senuwees te kalmeer. Sy voel soos ’n jong bruid op haar eerste huweliksnag. Die wyn maak klein borreltjies wat saam met die vlinders in haar maag fladder. Jos. Sy het jare laas so oor Jos gevoel.

Die sy-nagklere streel oor haar geurige lyf en klou aan die effe klammerigheid. Die spieël wys sy het al ’n paar kilogram verloor. Sy lyk vir haarself meer sexy as toe sy vroeër vandag in die aanpaskamer was. Sy voel sexy. Jos se stem oor die foon het haar sexy laat voel. Sy het by die salon ’n bottel Michael Kors Sexy Rio de Janeiro uit die voorraadkas gehaal. Dit is wat sy vanaand nodig het. Sy spuit ’n waas parfuum voor haar en stap deur die mikroskopiese druppels. Die aroma van tropiese vrugte, wit lelies en soet vanielje maak liefde met die sagte sy en haar klam lyf. Sy los haar hare klam agteroor gekam en sit net ligte grimering aan. Haar wange smeul van die bad en die vonkelwyn. Vanaand wil sy van alles vergeet. Al die jare se seer maak nie vanaand saak nie. Vanaand konsentreer sy net op Jos. Daar is nie eens ’n sweempie van ’n gedagte van Hendri wat deur haar hoop vir die aand syfer nie.

Sy skink nog ’n glas vonkelwyn en stap deur die tuin. Jos sit seker vas in die verkeer. Vrydagaande is die paaie uit Rosebank ’n buffer teen buffer nagmerrie. As hy by die huis kom, sal sy vir hom ’n bad gaan tap. Hy kan eers rustig ontspan. Sy sal vir hom ’n glas vonkelwyn in die bad gee. Dan sal sy soos in die ou dae op die toilet sit en met hom gesels. Vanaand sal hulle net oor mooi dinge praat. Sy en Jos. Vanaand sal hulle weer jonk en verlief wees. En na die naweek sal sy en Jos en die seuns weer ’n gesin wees.

Sy hou die hek dop. Sy wil weer die opwinding voel as sy motorligte by die hek indraai. Soos ’n senuweeagtige meisie op haar eerste afspraak sit sy op die punt van ’n sirkamerstoel en hou die hek deur die venster dop.

Die verkeer is seker baie erg vanaand. Sy skakel die radio aan om na die verkeersverslag te luister, maar die verkeersverslae word nie meer na seweuur uitgesaai nie.

“Dis naweek, Johannesburg! Gooi ’n glas wyn in en skop jou skoene uit!” Vanaand kan jy al die week se sorge vergeet!

Die radio-omroeper herinner Arien dat vanaand haar aand gaan wees. Al begin daar ’n swaarheid op die krop van haar maag vorm, is daar nog ’n kans dat dit ’n mooi aand gaan wees.

“Romantiese blues. Dit is wat julle vanaand nodig het. Maak dit ’n aand van romanse!” Die omroeper speel “I Just Want to Make Love to You” en Etta James se krakerige stem smeul deur die sitkamer. Arien lê agteroor teen die bank se kussings. Jos sal nog kom, daar het seker iets by die kantoor gebeur. Hy sal kom want hy wil ook weer gelukkig saam met haar en die seuns wees. Sy glo dit.

***

Agtuur gaan blaas sy die kerse langs die bed en op die tafel dood. Sy sal dit weer aansteek as Jos kom.

Die vonkelwyn het al van die borrels verloor, maar die koudheid streel oor die knop in haar keel.

Sy hou haar foon dop. Sy kan op WhatsApp sien hy was minute gelede nog aanlyn. Seker vir werk? Geen boodskap met ’n verskoning nie. Iets in haar keer haar om ’n boodskap te stuur. Sy sal wag en kyk. Dalk is daar tog ’n verduideliking.

Uiteindelik brrr haar foon. ’n Whatsapp. Haar hand bewe as sy dit oopmaak. Dis Cari.

“Als ok daar?”

Cari weet Jos is nie by haar nie. Dis hoekom sy die boodskap stuur. Cari het geweet Jos gaan nie kom nie.

“Ek drink vonkelwyn,” lei sy haar vriendin se aandag af.

“Ek is jammer, Meisie.”

Cari weet.

“Jy kon dit voorspel, nê?”

“Nee, ek wou dit glo. Vir jou wou ek dit glo.”

“Hoe het jy geweet hy is nie hier nie?”

Sy wag ’n rukkie op Cari se antwoord.

“Jos sit by die Bohemian en kuier. Ek en Patrick het gou ’n drankie kom drink na fliek. Kan ek na jou toe kom?”

’n Dowwe pyn strek van Arien se keel tot by haar hart. Haar oë brand.

“Nee, ek is ok. Ek gaan nou slaap.”

Sy wil nie vir Cari vra saam met wie Jos sit en kuier nie.

“Jy verdien beter. Asseblief los hom. Vergewe my vir wat ek nou gaan doen, maar dit is tyd dat iets jou tot inkeer laat skrik.”

Wat wil Cari doen? Arien sit angstig en kyk hoe die minute verby tik. Dan brrr haar foon. Cari stuur ’n foto. Die groen sirkeltjie op die foto draai eindeloos voor dit oopmaak.

Dis ’n foto van Jos en ’n vrou met ’n kort blonde bob. Sy arm is om haar skouers. Sy gesig in haar nek.

’n Halfuur later draai motorligte by die hek in. Dis Cari. Sy stap woordeloos kombuis toe en sit die ketel aan. Cari en haar soet tee kuur vir gebroke harte.

“Sluk.” Arien sluk die pienk pil.

Cari kom sit langs haar en hou haar styf vas. Sy ruik na muskus en rose.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.