kategorieë: Ouerskap

Wysheid met jou spiertier

Claudia Schubert, nefroloog, Panorama Medi-Clinic Party mense kan spierbouers gebruik sonder nierskade, ander nie. Dit hang van jou liggaam af. Die probleem is dat ons nie kan voorspel wie gaan nierskade opdoen en wie nie. Daarby is nierskade een van die “stil” siektes: jy merk dit eers op as jy sowat 15% van jou nierfunksie oor het. Jy sal dus eers weet dat jy een van die mense is wat nie spierbouers kan gebruik nie wanneer jy klaar ernstige nierskade het … en een of altwee jou niere verloor, of vir die res van jou lewe vir dialise moet gaan, of dalk ’n nieroorplanting moet kry.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Oor kreatien As ons wil toets of jou niere goed werk, meet ons die hoeveelheid kreatinien  in jou urine. Dit is ook die afbreekproduk van kreatien, en ons sal dus ’n hoë telling verkeerdelik as nierversaking diagnoseer en jou daarvoor behandel. As jy kreatien gebruik, sê dit vir jou dokter, want dit beïnvloed diagnoses.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Oor hoëproteïendrankies As jy nie weet dat jy nierskade het nie, oorlaai groot hoeveelhede proteïen jou niere heeltemal – wat selfs tot jou dood kan lei. Maar jy kan baie maklik en goedkoop seker maak dat jou niere die lading kan hanteer. Vóór jy spierbouers begin gebruik – en elke drie maande vir so lank as wat jy dit gebruik – gaan na Dis-Chem of Clicks se apteeksuster en laat hulle jou bloeddruk neem en urine toets vir proteïen. As altwee normaal is, funksioneer jou niere goed en is jy redelik veilig.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Oor steroïede Min mense gebruik steroïede bewustelik maar die doeltreffendste en die duurste spierbouers het heel dikwels steroïede in, al sê dit nie so op die etiket nie. Steroïede kan jou bloeddruk onomkeerbaar opstoot en jou hart aantas. Ons vermoed ook al sterker dat steroïede diabetes kan sneller, veral as jy familie met diabetes het.

Oor sportkoeldranke Hulle sit wel van die elektroliete terug wat jy uitgesweet het, maar hulle is so hoog in suiker dat hulle jou gewig kan laat aansit. Kry gerus ’n sportdrankie maar verdun dit. Jou niere het veral ná oefening die water nodig, nie monde vol suiker nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Oor Voltaren Dis nie amptelik ’n aanvuller nie maar sportlui leef daarop. Voltaren verminder die bloedvloei na jou niere; ná sport het jy vog verloor, en is jou niere “droog”; as jy die twee sitasies kombineer en ná sport Voltaren gebruik, kan jou niere skade kry. Drink altyd genoeg water tydens oefening, en veral saam met Voltaren.Dr. Amanda Claassen, voorsitter van die SA Sports

Nutrition Working Group

Ek het veral ’n probleem met die gehaltebeheer van spierbouers – of eintlik die algehele gebrek daaraan. Daar is geen standaard en géén wetstoepassing wat verseker dat die inhoud in die blik met die bestanddele op die etiket ooreenstem nie. Kontaminasie is algemeen.  Springbokrugbyspelers Chilliboy Ralepelle en Bjorn Basson het positief getoets, vermoedelik omdat hul sportaanvuller gekontamineer was. Ontledings bewys keer op keer dat daar ander bestanddele soos pro-hormone en stimulante in kan wees, of die produk kan te veel of te min van die aangeduide bestanddele bevat.

My tweede probleem lê by al die onbewese aansprake. Advertensies wys hierdie super V-lyfvorm en sespak-spiere. Dit wek die indruk dat die spierbouer vir jou spiere gee, terwyl die oefening en die regte dieet die kruks van spierbou en sportprestasie is. Spierbouers speel ten beste ’n klein rol. Die mite wat deur vervaardigers verkondig word dat sportlui nie met gewone kos in hul “needs” kan voldoen nie, is doodgewoon onwaar. Jy kán voldoende en beter nutriënte uit  jou dieet kry – oorgenoeg proteïen ook omdat ons oor die algemeen groot vleiseters is.

Die bewyse vir die res van die string bestanddele in die aanvullers wissel van twyfelagtig tot heeltemal afwesig. My derde probleem lê by die gebrekkige inligting wat oor die produkte aan die gebruikers deurgegee word. Die etikette sê niks oor doeltreffendheid, newe-effekte, kontra-indikasies en veiligheid nie. Dus weet gebruikers nie waarvoor hulle hulle inlaat nie. So weet mense nie dat kreatien min help as jy een van die mense is wie se liggaam in elk geval oorgenoeg kreatien maak nie, of dat daar sterk aanduidings is dat jou liggaam “verleer” hoe om kreatien te maak as jy voortdurend kreatien aanvul.
En niemand wys daarop dat geen navorsing nog gedoen is op mense jonger as 18 nie – dit sluit kreatienaanvuling in – terwyl ons weet dat seuns dit al van 14 af gebruik en nie eens hul ouers se toestemming nodig het om dit te koop nie. Ons weet nie wat dit op kort en lang termyn aan hul uiteindelike lengte, ontwikkeling, vrugbaarheid, brein en so aan kan doen nie. My vierde probleem lê by dosering. Die manne – en al hoe meer meisies – glo hoe meer hoe beter. Net die diepte van jou sak bepaal hoeveel jy gebruik. Party jongmense gebruik dus baie, baie meer proteïenaanvullers, kreatien, vitamiene en minerale as wat veilig en doeltreffend is. Geen apteek, sportwinkel of gim sê “soveel en niks meer nie”.

Dr. Ranel Venter, senior lektor in piekprestasie, Universiteit van Stellenbosch

Al wat ons nodig het om fikser te word en mooier spiere te bou is die korrekte soort oefening, saam met die optimale hoeveelhede proteïen (waarmee die spier gebou word), koolhidrate (wat energie verskaf vir die oefening om spiere te bou), en vloeistof (verkieslik water). My probleem lê by die skeefgetrekte idees oor hoeveelhede. Jy het nié daardie kilogramme proteïene en koolhidrate nodig nie. Jy mors bloot jou geld … of jou ouers s’n.

Meer proteïen bou nie meer spiere nie. En onthou, ons liggame is wonderlik aanpasbaar. Ná drie weke se oefening leer jou liggaam proteïen doeltreffend gebruik en het jy 40% minder proteïen nodig. Jy kan dus begin met ’n spierbouer maar ná ’n maand het jy dit nie meer nodig nie. As jy spiere wil bou maak so: Eet meer kere per dag. Ses kleiner etes werk beter as twee of drie grotes. Sorg vir die optimale hoeveelheid proteïene en koolhidrate – nie te min nie maar ook nie te veel nie. Dit lyk of tydsberekening (timing) ’n groot verskil kan maak. Neem jou voedsel of aanvulling direk ná die oefening.

Kreatiengebruik kan help met ’n vinnige toename in liggaamsmassa binne vyf dae maar baie hiervan is blote waterretensie. Matige kreatiengebruik kan help met kragontwikkeling. Die algemene riglyn vir kreatiengebruik
is dat jy die eerste vier dae so 20 g per dag neem.  Daarna is 1-2 g/dag meer as voldoende. Maar baie sportlui dink meer is nog beter en gebruik mega-dosisse. Daar bly kommer oor die langtermyngevolge van baie van die middels wat vandag gebruik word. Onthou, die hoeveelheid spiere wat jy kan bou, word maar eintlik deur jou genetiese potensiaal bepaal. Jy kan nie verby dit ontwikkel nie; jy kan wel die beste daarvan maak met ’n goeie oefenprogram en net genoeg van die regte soorte voedsel.

Colin Mitchell, kliniese sielkundige

Ek is sterk ten gunste daarvan dat alle seuns sport doen waarvan hulle hou sodat hulle fiks, sterk en gesond is, en dat hulle goed voel oor hul liggame. Spiere is deel van die manlike identiteit: dit is wat ons van vroue onderskei. Ons weet dat die meeste meisies daarvan hou as ’n man ’n paar spiere het. Maar ons weet ook dat baie vroue oordrewe spiere soos liggaamsbouers s’n aanstootlik vind. Binne die grense van die Ryk Neethling voorkoms  is fiksheid en oefening ’n gesonde belangstelling. Jy kan maar jou seun aanmoedig … en die voorbeeld stel.

Die motivering om spiere te bou is sterk, en nie noodwendig negatief nie. Maar ons leef in ’n geweldig mededingende gemeenskap – en boonop een waarin “mooi” mans toenemend die fokus kry en sportpresteerders wegstap met beurse en loopbane – en dinge kan handuit ruk. Ek dink ouers moet bekommerd raak as hul seun se spierfokus daarop gerig is om te kompenseer vir ’n persepsie dat hy nie goed genoeg is nie, of omdat hy angstig is en bang is hy gaan nie aanvaar word as hy “tingerig” of selfs net doodnormaal lyk nie. As hy sy selfbeeld op sy spiere grond, sy spiere vertoon om aandag en bewondering  te kry, glo dat die gespierdste man die belangrikste man is, deur sy spiere status soek, obsessief oor sy voorkoms raak, of sukkel om verhoudings te bou, moet julle dalk gesels. Onthou, geeneen van hierdie aspekte is abnormaal nie. Dit word eers ongesond as die balans uit jou kind se lewe verdwyn. Ek vra altyd twee dinge: Het jy pret?
Normale seuns oefen en leer nie die hele tyd nie: hulle kuier ook met vriende. Hulle gesels nie net oor gim, oefening en aanvullers nie maar ook oor musiek, geld, hul selfone, rekenaars, karre en girls en so aan. Hulle probeer meisies se aandag trek en sosialiseer buite die gim. En dan wil ek weet: Hoeveel tyd neem  dit in beslag? As jou ure in die gim jou van pret en studietyd weerhou, trek jou fokus skeef. Probeer agterkom waaroor dit vir hom gaan en watter waarde hy daaraan heg. Vir die meeste seuns is ’n bietjie perspektief oorgenoeg om balans te vind.

Nota

Ons gebruik gerieflikheidshalwe spierbouers as term vir al die soorte skommels, pille en poeiers wat gebruik  word, wat insluit: proteïendrankies vir spierbou; massabouers vir energie en om gewig aan te sit; en sportkoeldranke om elektroliete terug te plaas.

Kreatien en jou ander pille

Kyk mooi wat jy saam met jou kreatien gebruik. NSAID pynstillers met as aktiewe bestanddeel ibuprofen (soos Advil) of naproxen (soos Aleve) saam met kreatien verhoog jou risiko op nierskade. Kafeïen onderdruk jou liggaam se vermoë om kreatien te gebruik. Die twee werk dus teen mekaar. Saam dehidreer hulle ook jou liggaam, wat veral vir jou niere sleg is. Efedra in kombinasie met kreatien en kafeïen kan tot beroerte lei, al is jy in jou twintigerjare. Onthou: jou liggaam onderskei nie tussen kafeïen in jou spierbouer, in jou koffie en in energiestafies nie. Ook goed om te weet: Efedra is dieselfde as die Chinese krui Ma-huang, efedrien in verkouemedisynes, en is dikwels een van die bestanddele in natuurlike of kruiemiddels vir gewigverlies. Ontwateringspille dehidreer jou niere, wat veral saam met kreatien hulle kan beskadig. Cimetidien, ’n soort sooibrandmedikasie (soos Tagamet) verander jou liggaam se suurheid en kan so jou niere skaad.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose
Tags: tienerseuns

Onlangse plasings

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

10 hours Gelede

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

1 day Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 weeks Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.