kategorieë: Ons menseBekendes

YOMA gesels oor haar nuwe video, Wille Kat

Vertel ons meer van die video en liedjie Wille Kat.

Wille Kat vang vas hoe fierce elke vrou kan wees. Alhoewel vroue sag en broos mag voorkom, maak dit haar nie ’n swakkeling nie omdat elke vrou ’n wilde kat binne haar dra. Wille Kat handel oor ek wat swanger is en dat vroue nog steeds mooi en sexy moet voel tydens hul swangerskap. Ek het die lied geskryf nadat iemand ’n musiekvideo vir my wou skiet waarin ek letterlik met ’n wilde kat in ’n woud stap. Dit het deur die mat geval maar ek is dankbaar, want ek kon toe saam met die talentvolle dames by Black Gosling werk. Hulle het met voorstelle vorendag gekom om die sag én wild van ’n vrou vas te vang en ons het saam op die gekose tema besluit waar ons my YOMA- asook Wille Kat-persona uitgebeeld het. Dit was ’n absolute voorreg om saam met hulle te werk, hulle is so professioneel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

YOMA saam met die Black Gosling-span op die stel van Wille Kat

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Wat is die “wilde kat” in elke vrou?

Wille Kat is gekoppel aan instink. Vroue is oor die algemeen meer sensitief tot wat in en om hulle aangaan en dis wonderlik want instink tree in wanneer dit moet en lei mens in die regte rigting.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hoe het swangerskap jou musiek beïnvloed? En as persoon?

Swangerskap het alles omver gegooi; dit het alles vir en van my verander. Hierdie ervaring is so diep en mooi dat ek dit met almal wou deel en dis presies wat ek gedoen het op my album Moedertaal. Terloops, ek was ses maande swanger tydens die opname van die video vir Wille Kat!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wille Kat verskyn op Moedertaal. Vertel ons meer van die album.

Moedertaal is my hart en siel gestort in ’n projek. Omdat ek na ’n wye verskeidenheid musiek luister, was dit vir my belangrik dat dit op my album moet oorkom, dus glo ek dat daar iets vir almal is. Die album word volgende maand vrygestel en ek kan nie wag om dit met almal te deel nie!

Jy werk saam met DJ Ready D in Wille Kat en ek het ’n voëltjie hoor fluit dat daar ook ’n liedjie saam met Coenie de Villiers op die album is. Hoe was dit om saam met hulle te werk?

Dit is ’n absolute eer om saam met ’n legende soos DJ Ready D te kon werk, hy het soveel deure oogetrap vir Hip Hop in Suid-Afrika met Prophets Of The City en doen steeds so voort. Hy’s een van die nederigste mense wat ek ken. Daardie voëltjie fluit die waarheid! Ek deel ook ’n bietjie van my ervaring om saam met Coenie te werk in my blog vir rooi rose. Dis humbling om saam met kunstenaars te kon werk wie ek respekteer.

Wat is jou gunsteling-liedjie op die album?

Dis moeilik om te sê want ek hou eintlik van alles, maar een van die liedjies wat my na aan die hart lê is Oos Wes. Ek praat oor my stamboom en alhoewel ek ’n mengelmoes van bloedlyne is, is dit noodsaklik om trots te wees op wie jy is, want daar’s mooiheid in diversiteit. Raj Mohan, ’n Nederlandse kunstenaar wat onder andere Hindi-musiek skryf, feature daarop en my hart klop blomme wanneer ek daarna luister.

YOMA agter die skerms tydens die “Wille Kat”-musiekvideo

Jy is een van min vroulike rymkletsers (wat darem aan die toeneem is), veral in Afrikaans, en een van nog minder swanger rymkletsers. Waarom dink jy is dit belangrik om vrouwees en swangerskap in jou musiek te omhels?

As ek ’n keuse gegun sou word om my geslag te kies, sou ek weer kies om ’n vrou te wees. Vrouwees is ’n voorreg en moet gevier word, veral in die hip-hop-kringe waar vroue harder moet werk om erkenning en respek te verdien. Dis belangrik om my reis as ma te deel, want soveel mense is onbewus van wat dit alles behels. Ja, mens kan gaan oplees oor swangerskap, maar die internet deel nie sy hart met jou en die fyn detail van wat psigies met die vrou gebeur nie. Deur my storie te deel breek dit ook moontlike wanpersepsies.

Waarmee anders hou jy jouself besig?

Ek is op die oomblik in George (waar ek grootgeword het) en ek is dankbaar om die tyd saam met familie te kan spandeer. Ek is in my negende maand van swangerskap so ek is meestal by die huis, ek blog nog weekliks vir rooi rose en sal so voort doen tot in Desember.

Hoe en wanneer het jy begin met rymklets en Hip Hop? Wat van hierdie genres trek jou aan?

Hip Hop het my hart reeds op hoërskool kom steel, maar ek het dit eers ernstig begin aanpak toe ek klaar was met skool. Ek is verlief op die kultuur daarvan, op dit waarvoor dit staan en op die hoop wat dit vir jongmense bring wat uit haglike omstandighede kom.

Jy het oorspronklik in Engels begin rymklets en toe oorgeskuif na Afrikaans.

My ontmoeting met Hip Hop was Engels, daarom het ek in Engels gerym. Maar omdat my moedertaal Afrikaans is, kon Engels nie wie ek is die beste onderstreep nie. Dus het ek stelselmatig in Afrikaans begin rym tot waar ek dit uitsluitlik in Afrikaans begin doen het. Ek hoop dat dit ander die liberty sal gee om ook hul ding in hul moedertong te doen, want saam met taal kom kultuur en identiteit. Almal was nie noodwendig tevrede met my keuse nie, maar gelukkig het dit baie vroeg in my loopbaan gebeur so die skade was nie te drasties nie.

Wat beteken dit vir jou om deel te wees van ’n groep musikante wat die tradisionele grense van Afrikaanse musiek wil verskuif?

Dit kan soms swaar wees, omdat mense bietjie langer vat om verandering te aanvaar, maar terselfdertyd is dit bevrydend en ’n voorreg.

Na watter ander Afrikaanse musikante luister jy?

Coenie de Villiers, Stef Bos, Hemelbesem, Cream, Jaak Spraak, Burni Arman, Spoegwolf, Ixa … onder andere.

Vanwaar die naam YOMA?

Dit is ’n naam waarmee ek kan groei en dis lekker dubbelsinnig (ek is “YOMA” en “jou ma” in Afrikaans). Ek wil ook nuwe betekenis bring aan die konteks waarin “Jou Ma” gewoonlik gebruik word in die hoop dat dit nie altyd negatief sal wees nie. Dus was een van my eerste enkelsnitte “YOMA SIN” getiteld.

Jy gee baie om vir jongmense en veral vir jong vroue, en met jou werk op en van die verhoog af probeer jy hulle bemagtig. Waarom is dit vir jou belangrik en wat wil jy graag daardeur bereik? Waarom dink jy is musiek, veral, so effektief om uit te reik na ander mense?

Oor die algemeen dink ek meer vroue moet die bereidwilligheid hê om die volgende vrou te kan bemagtig; ons het dit nodig. Daar’s soveel druk van alle kante af en daar word vir ons voorgesê hoe en wie ons moet wees. Omdat ek ’n boodskap het en daagliks geïnspireer word deur sterk vroue, is dit vir my belangrik om dames nie net bewus te maak van hoe spesiaal hulle is nie, maar ook van die mag wat elkeen besit om ’n verandering te kan maak, al is dit hoe groot of klein; dis steeds ’n verandering. Musiek is kragtig omdat elkeen wat daarna luister dit op hul eie manier interpreteer -dít laat my toe om direk met die psige en harte van mense te praat. Musiek is my alles.

Watter raad sal jy vir ander jong vroulike kunstenaars gee?

Identifiseer wie jy is en wat jy na die tafel toe wil bring; kry rigting voor jy iets wil aanpak – dit help gewoonlik om teleurstelling te voorkom. Moenie terugstaan vir dit wat onmoontlik voorkom nie en moenie toelaat dat enigiemand jou klein laat voel nie. Jy is ’n geskenk van bo, geplaas op die aarde met ’n doel in gedagte. Doen jou ding!

Wat is die belangrikste les wat jy al geleer het? En wat sal jy graag wil hê jou kind moet weet?

Daar is ’n paar, maar een is dat mens nie die goedkeuring van ander nodig het om as toestemming te dien vir dit wat jy wil doen of bereik nie. Jy moet dit goedkeur, jy moet tevrede wees daarmee, want jy gaan die wilskrag moet uithaal wanneer dit moeilik begin word en dan is daar niemand om jou te help nie.

Ek wil hê my kind moet weet dat my kind genoeg is.

Wat maak jou gelukkig?

Aangename verrassings, lekker kos, om ligsinnig te wees saam met familie en vriende, mense se neigings en gesigsuitdrukkings, kinders wat leef asof elke oomblik hul laaste is …

Wat maak jou hartseer?

Mense wat hulself minag deur te glo hulle verdien nie die goed en die mooi in die lewe nie.

Wat wil jy nog bereik?

Ek wil fiks word om saam met my familie in die berge te gaan hike, te swem onder watervalle en in kristalpoele.

Kyk hier na YOMA se musiekvideo Wille Kat:

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.