Babylonstoren bied vanjaar A Garden of Gifts aan – ’n feestelike versameling wat oorvloed, die natuur en die vreugde van saamkuier vier.
Die versameling word deur Kersfees in die Kaap geïnspireer wanneer tuine lekker welig is, en dit vang die warmte en kleur van ’n somersviering vas. Groen skakerings uit die tuin, songebleikte neutrale skakerings en ryk, aardse aksente word gekombineer met natuurlike teksture, handgemaakte besonderhede en tydlose Kerstradisies.
Die Babylonstoren-ervaring
Die tuin is die vertrekpunt vir alles wat by Babylonstoren gekweek, verkry en gemaak word. Die invloed daarvan vloei deur die hele versameling – van bestanddele wat op die plaas geoes word tot artikels wat deur vaardige hande met uitgesoekte materiale gemaak word. Elke geskenk bied ’n sintuiglike uitdrukking van die plaas en sy eietydse, rustige leefstyl.
“Babylonstoren word die beste persoonlik ervaar, en om geskenke te gee, het een van die persoonlikste maniere geword om daardie ervaring te deel,” sê Tandi Oosthuizen, Babylonstoren se hoof van kleinhandel, e-handel en produkte. “Of dit nou ons huisgeur-, bad- en lyfversameling, linne, dekor of heuning is, elke geskenk vertel iets van die plaas en sy gasvryheid. Daarom is ons so passievol daaroor om die gee van geskenke moeiteloos én uitsonderlik te maak.”
Daar is Babylonstoren se langverwagte adventskalender, gevul met 25 unieke verrassings geïnspireer deur die plaas – van soet en sout lekkernye tot wyn en gunstelinge uit die bad- en lyfversameling.
Eetbare geskenke en seisoenale lekkernye
Eetbare geskenke speel ’n groot rol, waaronder ’n indrukwekkende sjokolade-Kersboom met verskillende lae, botaniese beskuitjies, wat ontwerp is om aan die Kersboom te hang, feestelike konfyt en heuning, panettone, vrugtekoeke en seisoenale gebak.
Vir die Kerstafel is daar ’n ruim verskeidenheid seisoenale lekkernye, soos feestelike kase en deelborde, gedroogde vleise en antipasti, gerookte ham, lamsvleis en eend, asook gereed-om-te-bedien-bykosse in. Vars kersies, bessies en produkte van die groter werkende plaas vorm ook deel van die aanbod.

Babylonstoren se goggahuisie-sjokolade. Foto: Babylonstoren
Kersmandjies en -versierings
Kersmandjies bring ’n sorgvuldig saamgestelde keur van Babylonstoren se gunstelinge bymekaar. Dit word pragtig aangebied en is gereed om as geskenk gegee te word – ’n deurdagte manier om ’n stukkie van die plaas met familie, vriende, kliënte en kollegas te deel.
Die versameling sluit ook viltdiere, Kersballe geïnspireer deur die tuin, ’n Kerstoneel, geurige Kersklapprs, treffende kerse, geborduurde tafellinne en fluweellinte in ryk kleure in. Natuurlike materiale en botaniese besonderhede verleen ’n subtiele, feestelike elegansie aan elke geskenk en saamkuiergeleentheid.
A Garden of Gifts nooi families en vriende uit om om ruim gedekte tafels saam te kuier, deurdagte geskenke te gee en na aan die natuur fees te vier – en bring sodoende die wonder van die tuin na Kersfees.

Die feestelike versameling is vanaf 1 Oktober 2026 by die plaaswinkels en aanlyn by shop.babylonstoren.com beskikbaar.
Lees ook: WEN ‘n Tokara Director’s-geskenkboks ter waarde van R1 500


