Resep deur Vickie de Beer. Foto Lee Schwagele van crphotographic.co.za
Genoeg vir 4.
Bestanddele
- 2 e (15 ml) botter
- 2 uie, fyngekap
- 1 t (5 ml) fyngekapte vars knoffel
- 1 e (15 ml) vars tiemie, van die takkies gestroop
- 2 middelslag-wortels, gerasper
- 2 t (10 ml) tamatiepuree
- 2 x 400 g-blikke heel tamaties
- 1 k (250 ml) goeie hoenderaftreksel
- 1 k (250 ml) melk
- ½ k (125 ml) crème fraîche
- sout en gemaalde swartpeper
- ’n hand vol vars basiliekruid, fyngekap
Kaasroosterbroodjies
- 1 k (250 ml) beleë kaas, gerasper
- 2 e (30 ml) korrelmosterd
- 2 e (30 ml) crème fraîche
- 4 groot snye brood, middeldeur gesny
Metode
Tamatiesop:
- Verhit die botter in ’n groot kastrol oor matige hitte en braai die uie, knoffel en tiemie vir 2-3 min. daarin. Voeg die wortels by en braai vir nog 2-3 min. of tot sag en gaar.
- Voeg die tamatiepuree by en laat die mengsel vir 2-3 min. kook.
- Voeg die geblikte tamaties en aftreksel by en bring die mengsel tot kookpunt.
- Voeg die melk by en laat die sop vir sowat 10-15 min. prut tot effens verdik. Voeg die crème fraîche by en trek van die hitte af.
- Verhit die oond tot 180 ˚C.
- Verwerk die sop in ’n voedselverwerker of met ’n stokmenger tot glad en romerig. Geur met sout en gemaalde swartpeper.
Broodjies: Meng die kaas, mosterd en crème fraîche in ’n mengbak.
- Skep 2 e (30 ml) van die kaasmengsel op elke sny brood.
- Sit die brood op ’n bakplaat en bak tot die brood bros en die kaas gesmelt is.
- Sit die tamatiesop met vars basiliekruid, ekstra crème fraîche en die warm kaasroosterbroodjies voor.
