genoeg vir 6 dun middelslag-pizzas of 4 dikker middelslag-pizzas
As jy nie tyd het om jou eie deeg te maak nie, koop brooddeeg by ’n bakkery.
1 000 ml (4 k) broodmeel
10 g (1 pakkie) kitsgis
10 ml (2 t) sout
375 ml (1½ k) louwarm water
30 ml (2 e) olyfolie
1 Meng die meel, gis en sout in ’n elektriese menger. Voeg die water en olie by terwyl die menger hardloop.
2 Knie die deeg vir 5 min. in die masjien tot glad en elasties, of vir 10 min. met die hand op ’n meelbestrooide werkvlak.
3 Sit die deeg in ’n skoon bak wat liggies met olie gesmeer is, smeer die deeg ook ligweg met olie. Bedek met ’n doek en laat rys tot dubbel die grootte.
Botterskorsie-gorgonzola-en-spek-pizza
Genoeg vir 6-8 klein pizzas
1 basiese pizzadeeg (resep bo)
250 g botterskorsieblokke
olyfolie om oor te sprinkel
sout en gemaalde swartpeper
5-10 ml gekapte brandrissie (meer as jy van brand hou), gemeng
met 30 ml (2 e) olyfolie
150 g gorgonzola, ruweg gekrummel
250 g blokkiesspek, bros gebraai
hand vol roketblare
Voorverhit die oond tot 220 °C. Verhit ’n bakplaat in die oond.
1 Sit die botterskorsie op ’n ander bakplaat, sprinkel die olyfolie oor en geur na smaak. Rooster vir sowat 15 min. tot gaar.
2 Verdeel die deeg in 8 balle en rol elk op ’n meelbestrooide werkvlak uit.
3 Bak een pizza op ’n slag op die warm bakplaat en bak vir 5 min. tot amper gaar. Haal uit.
4 Smeer die halfgaar pizza met die brandrissieolie en sit die botterskorsie, kaas en spek bo-op. Bak tot goudbruin en gaar. Herhaal met die res van die deeg. Sit voor met roketblare bo-op.
Lees ook: Glutenvrye tortilla-pizza