kategorieë: Leef gesondGesondheid

Bipolêr, buie & jy

Dui jou bui op PMS of die menopouse? Of is dit depressie, bipolêre depressie of ’n ander gemoedsiekte? Of is jy maar net op die outydse manier hartseer? Hoe weet jy? Psigiaters Liezl Koen en Katinka Botha antwoord vrae oor buie en gemoedsiektes. Hul antwoorde is nie as diagnoses bedoel nie maar eerder sodat ons beter verstaan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

1 Ek word jare lank al vir depressie behandel maar ná ’n onlangse trauma kan ek nie slaap, eet of konsentreer nie. Het ek dalk nou manies – en dus bipolêr – geword?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Liezl Om die vraag te beantwoord moet jy die verskille tussen hartseer, depressie en bipolêre depressie verstaan: Alle mense ervaar hartseer ná ’n gebeurtenis soos ’n sterfte en voel huilerig, moeg en ontsteld. Maar ons praat eers van ’n gemoedsteuring as jou hartseer minstens drie weke lank duur en dit jou so oorweldig dat jy nie soos altyd kan funksioneer nie, of as jy hartseer is ten spyte daarvan dat alles met jou goed gaan. Die onderskeid lê daarin dat ’n hartseermens gewoonlik ’n goeie rede daarvoor het maar nogtans met sy dagtake kan voortgaan, terwyl ’n depressiewe mens se lewe tot stilstand kom. Hy kan nie cope nie, voel oorweldig, sukkel om te konsentreer en onttrek.

Mense met bipolêre depressie ervaar twee gemoedskommelings: depressie soos die depressielyers en ’n uiters energieke fase waarin hulle besonder goed voel. Hierdie energie is anders as die energie van ’n dinamiese mens: waar ’n mens met gewone energie produktief is en werklik ’n groot klomp take afgehandel kry, is die bipolêr in sy maniese fase eintlik onproduktief, al klink of lyk dit nie so nie. Hy sal baie praat en honderd dinge tegelyk doen maar niks kom klaar nie. Die simptome waarvan jy praat, klink soos depressie wat vererger het. As jy nie manies of “hoog” en hiperenergiek is nie, het jy nie bipolêre depressie nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Katinka Ná ’n trauma is post-traumatiese tressindroom ’n moontlikheid. Mense met depressie ontwikkel juis makliker PTSS. Of dalk het jou depressie vererger, wat ook kan gebeur. ’n Ander moontlikheid is tagifilakse: die liggaam raak gewoond aan die medikasie, en dan moet jy oorskakel na ’n ander soort antidepressant.

2 Ek is nuut in die bipolêre bedryf. Ek ken depressie baie goed maar ek was verbaas oor my psigiater se diagnose vroeg 2010. Ek het nog nooit drie dae nie geslaap nie. Hoe is dit dan moontlik?

Liezl Dis ’n mite dat alle bipolêre mense deur hipermaniese fases gaan waartydens hulle nie slaap nie en allerlei vreemde dinge aanvang. Mense vergeet dat bipolêre depressie in verskillende grade voorkom. Dis net die mense met tipe 1 wat swaai van hipermanie (waartydens hulle byvoorbeeld drie dae nie slaap nie) na diepe neerslagtigheid. Mense met tipe 2 ervaar dieselfde swaai maar in ’n ligter graad, met ’n ligter oorgestimuleerde fase, oftewel hipomanie. In werklikheid is baie tipe 2’s se maniese fase so lig dat hul huismense dit sien as vreemde gedrag, of as ’n bui wat oorwaai. Daarom word tipe 2 dikwels misgekyk en as buierigheid afgemaak.

Nog ’n rede waarom tipe 2 moeilik diagnoseer, is dat baie mense net enkele maniese episodes in hul leeftyd ervaar. Ons weet maar eers dit is bipolêre depressie wanneer iemand saam met sy depressie ’n maniese episode beleef.

Daar is ook ander soorte bipolêr, soos vinnig veranderende bipolêre depressie (rapid cycling) waar mense binne ’n dag of ’n paar dae swaai. Hul huismense sal hulle as uiters buierig ervaar.

3 Ek is bang my bipolêr kan in skisofrenie ontwikkel. Kan dit?

My buie raak erger, en ek moes ophou praktiseer, wat vir my ’n geweldige verlies is.

Katinka Skisofrenie is iets heel anders: hierdie mense het delusies of wane en verloor kontak met die werklikheid. Hulle sal byvoorbeeld dink dat hulle supervermoëns het, dat God hulle ’n spesiale opdrag gegee het, dat hul telefoongesprekke afgeluister word en so aan.

Liezl Dit is nie die normale verloop dat bipolêre depressie in skisofrenie verander nie. Gewoonlik bly bipolêre depressie jou lewe lank redelik konstant. Eintlik sien ons dikwels dat dit “beter” raak. Nie omdat dit ooit genees nie (dit is ongeneeslik) maar omdat die meeste mense hul simptome beter leer ken en hulself met meer insig leer bestuur. Maar baie mense ervaar dat hul medikasie voortdurend aangepas moet word. As jou siekte vererger, moet jy na jou medikasie laat kyk.

4 Wat is ’n gesplete persoonlikheid?

En ’n psigopaat en ’n psigose? Die een dag vermoor my man troeteldiere en bedank sy werk om ’n diamantsmokkelaar te word; die volgende dag huil hy soos ’n kind.

Katinka Ons gebruik nie meer die term “gesplete persoonlikheid” nie. ’n Psigopaat het geen insig in die gevolge van sy dade nie en het geen sosiale gewete nie. Waar bipolêre ’n gevaar vir hulself is, is skisofrene en psigopate ’n gevaar vir die gemeenskap.

Liezl ’n Psigose het niks met psigopatie te doen nie: Ons noem dit wat die skisofreen hom verbeel ’n psigose, met ander woorde die persoon glo iets wat heeltemal ongegrond is en nie werklik bestaan nie. Hy sal byvoorbeeld stemme hoor of vreesaanjaende drogbeelde sien. ’n Psigiater evalueer gedrag en besluit daarvolgens watter soort gemoedsiekte ’n persoon het.

5 Ek het definitief genetiese depressie en is sedert die jare negentig op medikasie, selfs tydens my swangerskappe.

My man is ongemaklik met die sosiale stigma van depressie. So bitter min mense weet van my siekte en ek het dus nie ’n sosiale ondersteuningstruktuur nie. Wat kan ek daaraan doen?

Katinka Ideaal gesproke staan jou maat jou by. Maar almal verstaan nie depressie nie en baie mense glo dat mense met depressie nie produktiewe, betroubare lede van die samelewing kan wees nie. Beter ingeligtheid help gewoonlik. Kan jou man dalk saam met jou na jou psigiater gaan, wat hom hopelik met feite en inligting van die geldigheid van depressie as ’n siekte kan oorreed? So ’n magdom navorsing en soveel mense kan darem seker nie almal verkeerd wees nie? Wat van ’n boek of twee? Ontsnap van Depressie van Piet Oosthuizen gee uitstekende, maklik verstaanbare inligting.

Liezl Dit kan baie ekstra druk op jou plaas – en tot jou depressie bydra – as jy jou siekte alleen moet dra. Dit help as jy openlik kan wees, al is dit teenoor net een mens. ’n Sielkundige wat jou so een keer per maand mentor, is nie so duur nie. Oorweeg ook SADAG, wie se beraders elke dag van agtuur soggens tot agtuur saans spesifiek reg staan om mense te ondersteun. (tel. 0800 21 22 23; www. sadag.co.za). Oproepe na hulle is gratis. Die kuberruimte voeg ’n nuwe dimensie tot ondersteuning.

6 My nageboorte depressie het nog nooit opgehou nie.

Voor my kinders het ek al met depressie geworstel maar dit het baie erger geword ná my kinders se geboorte. Die min slaap, min eie tyd en min privaatheid was net vir my een te veel. Ek is baie lief vir my kinders maar as ek voor die tyd geweet het wat voorlê, sou ek dalk weer gedink het voor ek aan sulke pragtige, spesiale kinders ’n ma met depressie “gegee” het. Mense met depressie moet dalk maar nie swanger word nie, want dis ’n onreg teenoor hul kinders.

Liezl Dit is waar dat die groot hormoonskommelings tydens swangerskap en kort ná die bevalling vir vroue ’n belangrike sneller vir depressie is. Jou risiko is groter as jy tevore depressie gehad het, of bestaande depressie kan vererger. As jy naby-familie met depressie het, het jy dalk ’n genetiese risiko op depressie, wat ook deur swangerskap gesneller kan word. Daarby is die versorging van ’n baba ’n veeleisende aanpassing – nog ’n depressiesneller. Maar dit beteken nie dat mense met depressie nie kinders moet hê nie. Jy is net meer weerloos en het meer ondersteuning nodig – medies, fisieke hulp en onderskraging van jou maat of iemand anders.

Katinka ’n Terugval weens swangerskap is ’n sterk moontlikheid maar ’n hele paar antidepressante is veilig vir swanger vroue, soos Zoloft, Cipramil en Prozac. Swanger depressielyers hoef nie te vererger nie – hulle moet net met hul psigiater saamwerk. Insig is ook belangrik: hoe beter jy tekens van depressie by jouself kan raaksien, hoe vroeër kan jy die nodige hulp vra. As jy opmerk dat jy al meer “af”, huilerig en oorweldig voel, dat jy sukkel om met jou baba te bind, of dat jy dalk nie alleen die mas gaan opkom nie, is dit tyd om jou dokter te spreek. Alle nuwe ma’s is oormoeg, maar almal is nie depressief nie. As iemand kom help en jy voel weer reg, is jy net ooreis. As jy ondanks die ekstra rus oorstuur bly, het jy moontlik met depressie te doen, veral as jy weke aaneen so bly voel.

7 Ná my diagnose voel my hele lewe soos ’n klug. Watter deel van my lewe en optredes is ek, en watter deel is bipolêre depressie?

Almal probeer die siekte vergelyk met diabetes, maar diabetes beïnvloed nie jou optrede of gemoed nie.

Katinka Jy sal verbaas wees in watter mate diabetes, chroniese pyn en ander siektes mense se gemoed aantas …

Bipolêre depressie verander nie jou talente nie. As jy kunstig is, of ’n goeie sakevrou, of briljant met syfers, of ’n grapkas, is jy dit tydens jou op- én jou af-fases. Al verskil is dat jy in jou maniese fase ’n hoë eiewaarde het en voel asof jy baie suksesvol is, al is dit ’n misvatting. Tydens jou af-fases sal jy weer te moeg voel om iets te verrig. Wanneer jy jou bipolêre depressie goed bestuur is, leef jy jou talente die beste uit en is jy op jou produktiefste. Wat jy bereik, het jy bereik, nie jou bipolêre maniese fase nie.

Liezl Jy het hier dalk met ’n aanpassingprobleem te doen. Almal van ons aanvaar nie sommer ’n siekte nie, maak nie saak of dit diabetes of depressie is nie. Werk aan jou selfbeeld: Maak ’n lys van jou goeie eienskappe en fokus op al die positiewe dinge wat jy bereik het, sonder om te oordeel of dit in jou maniese of depressiewe fase gebeur het. As jy nou stabiel is en jou medikasie korrek gebruik en jouself goed bestuur, kan jy gerus ook maar die negatiewe dinge agter jou sit en vergeet. Jy is mos nou op ’n nuwe plek met ’n nuwe koers en ’n toekoms met hoop.

8 Noudat ek op my medikasie is, is my bui stabiel, waaroor ek bly is. Maar ek mis my kreatiwiteit. Tevore was ek baie meer skeppend.

Sal dit help as ek my pille los wanneer ek dit nodig het om kreatief te dink – ek is ’n binneversierder.

Liezl Dis ’n algemene misvatting dat alle mense met bipolêre depressie kunssinnig is en dat ’n hoë persentasie kunstenaars bipolêr is. Jou talente en gawes hou nie met jou bipolêre depressie verband nie. Bankbestuurders, onderwysers en dokters is net so geneig tot bipolêre depressie as sangers, skilders en akteurs. Maar kunstenaars is moontlik mense wat hulself meer uitdruk en makliker daaroor gesels as ander mense wat vanweë hul beroep hul siekte privaat hou. Dis ook waar dat byvoorbeeld skilders in hul bipolêre fase baie produktief voel – en hulle is in die paar dae terwyl hulle van “gewoon” na die maniese fase beweeg. Maar sodra hulle voluit manies raak, tree daardie onproduktiewe fase in. Dis nooit slim om jou medikasie te los nie, want jy kan glad nie voorspel hoe jou brein gaan reageer nie – dis iets waaroor jy geen beheer het nie. Die risiko is groot dat jy ’n baie groot terugval beleef en daarna baie meer medikasie benodig, of dalk nooit weer goed op jou medikasie aanpas nie. Moenie dit eens oorweeg om jou medikasie ter wille van ’n bietjie woema te los nie. Praat liewer weer met jou psigiater hieroor.

9 My skoonsuster is ontsettend buierig en eintlik doodeenvoudig onbeskof. Die dokter sê sy is bipolêr?

Katinka Mense dink dat bipolêre mense in hul maniese fase noodwendig uiters vrolik voel, ene energie is en die siel van die partytjie is. Maar party is besonder geïrriteerd, gou woedend, aggressief en algemeen moeilik. Hierdie groep bipolêre mense kry besonder swaar, want hulle het nooit ’n “goeie” tyd nie: hul gemoed wissel tussen depressie en irritasie.

10 Wat van PMS en die menoupouse? Kan dit tot depressie ly?

Hoe weet ek my huilerigheid word deur depressie veroorsaak? Ek is 48. Sal hormoonterapie help? Ek het ’n histerektomie gehad.

Liezl Vroue is beslis meer geneig tot depressiewe episodes of buierigheid in die drie lewensfases waarin hul hormone die meeste skommel: die tienerjare, swangerskap en menopouse. Maar dit gaan nie oor jou hormone nie. Dis die balansversteuring wat die emosies soos woede, buierigheid en huilerigheid veroorsaak. Jy het PMS as jy jou gemoedstoestand aan jou menstruasiesiklus kan koppel. Daar moet ’n duidelike patroon wees wat oor minstens ses maande strek. Gewoonlik kla vroue ook van ander simptome soos opgeblaasdheid en geswelde hande. Die meeste vroue beheer hul gemoed beter sodra hulle PMS kan uitken en dus hul emosies verstaan. Maar as dit jou vermoë om jou werk te doen en jou verhoudings skaad, moet jy na medikasie kyk. Die Pil kan help, want dit stabiliseer die hormoonsiklus; vir ander is antidepressante reg. Dieselfde geld die menopouse: Behandeling met ’n antidepressant of hormoonterapie is die regte opsie as sake so handuit ruk dat dit jou lewe, werk en gesin pla.

* Uit: Ontsnap van depressie deur dr. Piet Oosthuizen

Jou breinchemie en jou bui

Die brein bly ’n wonderwêreld waarvan ons steeds min verstaan. Maar ons weet wel dat daardie gevoelens van opwinding, depressie of angs wat in jou opwel, direk gekoppel kan word aan die vlakke van veral vier neurostowwe in jou brein: serotonien, dopamien, noradrenalien en estrogeen by vroue. ’n Bietjie te veel van die een, en jy raak angstig. Of ’n bietjie te min van ’n ander en jy is depressief. Maar onthou, wat werklik in jou brein gebeur, is baie meer kompleks. Juis daarom is hulle werklike siektes wat met medikasie reggestel kan word.

Lees ook:Stres: Gee aandag aan jou liggaam se waarskuwingstekens

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

4 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

5 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

5 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.