kategorieë: Verhoudings

Menopouse: ’n sensueler jy

Menopouse is ’n woord wat jou woordeskat ongenooid binnesluip. Die een oomblik is jy nog jonk, die volgende doem die begrip “middeljarig” voor jou op. En as mense van gemoedskommelings, ’n toename in gewig en ’n afname in libido begin praat, kan ’n voortydige warm gloed (suiwer angs) jou tref. Wat wag wanneer jy aan die einde van jou vrugbare jare kom?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Daar kan heelwat verkeerd loop tydens en ná menopouse, maar ek verkies om vroue te wys op alles wat rég kan loop,” sê dr. Christiane Northrup, bekende Amerikaanse ginekoloog, vrouegesondheidskenner en topverkoperskrywer. “Dis ’n mite dat vroue op vyftig oor die muur is. Inteendeel: ons beste jare lê dan voor. Ek beklemtoon graag dat ons liggame ontwerp is om grenslose genot te ervaar – en dit sluit die opwindendste seks van jou lewe in.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

In The Secret Pleasures of Menopause brei dr. Northrup op haar onortodokse sienswyse uit. Vreugde, sê sy, is net ’n kopskuif ver. Hier verwys sy na vervulling op alle lewensgebiede: fisiek, emosioneel, verstandelik en spiritueel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Die tydperk van sowat ses tot dertien jaar wat tot jou laaste maandstonde – gemiddeld op 52 – lei, is ’n uitsonderlike, biologies ondersteunde geleentheid om geboorte te gee aan ’n nuwe jy.

“Hormoonveranderings veroorsaak nie net algemeen bekende simptome soos borsteerheid en ’n gebrek aan konsentrasie nie; dit beïnvloed ook die manier waarop ons dink en inligting verwerk. Baie vroue voel byvoorbeeld sterker oor onreg en spreek hulle makliker daarteen uit. Ons intuïtiewe vermoëns verskerp. Omdat ons nie meer lewensenergie gebruik om maandstondes te hê en babas te kry nie, ervaar baie van ons die drang om iets nuuts te skep, of dit nou ’n gedig of ’n nuwe onderneming is. Vergete drome kom klop weer aan. Dis asof jou siel sê: ‘Wanneer is dit my’ beurt?’”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Om jou lewe in heroënskou te neem, is al klaar ’n angswekkende vooruitsig – laat staan nog jou deur leefstyl- en ander veranderings te herskep. Is dit die moeite werd?

Die menopouse is nie net ’n gulde geleentheid hiervoor nie, maar ’n wekroep waarvoor jy jou kwalik doof kan hou, sê dr. Northrup. “Van tienertyd tot in ons veertigs is ons liggame meer vergewensgesind.

As jy oorspanne of oorwerk is, rook, verkeerd eet, te veel drink en te min oefen, kan jy steeds redelik gesond voel. In die middeljare raak dit moeiliker. Vroue wat die menopouse emosioneel of voedingsgewys uitgeput binnegaan, toon die ernstigste simptome, en ervaar ook later swakker gesondheid. Daarenteen sukkel vroue wat gesonder leef minder met ’n verlies aan beendigtheid en geslagsdrang, kardiovaskulêre probleme, depressie, vergeetagtigheid en so meer.

“Ons vergeet ook dat ons liggame akkurate barometers is van die mate waarin ons in ooreenstemming met ons sielswysheid leef. As jy jou diepste gevoelens en verlangens bly verontagsaam, miskien omdat jy bang is jy sal die mense na aan jou ontstig, kan jy meer las van menopousale simptome verwag. Die liggaamsielverband neem tydens die menopouse toe.”

In ’n neutedop: om die meeste te maak van die jare wat vir jou voorlê, is dit van deurslaggewende belang om die dinge te heroorweeg wat op verskillende gebiede vir jou werk of nie. Die uitslag hoef nie ’n neerdrukkende lys van moets en moenies te wees nie. Inteendeel: volg jy dr. Northrup se raad, sal jy jou tot blywende verandering verbind juis omdat jy die goeie gevolge aan eie lyf ervaar. Veranderings wat jy treetjie vir treetjie maak, kan op die lange duur meer energie, eiewaarde en lewensvreugde beteken. Klink dit nie aanloklik nie?

Die geheime bestanddeel

Hoe sou jy voel as iemand jou sou beskryf as ’n vrou wat plesier najaag? Ons kultuur het gemengde gevoelens oor die spontane genieting van die sensuele. Baie van ons het grootgeword met die onuitgesproke oortuiging dat lekkerkry sleg of sondig is.

Genot word dikwels beskou as ’n vermorsing van tyd, of iets wat ons met harde werk moet verdien. Daarby staan haar eie plesier vir menige vrou agter dié van haar gesinsgenote in die ry.

In The Secret Pleasures of Menopause voer dr. Northrup aan dat die daaglikse ervaring van genot noodsaaklik is vir gesondheid en geluk – dis nie bloot ’n luukse nie. Sy staaf die aanspraak deur te wys op onlangse navorsing oor stikstofmonoksied, ’n gas wat deur ons liggame vervaardig word.

Wanneer jy iets lekkers ervaar, word stikstofmonoksied deur die voering van jou bloedvate vrygelaat. Dit stimuleer jou bloedsomloop sodat jou selle flukser gevoed en afvalstowwe vinniger verwyder word. Sellulêre inflammasie wat met hartsiektes, kanker, diabetes en beroerte verbind word, word hierdeur beperk.

Stikstofmonoksied stimuleer ook die produksie van neuro-oordragstowwe soos beta-endorfien – wat pyn verdoof en gevoelens van ekstase skep – en prolaktien, die sogenaamde verbintenishormoon.

Prolaktien word onder meer tydens borsvoeding en orgasme vrygestel en laat jou nader aan jou baba of geliefde voel.

Stikstofmonoksied bevorder kommunikasie tussen die denkende en niedenkende dele van jou brein. Jou gedagtes het ’n onmiddellike uitwerking op die niedenkende deel wat onder meer jou asemhaling, hartklop en bloeddruk reguleer. Dink jy ’n positiewe gedagte, sorg stikstofmonoksied dat al jou organe ’n kragtige “alles is wel”- boodskap kry.

Stikstofmonoksied sneller ook aksies soos weefselherstel en die weerstand wat jou witbloedselle teen infeksie bied. ’n Groot voordeel van stikstofmonoksied is dat dit ’n gas is en blitsig deur selmembrane kan beweeg.

Stikstofmonoksied gee nie net jou gesondheid en gemoedstoestand ’n hupstoot nie; navorsing wys dat hoë vlakke daarvan tot diepgaande spirituele ervarings kan lei.

Wanneer jy daarenteen gespanne bly en selde plesier ervaar, vervaardig jou liggaam streshormone wat jou stikstofmonoksiedvlakke laat daal. Irritasie, frustrasie, terneergedruktheid en selfs woede kan die gevolg wees. “Dis dan wanneer jy na vinnige verligting gryp – ’n oormaat suiker, kitskos, alkohol, koffie, sigarette of verdowingsmiddels. Jy voel beter, maar op die lange duur het jy al hoe meer van jou quick fix nodig, soms met noodlottige gevolge.

Dis baie sinvoller om jou brein en lyf daagliks met stikstofmonoksied vol te maak.”

Hoe doen jy dit?

Al is jou stikstofmonoksiedvlakke hoe laag, is dit nooit te laat om dit doelbewus te begin opstoot nie. Die geheim is om elke dag daaraan aandag te gee. “Die molekules se leeftyd is enkele sekondes. Ons kan dit nie stoor nie. Jou liggaam kan hope daarvan vervaardig, maar dit gebeur nie outomaties nie. Jy moet jou daarop toespits. Gelukkig kan dit lekker wees!”

Die eerste stap is om opbouende gedagtes te kies. Binne hierdie raamwerk is positiewe denke nie net ’n modewoord nie; hoe jy dink, het ’n meetbare invloed op jou welsyn.

Positief wees beteken allermins dat jy negatiewe gevoelens onderdruk. “Dis essensieel om jou emosies te voel en op ’n gesonde manier uit te druk. Neem ’n oomblik om vas te stel hoekom jy so voel, en verander die omstandighede of jou reaksie daarop. Jy sal tog nie in vuil badwater bly sit nie! Dieselfde geld emosies soos leed en vrees.

“Onthou ook dat die middeljare emosioneel stormagtig kan wees. Diep verborge emosies kan nou na vore kom. Talle vroue ervaar woede oor omstandighede wat hulle vroeër gelate aanvaar het. Soms voel dit soos die einde omdat jy ’n rol, verhouding, leefstyl of posisie wat meer energie verg as wat dit jou gee, wil laat gaan.

Sien dit as die geboortepyne van ’n nuwe self en kry terapeutiese hulp as jy moet.”

Die volgende stap is om so gesond moontlik te leef. Werk saam met ’n gesondheidskundige om toestande soos hoë bloeddruk onder beheer te kry. “Let op hoeveel beter jy voel as jy verstandig eet, aanvullings ryk aan anti-oksidante neem, genoeg water drink, oefen en slaap, en ophou rook.”

Aktiwiteite soos joga, meditasie, massering, akupunktuur, kalmerende musiek, seks en lekker lag wakker stikstofmonoksiedvlakke aan.

Bederf jou waar jy kan. Behalwe salonbehandelings, ’n nuwe haarstyl en so meer, kan jy jou voete elke aand liefdevol met room insmeer. ’n Ander oefening wat aanvanklik ongemaklik kan wees, maar jou selfbeeld ingrypend kan verbeter, is om dertig dae lank twee keer per dag voor die spieël te staan en met liefde na jouself te kyk, soos na ’n klein kindjie. Sê: “Ek aanvaar myself onvoorwaardelik.” Pleks van jou maag te kritiseer, dink jy byvoorbeeld daaraan dat dit besondere kinders in die wêreld help bring het. Hoe jy jouself sien, bepaal hoe jy oor jouself voel en ook hoe ander jou waarneem.

SLAAPKAMERSAKE

In The Secret Pleasures of Menopause lê dr. Northrup klem op praktiese maniere om meer seksuele vervulling te ervaar.

“Solank jy fisiek en emosioneel gesond is, is daar geen ouderdomsbeperking op passie nie. Ons is almal tydens orgasme verwek; dit spreek vanself dat genot ons geboortereg is. Goeie seks begin in jou kop. As jy jou sintuie doelbewus voed, sal jy ontvankliker word vir plesier.”

Jy kan jou sensuele sy volgens dr. Northrup só ’n hupstoot gee:

Maak ’n lang lys van alles wat jou plesier gee. Is dit vars blomme, ’n skuimbad of ’n aandjie uit? Beplan jou dag om verskeie vreugdes in te sluit. Sien dit as ’n voorskrif vir gereelde dosisse stikstofmonoksied.

Herbedraad jou gedagtegang. Eien gedagtes soos “Ek is te oud” of “Ek is nie meer mooi nie”, maar moet hulle nie summier veroordeel nie. Vervang hulle algaande deur positiewer gedagtes. Dié proses vra geduld.

Lees romanses, kyk na sensuele flieks, luister na romantiese musiek – wat jou ook al lekker laat voel.

’n Vrou wat begeerlik voel, is magneties. Wanneer ons leer om op genot te fokus, eerder as om ons gedurig met een of ander onbereikbare ideaal te vergelyk, word ons waarlik sexy – maak nie saak wat ons rokgrootte is nie.

Neem verantwoordelikheid vir jou tevredenheid tussen die lakens. Sê of wys vir jou maat wat jy genotvol vind. Dit kan jy natuurlik net doen as jy jou liggaam ken. Die mites rondom masturbasie is besig om te verdwyn. Dis ’n gesonde aktiwiteit wat onder meer jou bloedsomloop stimuleer, en ’n sinvolle opsie vir mense sonder maats.

Onbevredigende seks kan beteken dat jy te sterk op orgasme fokus. Geniet eerder die fisieke en emosionele nabyheid. Die reis is belangriker as die bestemming. Dié soort veranderinge kan weerstand, skuldgevoelens en selftwyfel sowel as kritiek van jou nabymense ontlok. Werk daardeur. Herinner jouself gereeld dat ’n doelbewus sensueler manier van leef in belang van jou gesondheid is – jou gewig, slaappatroon, bloeddruk en hormoonvlakke – alles vind baat daarby. Les bes sal ’n vervullender leefstyl jou lewensvreugde wyer laat uitkring: “Vroue wat in hul middeljare blom, voed ander met kragtige lewensenergie.”

INTENSER GENOT

Antieke asemhalingsoefeninge uit die Taoïstiese tradisie kan jou help om alle vorms van plesier, ook orgasme, ten volle te ervaar.

Maak jou oë toe en haal stadig en diep asem, tot in jou maag. Ervaar hoe jou hele liggaam die energie in elke asemteug indrink. Geniet dit. Wanneer jy later eet, “proe” die kos met jou hele lyf; as jy iets moois sien, verbeel jou dat jou hele liggaam saam kyk.

Sit jou tong teen jou verhemelte. Asem in en visualiseer hoe ’n goue bal van lewensenergie van jou perineum (tussen die vagina en anus) langs jou ruggraat op beweeg. Hou jou asem op terwyl jy sien hoe die bal in jou brein in die rondte spin. Asem uit en visualiseer hoe die bal langs jou tong en die voorkant van jou lyf terugbeweeg. Herhaal, of spin en “bêre” die bal agter jou naeltjie tot die volgende keer.

Lees ook: Slaap en menopouse

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.