Blindelingse vertroue: deel 2

Ek voel op die daad ’n bietjie nutteloos, want, wát maak ek nou?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Waarmee moet ek jou help?” vra ek die vreemdeling, so bang ek sê of doen iets verkeerd.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Laggend antwoord sy: “Ek moet hierdie heeltemal te groot T-shirt aantrek. Ja, ek weet dis te groot, want dit voel na té veel T-shirt!”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ek help haar in die beknopte hokkie van die toilet in en na ’n rukkie kom sy te voorskyn met die heldergroen Pioneer Rally T-hemp aan en ’n trotse glimlag op haar gesig.

“Ek is nou reg vir aksie!” lag sy.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ek beduie ons moet weer op ’n knop staan in die hoek sodat ek die deur wat binnetoe swaai, kan oopmaak vir haar.

En, eensklaps verstaan ek hoe dit moet voel vir ’n bekende wat ’n eerste keer aan die Pioneer Rally deelneem.

Want, al bly ek al 15 jaar op Worcester, is die onbekendheid van interaksie met ’n blinde persoon, seker vir my net so ’n vreemde, nuwe terrein as vir die meeste nuwe bestuurders van vanjaar se Rally.

Die atmosfeer in Audi Somerset-Wes is gelaai met energie en afwagting. Die navigators sit vroegoggend reeds in hulle neongroen Rally-hemde by die lang tafels en gesels. Beamptes skarrel om seker te maak die navigators het iets te ete en drinke en dat al die reëlings rondom dié langverwagte dag vlot verloop.

Midde die geskarrel het almal egter heeltyd ’n glimlag. ’n Mens kan aanvoel hier is iets groots en positief aan die gebeur.

Een-een en in klein groepies daag die bekendes op en teken in waarna hulle die sleutels vir hulle Audi vir die tydren ontvang.

Waarom deelneem aan juis die Pioneer Rally?

“Daar is net iets spesiaal aan die Pioneer Rally,” sê die aktrise Anna-Mart van der Merwe. “Dit is nie net nóg ’n fondsinsameling nie, want jy spandeer die hele dag saam met blindes. Jy leer hulle ken en hoor hoe hulle hul pad vind deur elke dag. Om die wêreld deur hulle sienswyse te sien, laat my ook anders kyk na my wêreld.”

“Twee ure in ’n motor saam met ’n siggestremde haal jou beslis uit jou gemaksone,” beaam Tim du Plessis wat vanjaar die derde keer deelneem aan die Rally. “Omdat ek ’n joernalis is, is ek nie bang om moeilike vrae te vra nie. Ek vra my navigator hoe lank hy al blind is en hoe hy die wêreld ervaar en só verstaan ’n mens ’n bietjie van die leefwêreld waaroor mens andersins te skaam is om te vra – dalk omdat mens skuldig voel oor jou eie nie-gestremdheid? Hierdie Rally is die beste manier om jouself en ander bewus te maak van die wêreld waarin blindes leef.”

“Hierdie Rally is die beste manier om jouself en ander bewus te maak van die wêreld waarin blindes leef”

Organiseerder Annelette Kemp vertel in die hardloop dat een van die bekendes die oggend verslaap en haar vlug verpas het en sy inderhaas ’n ander TV-persoonlikheid moes kry in haar plek. Een van die navigators was ook die vorige dag betrokke in ’n plaasaanval en ’n nuwe navigator moes gereël word. Maar, na meer as ’n handvol Rally’s lyk dit nie asof enigiets dié koelkop organiseerder van stryk bring nie.

Na ’n paar verwelkomingstoesprake deur rolspelers, het die avonturier en ambassadeur van Kaleidoskoop, Hein Wagner, die bekende bestuurders kortliks touwys gemaak oor hoe om die blinde navigators te help om oor die weg te kom.

“Eerstens: Maak seker jy en die blinde is albei in die motor en die blinde in die passasiersitplek – dit is kardinaal…!” het hy tong-in-die-kies onder groot gelag gesê.

Kort voor die wegspring, het almal saamgebondel vir ’n groepfoto en uit die geskerts en grappies was die band duidelik wat reeds vorige jare deur bestuurders en navigators opgebou is.

Om stiptelik 12:30 het die eerste blinkwit Audi met die afgetrede sakereus, Whitey Basson, as drywer, en navigator Rynhardt Kruger, weggespring. Al om die minuut het die ander 37 motors vertrek op die onbekende roete wat deur tydrenjaer Sarel van der Merwe opgestel is.

Twee ure later het ’n groep nuuskieriges reeds saamgetrek by die Golden Valley Casino op Worcester om in helder sonskyn en ’n ligte briesie die eerste motors in te wag. Met polsende musiek oor groot luidsprekers, was die opwinding tasbaar.

Die eerste motor was dié van Tim du Plessis en navigator Susan van Wyk. Een na die ander het die Audi’s in die parkeerarea ingetrek. Die nuutgevonde band wat die afgelope twee uur tussen bestuurders en navigators ontstaan het, was opvallend en alhoewel bekendes glimlaggend toegestem het vir foto’s saam met bewonderaars, was dit duidelik dat hulle eerste prioriteit die gemak van hulle blinde navigator is. In groepe is na die lodge beweeg waar die deelnemers kon inboek en aansit vir versnaperings.

Die atmosfeer was jolig en die meeste deelnemers was dit eens dat dit ’n lieflike roete was en die rit goed verloop het.

“Dit was nou kwaai!” het Dries Burger, navigator van die TV-persoonlikheid Janina van Niekerk, laat hoor.

Dawie Roodt en navigator Hein Wagner, voormalige wenners van die Pioneer Rally, was egter nie so opgewonde oor die rit nie. “Ons het ’n paar berekeningsfoute gemaak, so ons kyk maar…” het Dawie gesug.

Toks van der Linde, wat sedert die aanvang van die Pioneer Rally daarby betrokke is, het laggend vertel van sy en Denswill Maans se rit: “Man, ons het lékker gery! Ons het vir jou gesels. Ons het tot Denswill se meisie gebel en drie maal om die sirkel gery om tyd op te maak!”

’n Ou hand van die Rally, Rinette von Mollendorf, was volgens TV-persoonlikheid Nadia Beukes die rede hoekom dié span so ’n suksesvolle rit gehad het. “Danksy Rinette het ons ál die checkpoints gevind en nooit verdwaal nié – en dis mos nou vir jou ’n prestasie, man!” het sy duidelik verlig gesê.

Staaltjies is daar baie na afloop van die rit tussen Somerset-Wes en Worcester. “Ek dink ons het sommer baie goed gedoen, want hier het ons dan nou op die regte plek geëindig en dit ná ons ’n U-draai moes maak omdat ons die kaartboek verkeerdom gehou het aan die begin!” het Jan Scannel, beter bekend as Jan Braai, oor sy en navigator Sarel van der Westhuizen se rit geskerts.

Die 12de Pioneer Rally het soos vorige jare op ’n hoogtepunt afgesluit met die galadinee. Gestrikdas en op hoë polvye het die 450 gaste by Goudini by keurig gedekte tafels aangesit. Toks en mede-seremoniemeester Margit Meyer-Rödenbeck, het die gaste laat skater en die bestuurders en hulle navigators het ingehaak bymekaar onder luide applous die saal binnegekom.

Annelette Kemp het die dag in haar bedankingstoespraak netjies saamgevat: “Vandag het ons weer ’n stukkie magic beleef!”

“Vandag het ons weer ’n stukkie magic beleef!”

Volgens haar is die rede vir die Pioneer Rally se sukses die verskil wat dit aan elke deelnemer se hart maak – elkeen is hier om ’n verskil te maak. Sy bedank die bekendes vir die gees waarmee hulle die dag aanpak en dat hulle ’n hele dag uit hulle lewe aan die Rally wy.

“Maar, bowenal, moet ek die sterre van die dag uitsonder: Die navigators – sonder julle was daar nie vandag magic nie! Ons wil so graag deel wees van julle lewens, dankie dat julle teruggee en ons toelaat!” het sy gesê onder staande applous vir die navigators.

Die vyftienjarige Ying-Shan Tseng, leerder aan die Pionierskool, het die gaste op hulle voete gehad met haar sielvolle klavierspel.

Die paralimpiese swemmer en oud-leerder van die Pionierskool, Hendri Herbst, het aan die gehoor gesê dat die kaarte wat die lewe aan jou uitdeel, nie weens iets is wat jý gedoen het nie.

“Die lewe is onregverdig en niemand kies om ’n slegte kaart te ontvang nie, maar jy kan kies om die beste te maak van ’n slegte kaart wat aan jou uitgedeel is. Vir ons blindes beteken blindwees ’n agterstand, maar dit beteken nie ons moet ophou probeer om die resies te voltooi nie, ons moet eenvoudig net soveel harder werk,” het hy verduidelik.

Hendri het die gehoor laat skater toe hy vertel watter goeie wingman sy gidshond Stan is en dat dié hom selfs gehelp het om sy wonderlike vrou te ontmoet.

Die Binnelanders-aktrise, Je-Ani Swiegelaar, het hierop laat hoor: “Tyd vir my om ’n hond te kry!”

Hendri het aan die gehoor vertel dat hy die laaste 10 jaar reeds 800 000 lengtes geswem het en dus al ’n jaar van sy leeftyd in die swembad deurgebring het.

“Nou daag ek julle uit: R1 vir elke lengte wat ek al geswem het. Dis R800 000 vir my skool, die Pionierskool! En, onthou, Artikel 18A van die Belastingwet tel in jou guns,” het hy onder groot gelag en staande applous afgesluit.

Verskeie items is deur Wikus van der Merwe ten bate van die Pionierskool opgeveil.

Die afwagting is deur Sarel van der Merwe op dit spits gedryf toe hy die uitslae van die dag vanaf 38 aftel en by 11 stop vir die bediening van die hoofgereg.

Ying-Shan het die gehoor in trane gehad met haar nootvaste, gevoelvolle vertolking van “To believe”.

Wikus het beklemtoon hoe talentvol sy is.

“Hierdie vyftienjarige blinde meisie speel klavier op Unisa-vlak ver bo haar jare, sing soos ’n engel en kan vier tale praat… en ek en jy kry nie eers behoorlik haar naam uitgespreek nie!” het hy geskerts.

Uiteindelik het dit om halfeen die oggend tyd geword om die wenners van die tydren aan te kondig. 2016 se wenners, Dawie Roodt en Hein Wagner, moes tevrede wees met ’n sewende plek, terwyl Johan Stemmet en Ferdi Venter onder luide toejuiging as wenners aangekondig is.

Toe ek Ferdi en Johan gelukwens met hulle oorwinning, is Johan se woorde ’n raakvat opsomming van die dag: “Dit is baie lekker om te wen, jissie, dis lekker. Maar, eintlik weet ons wie die ware wenners van die Pioneer Rally is – dis ons vriende by die Pionierskool!”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.