Genoeg vir 6.
Bestanddele
Deeg
- 250 g speltmeel
- 120 g botter
- 100 g roomkaas
- 45 ml (3 e) yswater
Vulsel
- 4 perskes, in agtstes gesny
- 200 g bloubessies
- 60 ml (¼ k) heuning
- 200 g frambose
- 60 g botter, gesmelt
- 1 ml (¼ t) sout
- knypie kaneel
- klein handjie vol tiemie, fyn gekap
Eierglaseersel
- 1 eier, geklits saam met ’n knypie sout
- 250 ml (1 k) mascarpone
Metode
- Meng die speltmeel en botter in ’n voedselverwerker en verwerk tot dit soos growwe broodkrummels lyk.
- Voeg die roomkaas en yswater by en verwerk net tot die deeg bymekaarkom – moenie te veel meng nie. Druk die deeg in ’n platterige sirkel uit.
- Draai in kleefplastiek toe en sit vir 30 min. in die yskas.
- Voorverhit die oond tot 200 °C. Rol die deeg op ’n skoon werkvlak uit tot ’n dikte van 2 mm. Voer die tertpannetjies met ’n deursnit van 6 cm x 10 cm, of 3 cm x 15 cm eers met die deeg (hou die oorblywende deeg eenkant) en daarna met bakpapier uit. Vul die holtes met blindbakbone of droë rys.
- Bak die tertjies blind vir 10 min. Haal die bone en bakpapier uit en bak vir nog 5-7 min.
- Meng die perskes, bessies, frambose, heuning, botter, sout, kaneel en tiemie saam. Vul die tertjies met die perske-en-bloubessie-mengsel.
- Rol die oorblywende deeg weer uit. Sny patrone soos hartjies en sterre uit die deeg en pak dit op die vrugte uit. Smeer die tertjies met eierglaseersel.
- Bak vir 15-20 min. of tot goudkleurig en gaar.
- Sit voor saam met mascarpone of room.
