In die 11de episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou, het aanbieder Reandi Grey, saam met Pieter en Rudi H se pasmaats betrokke geraak by gemeenskapsprojekte in die omgewing waar die dames hoop om eendag hul eie wortels saam hul boer te skiet.
Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond
Anzelle en Elizma het saam met Reandi op ’n uitstappie gegaan om kos voor te berei vir kinders in die Richmond-gemeenskap en kennis gemaak met Ovetin Ferris van Grassroots Hope in South Africa (GHISA), wat al die afgelope 17 jaar daar ’n bydrae tot die gemeenskap maak. En by Richmond Book Binding by die plaaslike Modern Art Projects-kompleks het hulle gaan leer hoe om boeke uit aartappel-, meel- en suikersakke te maak.
Na hierdie uitstappe het Pieter ’n geleentheid geskep om alleentyd met sy kuiergaste deur te bring. Hierdie gesprekke moes insiggewend vir veral Pieter en Elizma gewees het want Reandi vertel sy was al halfpad op pad terug dorp toe, toe sy ’n onverwagte oproep van Pieter ontvang.
Hy en Elizma het besluit dis beter as haar kuier op die plaas nou tot ‘n einde kom.
“Sy’t ook maar gevoel daar gaan niks meer as vriende van ons twee af verder kan aangaan nie. So, ja, sy het maar besluit om eerder te gaan,” het dit van Pieter gekom.
Dis ’n gesamentlike besluit, het die twee bevestig. Terwyl daar vrede in Elizma se hart is oor die keuse wat sy gemaak het, is Anzelle, wat nou alleen gaan agterbly, baie gelukkig.
“Om iemand op ’n vriendskaplike vlak te leer ken, sien jy eers ’n ander kant,” het Elizma gesê terwyl sy haar tas vir oulaas op Richmond toegerits het.
Sy het ook vir Reandi verduidelik sy het al die vorige dag begin besef sy het nog nie die konneksie waarop sy gehoop het, met Pieter gevorm nie. Maar sy het vrede in haar hart.
“Jy doen hierdie met die hoop om liefde te vind, en ja, dis sleg as dit nie uitwerk nie. Maar dit is deel van die proses.”

Toe Reandi later vir Pieter en Anzelle gaan kuier, was dit duidelik dat die twee in hul noppies met mekaar is. En die rede?
“Pieter gaan my nog steeds kies,” het Anzelle geantwoord. Sy het gesê dis die eerste keer dat sy dit van Pieter gehoor het. Hy het baie gou ingespring en gesê: “Ek sou jou definitief gekies het – van die begin af.”

Volgens Anzelle het sy geweet hy gaan haar kies die oomblik toe sy haar brief ingestuur het.
Gaan hierdie twee se pad saam uiteindelik na die kansel lei? Net tyd sal leer.
Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton
Rudi H se pasmaats, Lizelle en Ella het op hulle beurt saam met Reandi na The Bridge gegaan waar daar ekstra klasse aan kinders gebied word. Hulle volgende bestemming was ’n werkswinkel waar die twee touwys gemaak is in die kuns van sweiswerk. Hul het van die geleentheid gebruik gemaak om vir hul boer ‘n ‘semi-stootbare’ trollie te maak.
Voor hy alleen met elke dame tyd spandeer het, het Rudi H aan Reandi erken dat die proses nie vir hom ’n “walk in the park” was nie en dat hy ‘n voorwaarde aan die dame wat hy kies, gaan stel.
“As die dame instem om te bly, gaan ek sê sy moet net weet dit is nie ’n surety nie. Daar is nog onsekerheid. Ek wil amper hê sy moet self die keuse maak of ek vir haar moet gaan kuier of nie.”
Voor ’n gesellige kaggelvuur wou Rudi H by Lizelle weet hoe sy daaroor voel dat dit die laaste aand is.
“Dis nie lekker nie, want ek is nie baie, baie seker nie,” het sy erken en genoem dat al twee sy pasmaats baie aangetrokke tot hom voel. Maar sy het ook aan Rudi H gesê dat hy aan haar erken het daar is wel ’n mate van aangetrokkenheid by hom. Tog voel dit vir haar asof Rudi H en Ella lekker saamkuier, want as hulle bymekaar is, word daar baie gelag. En sy het erken dat sy jaloers begin voel.
“As iemand jou nie wil kies vir iemand wie jy is nie, dan kies hulle jou nie,” het Ella verklaar. Maar dit gaan ook nie daartoe lei dat sy opgee in haar soeke na liefde nie. Sy’t laggend vir Rudi H gesê dat sy baie jammer is dat die besluit nie in haar hande is nie. Ook dat sy baie seker is dat sy vir die regte rede ingeskryf het vir Boer soek ’n vrou.
Hy het ná afloop van die alleengesprekke gesê hy het vir die eerste keer besef hoe ernstig Ella oor die proses is. Ook dat hy in ’n stadium gedink het hy wil nie een van die twee kies nie, maar dat hy nie ’n proses gaan kortknip voordat dit deurloop is nie.
“Jy kan nie ’n wedloop wen vyf treë voor die wenstreep nie. So, ek wil die hele ding hardloop.”

Te midde van baie gemengde gevoelens, het Rudi H toe die volgende met die twee dames gedeel voordat hy sy finale besluit bekend gemaak het en hul vir die week bedank het: “Die persoon wat ek kies, se familie wil ek ook graag gaan ontmoet.” Hy het ook, soos hy teenoor Reandi gesê het, beklemtoon dat die persoon wat hy gekies het, dit nie as committed moet sien nie.
En net daarna het hy aangekondig dat Lizelle sy keuse is. Sy het hom onmiddellik die versekering gegee dat sy, nes hy, dit nie onmiddellik as ’n commitment sal sien nie.

Ella het hom en Lizelle voorspoed toegewens en met ’n glimlag in die motor geklim. Maar toe hulle wegtrek, het die emosies haar oorweldig.
“Ek huil nie omdat ek huis toe gaan nie – ek huil omdat hy haar nie ken nie,” het sy tussen die trane deur gesê. Wat haar pla, is dat Lizelle na bewering Rudi H se video 72 keer gekyk het.
“Sy’s obsessief oor hom. Van die begin af. En dit kom van al die girls af. Sy is die common denominator in alles en om ’n goeie mens te sien ’n verkeerde keuse maak … Maar ja, dis ander mense se skoolgeld. Dis nie myne om te betaal nie.”
Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Klein voetjies, groot vreugde: Hierdie bekendes deel baba-nuus!




