Ná talle kinkels en mooi liefdesverhale wat die pas afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou opgelewer het, maak Kupido weer gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks af te vuur.
Die boere, tussen 26 en 43 jaar oud, kom van oor ses provinsies — met die Vrystaat wat die voortou neem, en Noordwes wat hierdie jaar deur ’n vroueboer verteenwoordig word.
Die splinternuwe seisoen word van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai, wanneer kykers weer die boere se liefdesreise sal volg. Soos altyd, sal die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, die hoofstorie vorm.
Ontmoet Boer Arn0 (28), ’n bosbouboer van Tzaneen (Limpopo)
Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Graad in Bedryfsielkunde
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders

“Ek is ’n praktiese en hardwerkende man wat hou van die buitelewe, sport en die landbou-omgewing. Ek is gesins- en geloofsgeoriënteerd en glo dat ware liefde gebou word op vertroue, God en diens aan mekaar. Ek is op soek na iemand wat saam met my my geloof en waardes kan deel; iemand met ’n sagte hart, eerlikheid, lojaliteit en selfvertroue. Ek geniet die eenvoudige dinge in die lewe – ’n sonsopkoms met ’n koppie koffie, ’n aandvuur met goeie geselskap en die vrede wat kom wanneer mens weet jy is presies waar God jou wil hê.”
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
Ek het ingeskryf omdat ek op ’n plek in my lewe is waar ek regtig gereed is om ’n maat te ontmoet saam met wie ek ’n toekoms kan bou. Ek glo dat liefde en verhoudings met God in die middel begin, en ek soek iemand wat saam met my dié pad wil stap. Ek verlang na ’n egte, eenvoudige en eerlike verhouding – iemand wat my waardes deel, wat saam met my kan groei en die mooi en die uitdagings van die lewe saam met my kan dra.

Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
Ek soek ’n vrou met ’n sagte en liefdevolle hart, een wat God eerste stel in haar lewe. Sy moet eerlik, opreg en lojaal wees, iemand wat saam met my in geloof en liefde wil groei – ’n maat wat die natuur en eenvoud waardeer en my as mens aanvul.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is ’n gewone ou wat hou van die buitelewe, sport en eenvoudige dinge. My geloof is vir my belangrik, en ek probeer altyd reg leef. Ek’s lojaal en gee baie vir die mense om my. Ek hou daarvan om te lag, hard te werk en deur te druk as dinge moeilik raak.

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
Die belangrikste les wat ek uit vorige verhoudings geleer het, is dat liefde sonder God in die middel nie hou nie. Ek het ook geleer dat eerlikheid, vertroue en konsekwente respek vir mekaar ononderhandelbaar is. Ek weet nou hoe belangrik dit is om jou maat se hart te beskerm, geduldig te wees en nooit liefde as vanselfsprekend te aanvaar nie.
Sien jy jouself as romanties? Hoekom/hoekom nie?
Ja, ek sien myself as romanties, maar op ’n eenvoudige en egte manier. Vir my gaan dit oor die klein dinge – om my maat te verras met aandag en moeite; om haar spesiaal te laat voel en altyd my liefde te wys deur dade eerder as net met woorde.

As jy vir een van die boere wil skryf:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats kan tot middernag 4 Desember 2025 vir die boere skryf
KYK | Ontmoet Boer Arno

Lees ook: Suidooster is 10: ‘Shukran, my darling’ vir ’n dekade van drama, deernis en dapperheid
