Ná talle kinkels en mooi liefdesverhale wat die pas afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou opgelewer het, maak Kupido weer gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks af te vuur.
Die boere, tussen 26 en 43 jaar oud, kom van oor ses provinsies — met die Vrystaat wat die voortou neem, en Noordwes wat hierdie jaar deur ’n vroueboer verteenwoordig word.
Die splinternuwe seisoen word van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai, wanneer kykers weer die boere se liefdesreise sal volg. Soos altyd, sal die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, die hoofstorie vorm.
Ontmoet David (43), hy het ‘n gemengde boerdery in Vierfontein (Vrystaat)
Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Matriek
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: Besigheid en om te netwerk. Ek hou daarvan om goed te reël. Ek het ook ’n baie sagte plek vir diere.

Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
Ek het lank net gefokus op my werk en drome, maar nou is ek op ’n plek in my lewe waar ek reg is vir iets diepers – om my hart met iemand te deel. Ek glo dis tyd om die regte vrou te ontmoet – iemand saam met wie ek die lewe ten volle kan leef, met oorgawe, lag en liefde.
Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
Ek droom van ’n sterk, stylvolle en sagte vrou – iemand wat haar eie pad stap, maar ook bereid is om hande te vat. ’n Vrou wat saam met my kan lag, bid, bou en droom. Iemand wat nie net my maat is nie, maar ook my beste vriend.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek’s ’n boer en entrepreneur uit die Vrystaat wat met passie leef. Ek werk hard, maar ek maak altyd tyd vir die mense en dinge wat saak maak. Ek geniet die buitelewe, gym, fietsry, gholf en om nuwe plekke en restaurante te ontdek – veral saam met iemand spesiaal.

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
Ek het geleer dat liefde nie net iets is wat jy voel nie, maar iets wat jy elke dag kies. Ware liefde verg geduld, insig en die bereidwilligheid om mekaar elke dag nuut te kies – selfs wanneer dinge nie maklik is nie.
Sien jy jouself as romanties?
Ja, beslis. Ek mag dalk na buite hard lyk, maar as jy regtig by my hart uitkom, ontdek jy ’n sagte mens wat graag gee, bederf en diep liefhet. As ek vir iemand lief is, gee ek alles – aandag, romanse, lojaliteit en daardie bietjie ekstra wat liefde besonders maak.

As jy vir een van die boere wil skryf:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats kan tot middernag 4 Desember 2025 vir die boere skryf
KYK | Ontmoet Boer David

Lees ook: Boer soek ’n vrou se inskrywings is oop! Leer ken Boer Arno
