Ná talle kinkels en mooi liefdesverhale wat die pas afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou opgelewer het, maak Kupido weer gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks af te vuur.
Die boere, tussen 26 en 43 jaar oud, kom van oor ses provinsies — met die Vrystaat wat die voortou neem, en Noordwes wat hierdie jaar deur ’n vroueboer verteenwoordig word.
Die splinternuwe seisoen word van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai, wanneer kykers weer die boere se liefdesreise sal volg. Soos altyd, sal die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, die hoofstorie vorm.
Ontmoet Boer Francois (34), ‘n natuurbewaarder van Hoedspruit (Mpumalanga)

Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: MSc in Bewaringsekologie
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: Branderplankry, rugby, reis, natuurbewaring
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
Ek is al vir drie jaar enkellopend. Nadat ek onlangs teruggetrek het Suid-Afrika toe ná afloop van drie jaar se natuurbewaringswerk in Suid-Soedan, wil ek graag weer begin date. Ek stel gewoonlik belang in intelligente dames wat hul eie loopbaan het, maar dit verg gewoonlik dat hul in ’n stad moet woon. Ek glo Boer soek ’n vrou is ’n uitstekende platform om iemand te ontmoet wat al daardie kwaliteite het en tog gelukkig sal wees om by my lewensomstandighede te kan inpas.
Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
Onafhanklik, intelligent, aktief, bereid om in afsondering te woon en iemand wat my laat lag en gemaklik voel.

Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is hoof van natuurbewaring op ’n wildreservaat en het ’n meestersgraad in natuurbewaring. Ek is baie aktief en geniet hardloop, middae ná werk, en om vir ’n paar ure langs die rivier op die reservaat te gaan stap en wild, waaronder olifante, te besigtig.
Ek is oorspronklik van die Wes-Kaap, en in my vrye tyd ry ek graag branderplank. Ek geniet dit om oorsee te gaan reis, veral vir sport. Ek het beide die Rugby Wêreldbeker in 2023 en die Olimpiese Spele gaan bywoon in Frankryk. Volgende jaar beoog ek om saam met die bulle te gaan hardloop in Pamplona.
Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
Moenie verander wie jy is vir iemand nie. Ek moes in ’n vorige verhouding kies tussen trek oorsee vir iemand, wat sou beteken het dat ek ’n nuwe loopbaan moet begin, of ek moes bly en my werk in natuurbewaring behou. Ek het besef my loopbaan is soveel deel van wie ek is as mens, en ek sou daardie deel van myself verloor het indien ek die besluit geneem het om oorsee te gaan.

Sien jy jouself as romanties?
Met die regte persoon, ja. My eerste meisie het ek uitgevra deur ’n vraagteken met dryfhout op die strand te pak en dit aan die brand te steek. Ek dink dit is waarskynlik meer moeite as wat meeste ouens maak om iemand te vra om met hulle te trou. Ek geniet ook klein goedjies soos om ontbyt te maak vir iemand of verrassings.
KYK | Ontmoet Boer Francois

As jy vir een van die boere wil skryf:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats kan tot middernag 4 Desember 2025 vir die boere skryf
Lees ook: Boer soek ’n vrou se inskrywings is oop! Leer ken Boer Willie
