Ná talle kinkels en mooi liefdesverhale wat die pas afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou opgelewer het, maak Kupido weer gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks af te vuur.
Die boere, tussen 26 en 43 jaar oud, kom van oor ses provinsies — met die Vrystaat wat die voortou neem, en Noordwes wat hierdie jaar deur ’n vroueboer verteenwoordig word.
Die splinternuwe seisoen word van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai, wanneer kykers weer die boere se liefdesreise sal volg. Soos altyd, sal die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, die hoofstorie vorm.
Ontmoet Boer Jack (30), ‘n appel- en peerboer van Hermanus (Wes-Kaap)

Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Studeer tans aan ’n BSc Landbou-graad
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: Natuur, diere, tuinbou, sport en gesondheid, wetenskap en die gemeenskap
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
Ek wil graag myself vestig op die nuwe plaas met ’n beste vriendin. En die program lyk boonop soos groot pret.

Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
Spreuke 27:17 sê dit vir my die beste. Ek soek na iemand wat my uitdaag en met wie ek kan groei; iemand wat hul eie stempel kan afdruk; iemand sportief en slim wat ook hou van lekker lag, dans, uitdagings en kattekwaad aanjaag.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek en my pa is tans besig om ’n tweede plaas te ontwikkel en die regte rigting te vind waarin ons dit volhoubaar en winsgewend kan maak. In my werk met tuinontwerp is my fokus daarop om lewende ekosisteme te bestuur en mense nader aan die natuur te bring.
Ek stel belang in die wetenskap agter gesondheid en persoonlike ontwikkeling. Ek oefen intensief – van sterkmankompetisies tot hardloop en funksionele fiksheid. Rugby gee my die kans om jong spelers af te rig, gemeenskappe te versterk en mense byeen te bring. My liefde vir die natuur lê in biodinamiese denke: om nie teen die natuur te werk nie, maar saam met dit.
Van my stokperdjies is: Iron Man (amateur), om hoenders te skou, proteas te kweek, rugby-afrigting, gemeenskapsdiens en visvang.

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
Liefde is nie altyd genoeg nie. Waardes, leefstyl, kultuur en geloof is faktore wat ook in ag geneem moet word. Wat gebeur in jou verhouding of wat gesê word in jou verhouding, bly in jou verhouding. As daar ’n probleem is, sorteer dit uit – dit maak nie saak hoe moeilik daardie gesprek is nie. En ook hoe die probleem uitgesorteer word, is belangrik.
Hulle moet ook jou g@t kan skop as jy van die pad af dwaal of aanjaag. Dit is belangrik om vir jou maat die goed te kan sê wat hulle nie wil hoor nie en wat niemand anders vir hulle kan vertel nie.

Sien jy jouself as romanties?
Ja! Ek hou daarvan om aan die klein goedjies te dink en goed te doen wat my maat laat weet ek neem hulle in ag en ek dink aan hulle. Ek is daardie ou wat seker maak daar is blomme in die huis en verras haar sommer om op ’n trippie te gaan sonder om dit vooraf te bespreek. Maar hierdie weergawe van myself sal ek net met die regte persoon deel.
KYK | Ontmoet Boer Jack

As jy vir een van die boere wil skryf:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats kan tot middernag 4 Desember 2025 vir die boere skryf
Lees ook: Kokkedoor: Son & see skop af en die Stemmets wys hoe dit gedoen word!
