Ná talle kinkels en mooi liefdesverhale wat die pas afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou opgelewer het, maak Kupido weer gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks af te vuur.
Die boere, tussen 26 en 43 jaar oud, kom van oor ses provinsies — met die Vrystaat wat die voortou neem, en Noordwes wat hierdie jaar deur ’n vroueboer verteenwoordig word.
Die splinternuwe seisoen word van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai, wanneer kykers weer die boere se liefdesreise sal volg. Soos altyd, sal die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, die hoofstorie vorm.
Ontmoet Boer JD (28), hy het ‘n gemengde boerdery in Reitz (Vrystaat)

Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Matriek
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: Braai, Springbok-rugby, gholf, visvang en om rustig in die natuur te wees
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
Ek het ingeskryf omdat ek opreg hoop om iemand te ontmoet wat saam met my hierdie lewenspad op die plaas kan stap. Die plaas is nie net my werk nie – dis my leefwyse, my passie en my tuiste. Dis nie altyd maklik om iemand te vind wat werklik verstaan en waardeer wat die plaaslewe behels nie – die harde werk, die stilte, die eenvoud, maar ook die vrede en die ongelooflike vreugde wat dit bring.
Ek het baie liefde om te gee, en ek verlang na ’n maat wat my kan liefhê vir wie ek is, en wat saam met my ’n lewe wil bou – nie net in die hart nie, maar ook op die grond. Iemand wat nie net lief is vir my nie, maar ook vir die plaas, die diere en die rustigheid van die platteland.
Ek glo in opregtheid, in goeie geselskap rondom ’n vuur en in hande wat saamwerk deur seisoene van droogte en oorvloed. Dis hoekom ek hier is – in die hoop om daardie een spesiale persoon te vind wat my wêreld sal verstaan en aanvul.
Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
’n Sterk vrou met ’n sagte hart. ’n Vrou wat ’n kind van die Here is, op die plaas kan aard, na haarself kyk, liefde kan gee en ontvang, my ondersteun deur goed en sleg, eerlik is en gereed is om saam ’n gesin te begin.

Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is ’n boer in murg en been. My hart en siel lê in die grond waarop ek grootgeword het. Ek is die vierde generasie op ons plaas, en om hier te boer is al wat ek nog ooit wou doen. Boerdery is nie net my beroep nie – dis my roeping en my grootste passie.
Al was die pad nie altyd maklik nie, is dit my droom om die plaas van krag tot krag te neem en eendag saam met my seun voetspore te los op dieselfde grond. Ek is nie ’n man van baie woorde nie, maar wat ek sê, bedoel ek.
Ek het ’n sagte hart, en dit vat baie om my kwaad te kry. Ek is ’n familiemens wat elke oomblik saam met my geliefdes koester. Tyd saam met mense wat vir my belangrik is, dra ek naby aan my hart. Ek is ook diep verbind aan die natuur. Van kleins af het ek langs die rivier oorleef – visgevang, kos self gevang – en vandag nog is die veld en die aarde my speelgrond.
Ek hou van jag, visvang, kamp en eenvoudig net buite wees. Ek’s gemaklik met myself, geniet lag en geselskap, en is nie iemand met issues nie. Geloof is vir my die fondament van alles. ’n Boer moet kan glo – glo vir reën, vir groei, vir uitkoms. Ek vertrou op die Here vir elke druppel uit die hemel en elke put in die grond. Sonder Hom is ek niks.
Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
Ek was vir vier jaar lank in ’n ernstige verhouding, waarvan ons twee jaar verloof was. Ongelukkig het dit op ’n seer manier geëindig. Dit het my hart gebreek, maar ek het ook ’n waardevolle les geleer: Die plaaslewe is nie vir almal nie. Ons bly tussen niks en nêrens. Dis ’n eenvoudige maar uitdagende lewe, en nie elke mens is gemaak vir hierdie stilte nie.
Ek het besef dat ’n vrou nie net liefde vir my moet hê nie, maar ook ’n passie vir die plaas. Sy moet self gelukkig kan wees hier, haar eie vrede vind en bereid wees om saam te staan deur die goeie én die moeilike tye. Ek kan nie iemand hier hou wat nie regtig hier wil wees nie – sy moet kies om deel van hierdie lewe te wees. Ek het ook geleer dat ware geluk van binne af begin.
As jy nie gelukkig is met jouself nie, gaan jy dit nie in iemand anders vind nie. Liefde alleen hou nie iemand op die plaas nie – dit verg deursettingsvermoë, aanpassing en ‘n hart vir hierdie lewe.

Sien jy jouself as romanties?
Nie op die tradisionele manier van blomme koop en piekniek hou nie. Ek is ’n plat-op-die-aarde boer wat dalk sommer op die ingewing van die oomblik vir jou ’n veldblommetjie sal pluk – nie omdat dit beplan is nie, maar omdat ek aan jou dink.
Ek is nie die beste met voorafbeplanning en afsprake reël nie, maar gelukkig het ek ’n oulike ma en sussie wat my soms help met daardie tipe goed.
KYK | Ontmoet Boer JD

As jy vir een van die boere wil skryf:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats kan tot middernag 4 Desember 2025 vir die boere skryf
Lees ook: Boer soek ’n vrou se inskrywings is oop! Leer ken Boer Francois
