Ná talle kinkels en mooi liefdesverhale wat die pas afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou opgelewer het, maak Kupido weer gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks af te vuur.
Die boere, tussen 26 en 43 jaar oud, kom van oor ses provinsies — met die Vrystaat wat die voortou neem, en Noordwes wat hierdie jaar deur ’n vroueboer verteenwoordig word.
Die splinternuwe seisoen word van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai, wanneer kykers weer die boere se liefdesreise sal volg. Soos altyd, sal die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, die hoofstorie vorm.
Ontmoet Boer Junior (35), hy het ‘n gemengde boerdery in Bethlehem (Vrystaat)

Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Matriek
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: Jag, sport, skiet en gholf
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
Ek is 35 en kom nie juis op plekke waar ek ’n maat kan ontmoet nie. Al my vriende is getroud en daarom ontmoet ek ook nie regtig nuwe mense nie. So, ná 10 jaar van enkellopend wees, het ek gedink dalk is dit tyd om iets anders te probeer. Ek sien uit om my vrou te ontmoet en ons lewe saam te begin.

Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord, aangesien ek nog nooit ’n “lysie” gehad het of so ’n tipe mens is nie. In kort het ek ’n behoefte aan iemand wat my kan ondersteun en bystaan; iemand wat saam met my kan lag en die natuur geniet. Ek het geleer wat vir my belangrik is, is intelligensie, balans tussen werk en sosiaal en ’n gesonde geestelike lewe.

Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is my lewe lank ’n boer en ’n leier in die gemeenskap waar ek my bevind. Ek is ’n vriendelike mens, maar kan baie streng en reguit oorkom. Ek geniet die natuur en speel graag gholf in die somer as ek tyd kry. In die winter geniet ek sportskiet en jag. Ek is ’n gedrewe besigheidsmens en is so ’n bietjie getroud met my plaas.
Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
Ek het geleer dat as dinge net van een kant af kom, dit nie kan werk nie. ’n Gesonde verhouding het ’n gesonde balans. Ek het ook geleer dat mens dit nie kan ryp wens of druk nie. As die tyd nie reg is nie, sal dit nie werk nie. Ek het geleer om op my instink te vertrou en nie redes te soek hoekom ek reg of verkeerd is nie, maar eerder te vertrou op wat ek weet en voel. Vertroue word verdien en is nie vanselfsprekend nie.

Sien jy jouself as romanties?
Ek is ’n baie logiese mens, en romanse kom nie altyd maklik vir my nie. Maar die regte persoon kan my romantiese kant uitbring. In die verlede is my romantiese gebare nie altyd goed ontvang nie. Dus moet ek maar versigtig wees.
KYK | Ontmoet Boer Junior

As jy vir een van die boere wil skryf:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats kan tot middernag 4 Desember 2025 vir die boere skryf
Lees ook: Hier’s die regte volgorde waarin jy jou velsorgprodukte moet aanwend
