Ná talle kinkels en mooi liefdesverhale wat die pas afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou opgelewer het, maak Kupido weer gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks af te vuur.
Die boere, tussen 26 en 43 jaar oud, kom van oor ses provinsies — met die Vrystaat wat die voortou neem, en Noordwes wat hierdie jaar deur ’n vroueboer verteenwoordig word.
Die splinternuwe seisoen word van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai, wanneer kykers weer die boere se liefdesreise sal volg. Soos altyd, sal die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, die hoofstorie vorm.
Ontmoet Boer Leandi (35), ‘n beesboer van Ventersdorp (Noordwes)

Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: BSc in Biotegnologie en BHons in Wildbestuur
Huwelikstatus: Geskei, geen kinders
Belangstellings: Beesboerdery, dieregesondheid, bergfietsry en perde
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
Ek hoop my inskrywing sal my die geleentheid gee om my lewensmaat te vind. Ek vat ’n baie groot kans, en dit is buite my karakter, maar dit is ’n geleentheid waardeur ek moontlik iemand met dieselfde leefwyse as ek kan ontmoet.

Watter eienskappe soek jy in jou ideale maat?
Ek is op soek na ’n Godvresende man wat die beste weergawe van myself kan uitbring. Hy moet gedrewe wees en sy eie aspirasies en drome hê. Hy moet sterk maar saggeaard wees en my op die hande dra. Hy moet beslis lief wees vir die natuur en diere.

Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is ’n selfstandige, energieke en lewenslustige dame wat altyd nuwe dinge wil probeer. My skaaphond en twee perde is soos my kinders, en ek is mal daaroor om elke dag saam met hulle af te sluit.
Ek is baie lief vir die natuur en diere, of dit nou met boerdery, op ’n fiets of in die Wildtuin is – dit bly bitter mooi en spesiaal. Ek is ambisieus en gedrewe en glo ek lewe ’n redelike gebalanseerde lewe. My stokperdjies is bergfietsry, perdry, draf en lees.

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
Kommunikasie is wat verhoudings maak of breek. Jy moet sê wat jou pla of gelukkig maak en dit nie laat opbou tot waar jy ontplof nie – maak nie saak hoe groot of hoe klein die kwessie is nie. Jy moet ook tyd maak vir jou maat en nie net in die verbygaan met ’n halwe oor luister nie. En dan glo ek enige verhouding is gebaseer op liefde, eerlikheid en vertroue.

Sien jy jouself as romanties?
Ek dink ek is romanties. Ek hou daarvan om die persoon in my lewe spesiaal te laat voel deur iets kleins te doen of te gee, soos ’n handgeskrewe nota iewers te los of ’n mixtape te maak. Diep binne is ek ’n hopeless romantic, en dit sal lekker wees om daai Ster-Kinekor-liefde te ervaar, maar ek laat my nie flous deur groot en romantiese gebare nie.
KYK | Ontmoet Boer Leandi

As jy vir een van die boere wil skryf:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats kan tot middernag 4 Desember 2025 vir die boere skryf
Lees ook: Boer soek ’n vrou se inskrywings is oop! Leer ken Boer David
