Ná talle kinkels en mooi liefdesverhale wat die pas afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou opgelewer het, maak Kupido weer gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks af te vuur.
Die boere, tussen 26 en 43 jaar oud, kom van oor ses provinsies — met die Vrystaat wat die voortou neem, en Noordwes wat hierdie jaar deur ’n vroueboer verteenwoordig word.
Die splinternuwe seisoen word van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai, wanneer kykers weer die boere se liefdesreise sal volg. Soos altyd, sal die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, die hoofstorie vorm.
Ontmoet Boer Wilie (37), bees- en mielieboer van Harrismith (Vrystaat)

Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Matriek
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: Watersport, motorfietsry, boer, jag en skiet, asook gholf
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
Ek het al lank genoeg gedreig, maar die geleentheid was nog nooit reg nie – nou is dit. Ek was nog nooit getroud nie, en dis tyd dat iemand deel in hierdie wonderlike lewe wat ek beplan en aan gebou het.

Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
Sy moet ’n Godvresende vrou wees – iemand wat die Here bo almal kies. Elkeen is spesiaal, maar ek wil graag ’n goedversorgde vrou hê en iemand wat passievol is in wat sy doen. Sy moet stabiel in haar lewe wees, en sy hoef nie noodwendig op die plaas te kom bly of werk nie. Hier is geleenthede, maar as sy ’n passie het vir wat sy in haar lewe doen, is dit wonderlik.
Ons almal het ons eie belangstellings, en dit is hoekom ons almal uniek is. Sy moet uniek in haar belangstellings wees, ook in dit wat sy doen en rondom haar passies in die lewe.
Ek wil tog nie iemand verander nie, maar ek wil graag iemand ontmoet met wie ek reguit, deeglik en eerlik kan wees en vir wie ek nie halwe waarhede hoef te vertel nie. ’n Mens moet kan aanpas bymekaar en mekaar kan aanvul.
Ek is ’n spontane mens, en dit sal lekker wees as sy ook so iemand is. Dis belangrik om tussen mense te wees. Jy kan nie heeltyd net in jou eie omgewing met jouself wees nie. ’n Lekker sin vir humor en gebou vir lag saam met mense – dis die mens na wie ek soek.
Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is spontaan in besluite neem en baie gemaklik oor die algemeen, maar wel ’n bietjie meer ernstig in die werksomgewing. Ek sal maklik heeldag op die dam kan spandeer wanneer dit moontlik is, of met my motorfiets toer.
Ek’s gedrewe in my passie (wat boer is), innoverend, eerlik en betroubaar en bo als ’n Godvresende man.

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
Mense gaan jou teleurstel. Hulle gaan jou geduld toets, maar almal moet ’n bietjie kan aanpas en vergewe.
Sien jy jouself as romanties?
Nee, nie rêrig nie. Verjaarsdae en spesiale geleenthede kan voel soos net nog ’n gewone dag. Dis wel in die klein dingetjies waar ek moeite doen of in die af dae wat ek meer vir iemand op daardie vlak sal beteken.
KYK | Ontmoet Boer Willie

As jy vir een van die boere wil skryf:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats kan tot middernag 4 Desember 2025 vir die boere skryf
Lees ook: Boer soek ’n vrou se inskrywings is oop! Leer ken Boer Leandi
