kategorieë: Lees

Botox, Barbies en Bietse: Episode 39

Media-sirkus

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die media juig oor die intuimel van die EMKO-kaartehuis en die koerante vlieg van die rakke af. Hul voorblaaie lees soos speurverhale. Ondersoekende en sake-joernaliste skarrel om die legkaart van die skandaal te ontrafel en dan weer die stukkies inmekaar te pas.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Konrad Burger se val as finansiële bestuurder van die internasionale myngroep speel ’n hoofrol in die stories. Een voorblad basuin uit: “Die man wat eens skouers geskuur het met die minister van finansies en die hoof van die Reserwebank sterf tragies in die tronk in Dubai. Keelafgesny… Nog een verlustig hom hoe Konrad hom met die “dom blondine” misgis het en toe al die tyd in die arms van ’n gedugte internasionale spioen beland het: “Ontroue Konrad loop sy rieme styf met spioen!” Konrad se reeks skandalige affairs word ontbloot en almal wat ’n vendetta teen hom het, of kitsroem soek, word aangehaal. Selfs Erna se vorige hokkiejuffrou vertel tranerig haar storie! Konrad het haar glo openlik uitgelok…

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Tot Liesl se verligting het Henk haar en die kinders betyds gewaarsku om hul Facebook-blaaie tydelik te sluit sodat nuuskieriges nie nog meer in hulle lewens kan krap nie. Die pers plaas wel ’n paar foto’s van Liesl se laaste uitstalling en een van haar en Konrad wat ’n paar jaar gelede by ’n EMKO-funksie geneem is: “Die Bruger-egpaar in gelukkiger dae,” lees die onderskrif wat Liesl sinies laat lag want sy weet van beter. Trouens, toe die foto geneem is, was Konrad reeds besig met sy vierde affair… of was dit sy vyfde? Liesl kan of wil nie eens probeer onthou nie. Genadig gee die meeste koerante min aandag aan haar en die kinders aangesien die res van die storie soveel meer sensasie het.

Elize-Mari Maree, bekroonde omgewingsbewaringsjoernalis van Dagblad en EMKO stamp al jare koppe. Sy het al onthul dat hulle sogenaamde “groen” beeld wat aan hulle ’n plekkie op die aandelebeurs besorg het, nie so “groen” is nie. Als net skyn, het sy geskryf: “Die myngroep wat hulle so beywer vir die behoud van die voëllewe in Mpumalanga is eintlik besig om die hele gebied rondom die Krugerwildtuin om te dolwe vir swart goud…” Het een van haar bekroonde berigte oor EMKO gelui. Die huidige gebeure gee haar die kans om haar koerant se lesers te herinner dat al die beweringe wat sy deur die jare gemaak het, waar was.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Haar kollega, ondersoekende joernalis, Johan Duvenhage, het ’n gebiedsvoordeel omdat hy en Emily reeds oor die EMKO-drama begin gesels het voor die renosterprojek. Hy en Elize-Mari skryf ’n paar koerantblaaie vol oor EMKO en die Arabiere se knoeiery met omgewingsimpakstudies en brei uit oor die soms duistere transaksies by die toekenning van mynlisensies aan EMKO. Johan se een storie vertel in detail van die vlaag bedrog wat die driestuks Gerben Kruger en Isa en Bella Conradie in verskeie lande agtergelaat het. Hulle onfeilbare plan het elke keer gewerk: Gerben en sy vroutjie grawe hulle by ’n maatskappy en gemeenskap in en stel wippe vir geldgierige invloedrykes in maatskappye … en Bella doen die werk agter die skerms en is die hoofskakel met die Arabiese sindikaat, Intisar, wat ironies ’n Arabiese vrouenaam is wat “troimf” beteken. Intisar het ’n oog gehad op die ryk steenkoolneerslae in Mpumalanga en die direksie van EMKO al ’n hele paar jaar begin sagmaak voor hulle toegeslaan het.

Gerben en die tweeling het elk ’n lang lys aliasse, en die name Isa en Bella is pseudoname wat vir die EMKO-projek gebruik is. Hulle het dit “geleen” uit koerantargiefstories oor ’n spioen van die voormalige bedeling se veiligheidspolisie wat saam met sy gesin oorsee verdwyn het. Sy twee dogters se name was wel Isa en Bella. Dit en verskeie ander rookskerms wat Gerben en sy skone trawante geskep het in verskeie lande, word deur Johan as “knap nagevorsde skelmstreke” beskryf.

Selfs dr. Hans du Bois, die plastiese chirurg wat Isa en Bella gehelp het met die kamma hospitalisasie van Bella, ry aan die pen in van die koerantstories. Hy het via die tweeling en via die Arabiere luukse gesigontrimpelingsvakansies in Dubai gereël wat ydele ryk vroue derduisende aan operasies en inkopietogte gekos het. Van die vroue, met velle stywer as dié van winkelpoppe, word in die koerante aangehaal.

Gerben se dramatiese dood in die Bughatti-jaagtog saam met die meesterbrein van Intisar, Aashig Muhammad, en sy waaghalsige moordplan op Konrad, sorg vir die meer dramatiese stories en laat rolprentvervaardigers reeds hulle hande saamvryf want dit is inderdaad die soort intrige wat klink of dit net op ’n silwerdoek kan afspeel. Die jong sakeman wat in die apartment langs Gerben gebly het, het vertel van die “hope” kokaïne en pornografie wat die polisie glo in Gerben se blyplek gevind het. ’n Polisieman het hom self gewys, vertel hy aan joernaliste.

Lana Victor, die sogenaamde fluitjieblaser in die hele EMKO-drama, het darem ook die koerante gehaal. Sy het glo met haar omkoopgeld landuit gevlug, en kollegas van haar wat aangehaal is, het bevestig dat haar vertrek nie juis ’n groot verlies vir die land is nie.

Daar was enkele afgewaterde stories oor die veiligheid in tronke in Dubai en ’n paar wat bespiegel het wat met die hofsaak van Konrad se trawante gaan gebeur noudat hulle meesterbrein so skousepelagtig gesterf het.

Met die publisiteitsirkus in volle swang besluit Liesl en die kinders om ’n stil privaatroudiens en verassing te reël saam Konrad se familie. Hulle is almal moeg na die emosiebelaaide paar dae en wil die formaliteite so vinnig moonlik afhandel.

Liesl is dankbaar as Harry aanbied sy en die kinders moet op die plaas kan gaan uitrus tot die media uitgeskryf is aan die drama.

Dit is eers in die tweede week op die plaas wat Liesl ’n rugsak pak en Minka opsaal. Sy voel sy het ’n spesiale band met die perd na hulle saam die aanslag van die renosterstropers oorleef het.

Sy ry ver af langs die rivier en besef eers na ’n ruk sy is besig om haar hele lewensverhaal vir Minka te vertel. Hulle rus onder ’n groot wilgerboom by een van die systrome.

Liesl pak die rugsak uit: ’n paar appels, water, foto-albums en ’n kissie met Konrad se as. Sy gaan sit kruisbeen op die gras en herleef al die geluk en hartseer deur die albums, al die jare saam met Konrad en die kinders. Sy huil haar hart uit met Minka as simpatieke toehoorder.

Sy sit na die woordevlaag lank in stilte onder die boom. Dan tel sy die kissie op haar skoot, en verbreek die stilte.

“Ek het jou regtig baie liefgehad, maar ek is nie meer lus om te huil nie. Dis nou tyd om op te hou. Ek vergewe jou met my hele hart. Die kinders het my gevra om jou in vrede vry te laat. Ek weet jy was nie eintlik ’n natuurmens nie, Konrad, maar dis so mooi hier. Hier voel ek asof al hierdie dinge so ver weg is. Dis hoekom ek dink ek moet jou hier laat gaan…”

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

17 hours Gelede

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

2 days Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 weeks Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.