kategorieë: Lees

Botox, Barbies en Bietse: Episode 7

Punt in die wind

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Tussen die dofheid en kloppende hoofpyn herinner newels Liesl aan die vorige aand. Haar brein beweeg in trurat: ’n koffiebeker met Herman van Wyk se gevreet op, brandewyn vir die pyn, Roxy se tee, die aanval … Maks!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sy strompel terug slaapkamer toe en draai die stort se krane vol oop. Die water spoel gras en Maks se bloed uit haar hare. Sy maak haar oë toe en laat die water oor haar gesig spoel. As die skok en vernedering net kan wegspoel. Vir wat het sy haar hart teenoor ’n vreemde man uitgepraat? Sy sal hom nooit weer in die oë kan kyk nie! Sy moes papdronk geword het! Sy sidder as sy dink hoe sy by die huis gekom het. Herman moes haar ingedra het!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Emily sal weet wat sy moet doen. Asof Em weet, lui die foon.

“Ek dog ek val uit my bed toe Konrad my bel! Is jy oraait? En Maks?”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Liesl vererg haar omdat sy weet Konrad het Emily gebel oor hy skuldig voel en wil hê iemand anders moet nou die simpatie oorneem. Isa het hom seker gisteraand hel gegee.

“Hier is ’n vreemde man in my huis!” kry Liesl ’n woord in.

“Wat? Wie? Moet ek die polisie bel?”

“Nee man, dis daai veearts-vriend van jou. Ek was dronk en hy het my huis toe gebring …” Sy gooi die sak patats voor Emily uit.

“Jinne Liesbet! Dis fantasies!”

Liesl kan nie glo wat sy hoor nie.

“Fantasties! Is jy mal Emily! Ek skaam my dood en buitendien laat die man al my nekhare regop staan.”

Emily se berugte skril laggie sny deur Liesl se kloppende kop.

“Chill Liesbet, moet tog nie so Miss Prisserig wees nie, dis tyd dat jy uit jou groef kom. Gaan maak hom wakker en nooi hom om saam met jou te kom stort! Daai His and Hers dubbelvolume stort van jou kort lankal bietjie aksie!”

Liesl kan dit nooit regkry om vir Emily kwaad te word nie. Eintlik is sy ’n tonikum.

“Ek is bly jy is okei, maar ek gaan waaragtig nie jou glibberige eks bel en terugrapporteer nie. Laat hom bietjie worry.”

’n Effense hartseer byt aan Liesl se hart. Konrad het aangebied om Maks se veeartskoste te betaal. “Dit wys hy gee nog om,” fluister ’n romantiese stemmetjie in haar oor, maar ’n realistiese stem herinner haar dat Konrad waarskynlik sy gewete met ’n paar duisend rand wil stil.

“Ek kom laai jou later op as jou babalaas oor is, dan doen ons retail terapie. Gaan maak nou vir Herman brekfis hoor!”

Emily lig Liesl se gemoed … Tydelik. Die reuk van spek en eiers kom die gang af gesweef. Die arrogansie van die man! Hy maak vir hom ontbyt in haar kombuis.

Sy vergeet sy het nog haar japon aan, die befaamde sy een, en storm kombuis toe.

“O, jy het dit oorleef! Hoe voel die kop?”

Liesl gluur hom aan, maar sy voel terselfdertyd dat sy in die aarde kan sink. Hoe gaan sy uit die situasie kom?

“Ek is jammer ek het seker al jou brandewyn gedrink. Dis nie my aard …”

Sy lag onderbreek haar. Hy sit ’n konkoksie in ’n glas voor haar neer.

“Sluk, lyk my jy is ’n ou drinker want jy het al die bestanddele van my babalaaskuur in jou yskas.”

Sy weet dit is nie nou die tyd om haar te vererg nie en sluk die walglike drankie met een teug af.

“Jislaaik, jy is ’n girl met guts! Daai doepa laat geharde manne bewe. Hier’s jou kos, eet en dan gaan ons kyk hoe gaan dit met Maks. Roxy het my gelukkig wakker gebel, anders het ek steeds op jou lekker bank gesnork. Maks het al water gedrink en probeer regop kom. Dis ’n goeie teken.”

Die spek en eiers laat haar beter voel. Heman se babalaaskuur waarskynlik ook. Sy wonder wat sal haar kinders dink as hulle weet hulle ma moes vanoggend iets drink om haar aan die lewe te skok na te veel brandewyn!

“Dankie vir gisteraand. Ek is jammer ek het my so sleg gedra. Jy moet dink ek is ’n suiplap en drama queen. Als was net te veel.”

Herman sit sy hand oor hare en die groen oë wat in die teaterjas weerkaats laat hom nogal aantreklik lyk. Sy skrik vir haar gedagtes en begin die skottelgoed bymekaarmaak.

“Ja, jy sal hardebaarde onder die tafel in drink hoor! Maar moenie bekommer nie, jou geheim is veilig by my. Jy het gister ’n rowwe dag gehad. Jy is nie die eerste mens wat ek al met brandewyn moes kalmeer nie. Terloops, jou eks het netnou ’n sms gestuur en gevra ek moet die rekening na hom e-pos.”

Voor sy haar kan keer, glip dit uit: “Hy voel skuldig, ek sal self betaal. Ek wil hom en Isa niks skuld nie.”

Herman lag uit sy maag.

“Nee man, laat hom betaal. Laat weet my hoe kwaad is jy vir hom, ek sal ’n plan maak met die rekening! Dan gebruik jy die balans vir botox en ’n boobjob, dis nou as jy hom terug wil hê want lyk my dis waarvan die man hou.”

Verontwaardige snorkgeluidjies kom onwillekeurig by Liesl se mond uit. Sy soek na die regte woorde om die man op sy plek te sit.

“Daar skort niks met my borsmaat nie. Lyk my alle mans is borsbehep. Vir wat laat julle nie julle eie borste inplant nie, dan het julle dit mos heeldag byderhand! Ek dink dis tyd dat jy loop. Dankie vir jou hulp, maar ek het tyd nodig om room op my plooie te gaan smeer. Botox! … Jy het self ’n paar spuite nodig.”

Herman steur hom min aan Liesl se woede. Hy gooi vir homself nog koffie in en gee ’n strokie oorblywende spek vir Kasparus, die buurtkat wat gereeld kom kuier. Hy buk om die kat te streel.

Liesl vang haarself dat sy die man se agterstewe bestudeer. Nogal netjiese boudjies vir so ’n groot man. Dan skrik sy vir haar onbeheersde gedagtes.

“Ek gaan gou aantrek …”

Groen spottende oë koggel haar.

“Dis dalk ’n goeie idee, daardie japonnetjie van jou is geneig om hier voorlangs oop te gaan. Terloops, ek kan sien daar skort niks met jou borsmaat nie.”

Op pad kamer toe brand haar wange van verleentheid. Hoeveel keer gaan sy nog ’n krater van haarself voor die vreemde man maak?

Sy gaan staan voor die spieël en skrik vir haar eie beeld. Die sy ets haar borste netjies af en haar tepels staan punt in die wind!

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.