kategorieë: Lees

Botox, Barbies en Bietse: Episode 8

Die koi dam

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Terwyl Liesl aantrek, hoor sy die deurklokkie lui. Sy begin haar hemp vasknoop terwyl sy die gang af loop. Sy hoop Herman het al gery want sy is nie lus dat iemand die man so vroegoggend by haar huis sien nie. Maar haar vrees word bewaarheid. Herman is reeds besig om die voordeur oop te maak. Hy het net sy bokser-onderbroek aan en hy is sopnat! Die vermetele vent het toe nie gery soos sy hom geva het nie. Hy het in haar swembad gaan afkoel!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Môre môre Konrad, lekker om jou weer te sien!”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Liesl sien die skok op Konrad se gesig. Sy oë beweeg blitsig van Herman se nat kaal bolyf tot by haar hande wat senuagtig vroetel om die laaste knope vas te maak.

“Onderbreek ek iets?” vra hy beskuldigend.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy kan aan Herman se gesig sien hy snap die misverstand.

“Nee man. Ons het pas ontbyt gehad en ek het bietjie gaan afspoel na die uitputtende nag.”

Die situasie klink en lyk nie goed nie, besef Liesl.

“Dis nie soos dit … Ek bedoel, Herman het my huistoe gebring na Maks begin bykom het.” Sy het geen idee hoekom sy die situasie aan haar ontroue eksman hoef te verduidelik nie, maar sy voel steeds soos ’n matriekmeisie wie se ma op ’n vurige gevry afgekom het.

Konrad se lippe pers dun op mekaar soos hy altyd doen as hy kwaad is. Sy kan nietemin sien hy verlustig hom in die situasie. Dink seker die bal is nou in haar baan.

“O, ek weet presies hoe dit lyk, Liesl. Is jy so desperaat? ’n Wildvreemde man!”

Die situasie gaan handuit ruk, besef Liesl en die woorde kan nie vinnig genoeg kom nie. “Hy is nie ’n vreemdeling nie, ons het gisteroggend by die universiteit ontmoet, hy is ’n vriend van Emily.”

Konrad vou sy arms. Skynbaar baie tevrede met homself dat dit dié keer Liesl is wat in ’n ongemaklike situasie betrap is en nie hy nie.

“O, Emily? Ek moes kon dink sy is betrokke. Ek het lankal gesê daardie vrou het ’n slegte invloed op jou. Maar hel, Liesl, jy hoef jou nie soos ’n slet te gedra nie. Jy is ’n vrou van vyftig! Voel lekker om ook agter die deur te staan né? Is die onskuldige Liesl toe nie so onskuldig nie?”

Herman het aanvanklik geamuseerd na die situasie staan en luister, maar tree woedend vorentoe tussen Konrad en Liesl in.

“Luister ou Beer, dis nou genoeg. Wat hier aangaan, het sover ek kan aflei eintlik niks met jou te make nie. Ek het Liesl huis toe gebring en …”

Konrad stamp Herman uit die pad. “Dit het baie met my te make, dis my kinders se ma wat haar soos ’n slet …” Die woorde is skaars uit of Herman lig Konrad aan sy kraag en das op. Sy bene skop benoud in die lug.

Dit moet al die spanning en babalaas wees want Konrad se hulpeloosheid is vir haar skreeusnaaks. Liesl lag histeries.

“Wag nou Herman, sit hom neer!”

Konrad trek sy das en hemp verergd reg. “Jy sal van my prokureur hoor! En Liesl, betaal jou brak se eie rekening, ek gaan jou boyfriend nie ryker maak nie. Jou skynheilige …”

Nie Konrad of Liesl verwag Herman se blitsige optrede nie. Sy vuis skiet soos blits en Konrad trek by die voordeur uit tot binne-in die water feature wat hy ’n paar jaar gelede vir sy koi laat bou het. Liesl onthou in die breukdeel van die sekonde sy het hom toe al gewaarsku die visdam is te na aan die voordeur. Konrad klim druipnat uit die water en storm op Herman af. Sy staan versteen en kyk hoe twee volwasse mans agtuur die oggend op haar voorstoep stoei.

Asof dinge nie erg genoeg is nie, kom Isa die tuinpaadjie af getrippel. Natuurlik, sy laat Konrad mos nie ’n sekonde alleen nie. Sy het seker moeg geword om in die kar te wag. Vrek seker ook van nuuskierigheid. In haar arms het sy ’n wit wollerige hondjie wat histeries blaf. Dis asof die diertjie sy eienares se stem naboots.

“Konnie! Konnie!” sy trippel op hakke wat ’n sentimeter of wat te hoog vir normale standaard is rondom die mans wie se gestoei tot op die grasperk gevorder het. Vir die wolliewoeps is die opwinding te veel en hy spring uit Isa se arms en blaf happened om die voorstedelike stoeivertoning.

Die groot lag neem Liesl se hele wese oor. Sy gee nie eens om of die bure dalk die eskapade hoor en sien nie.

“Wat gaan aan! Is jy mal! Keer hulle!” Dis asof Isa se haarverlengings vanoggend wilder staan.

Trouens, als lyk vir Liesl vanoggend wilder by hierdie huis in die noordelike voorstede waar eens ’n skynbare normale ma, pa en twee kinders gewoon het. Maar was hulle ooit normaal? Liesl dink aan haar skildery met die vrou wat deur die white picked fence reik om die roos in die tuin te pluk.

Sy weet nou dat sy haarself deur die jare gekul het deur te dink sy het voorstedelike nirvana bereik. Sy moes dit seker al besef het toe Konrad die eerste keer ontrou was. En elke keer daarna. Omdat sy sonder ’n pa grootgeword het was dit haar grootste begeerte om net ’n normale gesin te hê. Nou wonder sy of dit hoegenaamd moontlik is. Met al die jare se betrokkenheid by haar kinders se skole het sy ander vroue ontmoet wat net soos sy die skyn van geluk probeer voorhou. Maar agter menige picked fence is daar intriges. Soms is dit die ma wat oor die heininkie loer, soms die pa. Dit was vir haar fassinerend om op skoolkomitees te dien en die mense dop te hou. Veral as jy weet van die sleutels wat soms uitgeruil word om ’n saai huwelik op te kikker. Selfs as redelik verligte het haar mond oopgehang toe haar kind se Afrikaanse onderwyseres haar nooi na ’n partytjie waarop seksspeelgoed verkoop word. “Net vir die pret,” het die vrou verduidelik met wie sy daarna moeilik Ludwig se spelprobleem kon bespreek.

Sy kyk na die spektakel wat voor haar afspeel. Dit lyk soos ’n toneel uit ’n goedkoop komedie. Daardie soort tonele wat mens soms dink oordrewe is. Maar dié een is baie werklik. Die hoofkarakters is haar gewese vennoot in haar huishoudelike droom, beter bekend as die finansiële direkteur van die magtige myngroep en deesdae, Isa met die big hair and small mind se skoothond. (Liesl beken aan haarself sy is intens krities oor Isa, maar dit laat haar vir eers beter voel.) En dan is daar Dr. Harry, die diere se pel, ’n man wat sy skaars 24 uur ken en te veel ervaringe en emosies mee gedeel het as waaraan sy nou wil dink.

Eers toe Emily ook op die toneel verskyn, onthou sy van die inkopieterapie waarop hulle sou gaan.

“Goeie genade Liesbet! Jou lewe het opwindend geraak! Waaroor fight hulle? Oor jou? Jeez hoe exciting! Wie wen? …Ooooeps, dink jy Konrad gaan oukei wees? Harry! Klim af van die man af, hy is baie kleiner as jy!”

Dit klink later of Emily kommentaar lewer by ’n stoeigeveg en ook skeidsregter speel. As mens jou verbeelding gebruik, kan jy aan Isa die rol gee van die popsie wat die rondtes aankondig want sy trippel histeries al om die kantlyn. Emily, in haar rol skeidsregter, kry dit darem reg om die twee vegtende manne uitmekaar te kry.

Konrad se wit Italiaanse hemp hang aan flarde. Isa se hondjie speel met sy ontwerpersdas op die gras. Konrad vee met die agterkant van sy hand die bloed van sy neus en mond af. Herman se oog begin toeswel.

“Voel julle seuns nou beter?” vra Emily spottend, maar sy word nie met vriendelike blikke begroet nie.

“Perdedoktertjie, jy het nou die verkeerde man aangevat! Sien jou in die hof!” Liesl kan nie help om Konrad jammer te kry nie. Hy het sleg tweede gekom en dit is sekerlik nie die soort vertoning wat hy voor Isa wou lewer nie. Hy vang Isa se brakkie en storm swetsend die tuinpaadjie af. Isa trippelend agterna.

Herman gaan spoel homself in die swembad af en kom druipstert soos ’n seun wat kwaadgedoen het troos soek in die lapa waar Emily en Liesl ’n post mortem oor die laaste 24 uur se gebeure hou.

“En hier het ons die ridder op die perd! Herman, ek vind dit so romanties dat jy Liesl se eer verdedig het. En gisteraand? Dis soos iets waaroor ek ’n fliek wil maak!”

Liesl probeer haar onderbreek met besware, maar Herman, wat duidelik weer in ’n goeie bui is, kry die oorhand.

“Ja, ’n man moet maar doen wat ’n man moet doen né? Ek is net bly Liesl se eks is ’n maer outjie, ek is bietjie uit oefening. Het op laerskool laas so ’n goeie fight gehad.”

Nadat hy weg is, kan Emily dit nie langer hou nie.

“Meisie! Well done! Hier begin jou lewe nou eers opwindend raak! As jy my vra, is die egskeiding die beste ding wat jou kon getref het.”

Liesl staan op en haal die pakkie sigarette agter die yskas uit. Sy steek een aan en blaas die rook nadenkend uit en glimlag.

“Ja, Em, die keer dink ek jy is reg.”

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.