“Weg van die res van die wêreld en al sy verantwoordelikhede en weg van die geraas” – só het Reandi Grey, aanbieder van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou die vyf boere en hul pasmaats se tyd saam beskryf. Maar het die son, see en vakansie die liefde laat blom of ontnugtering meegebring?
Paternoster aan die Weskus was die plek waar almal gaan uitspan het. Van Paternoster is die span na Langebaan geneem – meer spesifiek, Club Mykonos. Toe word daar lootjies getrek om vas te stel watter aktiwiteit op elkeen van die boere en hul pasmaats wag. Maar eers is daar gebraai aan die Weskus om almal by die Boere-Bahamas welkom te heet. Die kok agter die vlamme was bobaasbraaier en koskenner Kobus Botha van Kokkedoor: Vuur & vlam.
Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas
“Dis ’n baie goeie tyd om kwaliteittyd saam te spandeer,” het ’n opgewonde Willie oor die tyd saam met Cilmari gesê. Hul het soos twee tieners gegiggel, en dit was duidelik dat die twee mekaar se geselskap geniet.
“So ver gaan dit baie goed. Baie goed.”
Al twee het speels verklaar dat nie een van hulle reeds moeg is vir die ander een nie.
Cilmari het gesê dit voel goed om saam met Willie te wees, want sy kan werklik net haarself wees. Sy het gedink hulle is besig om ’n rigting in te slaan, en hulle bevind hulle beslis nie in ’n situationship nie.
Daar was grotendeels konsensus daaroor dat Willie en Cilmari die gelukkigste van al die paartjies lyk. Hulle het self ook so gedink.
Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
Evert het vertel dat hy en Lauren mekaar twee weke laas gesien het – die langste tydperk sedert hulle op die plaas was.
“Dis nogal lekker om iemand te kan mis,” het hy erken. “Dis nog beter om te weet daar gaan ’n geleentheid wees waar julle bymekaar gaan uitkom.”
Vir Lauren het dinge ’n bietjie vinniger verloop as wat sy verwag het. Gelukkig, het sy vertel, is hulle kommunikasie goed, en hulle het dit tot hier gemaak. Een ding waaroor sy en Evert saamgestem het, was dat die twee weke wat hulle nie saam was nie, baie lank was.
Toe Lauren vir hom sê dat hulle besig was om middag- en aandete op een slag te geniet, het hy seepglad ingeglip met: “Can I have your heart?” en bygevoeg dat hy reeds haar pa gevra het.
Sy het erken dat sy opgewonde is oor die plek waar hulle twee hulself nou bevind, want hy’s die soort van ou met wie sy haar lewe kan deel.
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal
“Waar staan ons nou?” was die vraag wat Rudi homself afgevra het. Wel, hy en Hannes bekyk mekaar nog, het hy gesê, maar albei voel positief.
“Tyd gaan maar vir ons ’n antwoord gee,” was Hannes se reaksie.
Hannes was seker dat hy en Rudi op die regte pad is met mekaar en dat die potensiaal vir iets meer, baie sterk is.
Vir Rudi was dit lekker om net oor ditjies en datjies met Hannes te kon gesels. So tussen alles deur het Hannes erken dat Rudi vyf jaar gelede kwalik na sy kant toe sou kyk. Maar die afgelope vier jaar het hy baie rustiger geword.
Rudi het hul verhouding vergelyk met dié van ’n baba se vordering: tussen die kruip en die loop.
“Bietjie vorentoe, bietjie agtertoe, slat iets om, lag ’n bietjie, huil ’n bietjie,” het hy gesê. Op sy beurt het Hannes gesê Rudi beskerm sy hart, en sy mure is baie hoog, maar dat hy terselfdertyd baie “oop” is.
Ten spyte daarvan voel Rudi nog nie verlief of verlore nie, maar “daar’s hoop”.
Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton
Waar is Lizelle? En wie is die vreemdeling wat hand om die lyf saam met Rudi H opgedaag het?
Dit was Lenmarie wat liefies Rudi H se hand vasgehou het, en die tweetjies het al te danig met mekaar gelyk. En, het sy laggend erken, ironies is Paternoster die plek waar sy nog altyd wou trou.
“Met die laaste uitstemming het ek vir Lizelle gekies,” het Rudi H verduidelik. “Maar daar was nooit … altans, van my kant af was daar nooit daai konneksie nie.”
Lenmarie was aanvanklik onder sy toptienkeuses gewees, maar toe het sy nie in die vierde episode van die huidige reeks by die blitsafsprake opgedaag nie. Later het sy kontak met hom gemaak om uit te vind of hy haar tweede brief ontvang het om te verduidelik hoekom sy nie opgedaag het nie. Die einde van die storie was ’n e-pos en toe koffie en kuiers oor en weer.
“En nou’s ons hierso.”
Hy het gesê hulle verhouding was platonies en dat dit vir hom die regte manier is waarop ’n verhouding moet begin. Lenmarie het saamgestem. Beide wou die week benut om mekaar beter te leer ken.
Lenmarie het erken sy was spyt sy was nie tydens die episodes op die plaas nie. Rudi H het saamgestem en gesê hy hou van haar aanpasbaarheid. Sy vat dinge soos dit kom en maak die beste daarvan.
“Ek sal sê ons is so ’n bietjie in die friend zone. Ons geniet mekaar se geselskap, maar ek kan nie namens hom praat nie,” was haar mening.
“Ons weet waar ons met mekaar staan, en ja, daar’s vir seker passie, anders sou dit nie so ver gegaan het soos tot dusver nie,” het die boerbokboer van sy kant laat hoor. Net soos die ander Rudi, glo Rudi H aan babatreetjies.
“Ons het definitief hierheen gekom as vriende. Vriende met hopelik intensies. Ek weet nie of dit sin maak nie. En ek dink ons is nog steeds op daai vlak,” het Willie gesê en bygevoeg dat hierdie werklik ’n goeie tyd is om mekaar beter te leer ken.
Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond
Pieter en Anzelle het dit tot dusver reggekry om mekaar elke tweede week te sien. En Pieter het boonop seker gemaak dat hy Valentynsdag met Anzelle kon deurbring.
“Ja-nee, ek het haar gevra om my meisie te wees op Valentynsdag, en dit was baie spesiaal,” het Pieter met ’n breë glimlag aangekondig.
Anzelle het die wegbreek saam met Pieter ervaar as iets wat sy graag wou hê. Dit was vir haar rustig en gemaklik, en sy’s baie gelukkig.
Pieter het ook die tyd met Anzelle geniet en gesê dat daar regtig niks is waaroor hy kan kla nie.
Toe sy by hom wou weet wat op hom wag met sy terugkeer na die plaas, het hy net een woord gehad: “Verlange.”
Die jong boer het duidelik muisneste, want hy het vertel terwyl hy moet boer, dink hy die hele tyd aan Anzelle en wil hy graag by haar wees. En, het hy erken, die boerdery ly daaronder, maar hy is oortuig dit sal eendag weer beter gaan – wanneer sy daar is. Pieter het selfs erken dat dit beslis liefde met die eerste oogopslag was, en hy glo hy het sy trouvrou in Anzelle gevind. Sy glo ook sy het haar ideale man ontmoet.
Die ander vier boere is nog versigtig om hul gevoelens naam te gee, maar Kupido se pyle het hulle ten minste skrams getref, of selfs ’n kolskoot gegee sonder dat hulle dit agtergekom het. Net tyd sal leer.
Lees ook: Matriekafskeidrokkompetisie: Só lyk ons wenner se rok!












