kategorieë: Ons menseBekendes

Daniah de Villiers: Jonk, blond en passievol!

Daniah de Villiers: Jonk, blond en passievol! Deur Zoë Salzwedel. Hooffoto: Verskaf

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Daniah de Villiers vertolk tans die rol van Trudie Ferreira in Binnelanders, was te sien in die Afrikaanse-film Nul is Nie Niks Nie wat in 2017 die lig gesien het, en het onlangs die hoofrol vertolk in die internasionale film Mia & The White Lion wat in Januarie 2019 in Europa vrygestel is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Lees ook: Marisa Drummond, Reine Swart en Luan Jacobs gesels oor Nul is Nie Niks Nie.

Stefan Enslin: Niks is onmoontlik nie

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Mia & The White Lion is internasionaal vrygestel en in menige tale vertaal. Die fliek is ook aangewys as die gewildste Franse rolprent buite Frankryk in 2019, en is al deur meer as 2,43 miljoen fliekgangers in 25 lande regoor die wêreld gesien – dit kom neer op $36,6 miljoen by die loket. Daniah het self vroeër vanjaar in Italië by die Ragazzi E Cinema Film Festival ’n toekenning ontvang vir haar rol in dié fliek.

Die Franse regisseur, Gilles de Maistre, het besluit om die fliek oor ’n verloop van drie jaar te verfilm sodat die rolprent se jong sterre, Daniah De Villiers en Ryan Mac Lennon, werklike verhoudings met die leeus en ander diere wat in die rolprent verskyn kon bou. Die film is gebaseer op ’n oorspronklike verhaal wat deur Gilles de Maistre se vrou, Prune de Maistre, geskryf is nadat hulle leeu-teelplaas in Suid-Afrika besoek het.

Die wêreldbekende wildbewaarder, Kevin Richardson (beter bekende as die “Lion Whisperer”) het toesig gehou oor die hele produksieproses en alle interaksies tussen die leeus en die kinders, om dus die veiligheid van die diere, akteurs en kameraspanne op die stel te verseker.

Lees ook: ’n Kykie in die lewe van ’n wildbewaarder

Die film laat ’n mens twee keer dink oor wilde diere in Suid-Afrika, die rol wat mense speel in die dalende getalle van wilde leeus in die natuur en die besonderse diere wat leeus is.

Ons het besluit om met Daniah de Villiers (wat die rol van Mia in die film vertolk) te gesels, en hier is wat sy alles te sê gehad het:

Toe jy op die jong ouderdom van 12 aan Mia & The White Lion begin verfilm het, het jy op daardie stadium besef hoe ’n groot impak dié fliek op jou lewe gaan hê en hoeveel werk/tyd jy daaraan gaan moet afstaan?

Ek het besef dat dié fliek beslis ’n eenkeer- in-’n-leeftyd geleentheid is, en my verwagtinge was groot. Ek is reeds op die ouderdom van 11 gekies vir die rol van Mia, en ek en my hele familie het van die Kaap af Gauteng toe verhuis sodat ek saam met die leeus kon grootword.

Mia & The White Lion is oor ’n tydperk van 3 jaar geskiet – soos wat ek en die leeus mekaar beter leer ken het. Ek het wel nooit besef dat my liefde vir die leeus so groot sou word nie, maar die geleentheid was beslis ’n droomkans.  Die fliek het basies my hele lewe oorgeneem en ek het daagliks ure saam met die leeus deurgebring.

Mia & The White Lion is uniek daarin dat dit oor ’n paar jaar verfilm is en dat die interaksies tussen mens en dier werklik is – daar is absoluut geen CGI by die interaksie-skote betrokke nie. Jy en Thor (Charlie in die fliek) het die kans gekry om saam te groei en saam groot te word, en oor drie jaar wedersydse vertroue op te bou. Hoe het dit gevoel om ’n spesiale lid van dié besonderse spesie voor jou oë te kon sien grootword? En watter deel van dié ervaring het jy die heel meeste geniet?

Wat die fliek vir my so spesiaal maak is die feit dat alles wat jy op die skerm sien eg is en werklik gebeur het  – die leeu was nie afgerig nie, en ons verhouding was intiem. Dit was ongelooflik om te sien en te ervaar dat so ’n groot, sterk leeu regtig kies om so sag en lief vir my te wees. Maar terselfdertyd was dit baie harde werk, want net soos mense, gaan leeus ook deur verskillende fases wat ek moes leer ken en waarby ek moes aanpas om met hulle te kon werk.

Vertel vir ons van die interaksieprosesse met die leeus. Hoe gereeld het jy die leeus gesien, en wat het/moes julle tydens julle interaksiesessies doen?

Ek het die leeus minstens drie maal per week oor ’n tydperk van 3 jaar gesien. Tydens ons interaksiesessies het ons heelwat tyd saam deurgebring: in die veld gaan stap, saam gespeel en dikwels lekker geslaap. Ek moes ook gereeld hulle kampe by die Kevin Richardson Wildlife Sanctuary skoonmaak en vir hulle kos gee.

Besoek jy nog vir Thor? En wat het julle verhouding vir jou geleer?

Ja, ek gaan kuier nog gereeld vir Thor, maar ongelukkig slegs deur die draad omdat die fliek verby is.

Ek het soveel wonderlike dinge uit ons verhouding geleer, waarvan een is om altyd “true” (eerlik en eg) te wees, want jy kan nie ’n verhouding met ’n leeu fake nie. Ek het ook geleer dat leeus nie hierdie “kwaadwillige moordmasjiene” is wat ons dikwels glo hulle is nie – hulle is eintlik baie sosiale diere wat hope liefde gee en geniet. Maar ek besef wel dat ’n leeu steeds ’n wilde dier is met instinkte en dat hy nooit ’n troeteldier sal wees nie!

Watter boodskap wil jý hê moet Mia & The White Lion aan kykers oordra?

Ek hoop dat daar ’n nuwe wêreld vir mense sal oopgaan en dat hulle ook die liefde in hulle harte sal vind om dié besonderse diere te wil beskerm – en ook die waarheid te sien van wat werklik met leeus gebeur (veral in Suid Afrika!).

Wat was vir jou die heel moeilikste deel daarvan om aan ’n fliek te werk waarin diere so ’n groot rol speel? Vertel vir ons van die proses van verfilming met diere op stel.

Omdat die leeus glad nie afgerig was nie, moes ons maar rondom hulle buie verfilm.  Ek het werklik baie geleer en gegroei, want dit was beslis ’n nuwe uitdaging om ’n leeu te hanteer, my woorde te onthou én aan Mia se karakter lewe te gee.

Wat maatreëls betref was die kameraspanne tydens verfilming in hokke, terwyl ek en Thor vry was.

Wat was jou gunsteling toneel in die fliek, en hoekom?

Sjoe, dis ’n moeilike vraag want daar is só baie! In die fliek is daar ’n toneel waar ek en Thor op die dak van ’n motor aan die slaap raak. Dis ’n baie intieme oomblik waartydens ons regtig aan die slaap geraak het. En terwyl die koue wind rondom ons gewaai het, het Thor my warm gehou terwyl ek na sy hartklop kon luister.

Net om daardie oomblik te ervaar, veilig in die arms van ’n leeu (die liefde en vertroue tussen my en Thor) is iets wat nie baie mense kan beleef of enigsins kan verstaan nie, want dít was slegs moontlik deur ’n verhouding en wedersydse vertroue wat oor ’n periode van 3 jaar opgebou is.

Kevin Richardson was ’n baie belangrike sleutel in die hele proses van interaksies tussen mens en leeu. Hoe was dit vir jou om saam met hom te werk? En wat kon jy by hom leer?

Dit was ’n absolute voorreg! Kevin was vir drie jaar lank my mentor en het vir my alles oor leeus geleer: hulle instinkte, hoe om hulle te lees en hoe ek hulle moes hanteer wanneer ons speel, want ’n leeu reageer op my reaksies. Hy is voorwaar die “Lion Whisperer” en die leeus is absoluut mal oor hom. Kevin gee intens om vir die beskerming van ons wilde leeus en wil ook die publiek bewus maak oor wat regtig besig is om te gebeur met die leeus in ons land.

Wat het jou karakter (Mia) in Mia & The White Lion vir jou geleer?

Om op te staan vir dit wat reg is en waarin jy glo, en dat jy wel ’n verskil kan maak!

Hoe het jy by Mia & The White Lion betrokke geraak?

My agent het my vertel van die oudisie vir die fliek. Hulle het regoor die land gesoek vir die regte akteurs en die hele oudisie-proses het ses maande geneem. Die rol was oorspronklik geskryf vir ’n seun, maar hulle het dit later na ’n meisie toe verander. Ek is steeds baie dankbaar en voel bevoorreg om die rol van Mia te kon vertolk.

Watter impak het dié besonderse geleentheid op jou lewe gehad?

Ek twyfel sterk of ek vandag die mens sou wees wat ek is, as dit nie vir dié besonderse avontuur was nie. Ek is nog altyd baie lief vir die natuur en diere, maar het nooit in my wildste drome gedink dat dit moontlik kon wees dat ek sou groot word saam met leeus en in die bosveld kon bly nie. Ek het verlief geraak op die leeus en kon nie glo wat met hul gebeur in aanhouding en in die natuur nie. Daar is baie mense wat steeds nie besef wat met soveel van ons leeus gebeur nie – daarom voel dit vir my soos my verantwoordelikheid om mense bewus te maak en te inspireer om hulle te beskerm.

Wat is jou droom vir die toekoms?

Ek wil graag nog baie karakters vertolk en belangrike stories vertel.

Ek het heeltyd nuwe planne en drome en sal graag elkeen wil bereik. Ek hoop om ook eendag te kan sien hoe mense mekaar en diere help, want ons is almal deel van iets groters en het die vermoë om ’n verskil te maak.

Waaraan is jy tans besig om te werk?

Ek speel op die oomblik in Binnelanders en vertolk die rol van Trudie Ferreira. Ek geniet dit vreeslik en is baie lief vir my mede-akteurs en die kameraspanne. Verder  het ek ook onlangs aan ’n fliek in die Kaap geskiet wat later vanjaar die lig sal sien.

Het jy dalk ’n droomrol? Iets wat jy beslis graag eendag wil vertolk?

Ja, ek het eintlik ’n hele paar droomrolle, maar sal beslis mal wees daaroor om ’n heldin te speel – soos Jennifer Lawrence in die Hunger Games-reeks.

Op watter ouderdom het jy jou liefde vir die vermaaklikheidsbedryf, drama en toneelspel ontdek?

Ek sing, dans en “act” eintlik al van kleintyd af, maar het eers in 2013 – toe ek aangewys is as die “Junior Grand Champion of the World” in toneelspel in Los Angeles – geweet dat ek beslis wil werk aan ’n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf.

En laastens wil ons weet: Hoe vind jy ’n balans tussen die lewe van ’n internasionale aktrise en ’n gewone sestienjarige meisie?

Ek ontvang tuisonderrig – die afgelope vier jaar was ontsaglik besig maar baie opwindend! Ek het die kans gekry om baie lande en plekke te besoek, hope filmfeeste by te woon en interessante mense van regoor die wêreld te ontmoet (van prinse tot bekende akteurs). Ek het ook die voorreg gehad om op verskeie televisieprogramme en ander platforms regoor Europa te praat tydens die film se vrystellingsproses. My gesin help my om ’n balans te handhaaf tussen verfilming, optredes, skoolwerk, ’n sosiale lewe en natuurlik my liefde vir leeus.

Kyk gerus hier na die voorprent van Mia & The White Lion:

Die film is tans beskikbaar op Box Office en sal ook binnekort op DVD te koop wees.

Deel
Gepubliseer deur
Zoe Salzwedel

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.