kategorieë: Lees

Dans met die rooirok: Hoofstuk 19

Die erfporsie

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Amelie kan nie tot rus kom nie. Die besoek aan Oom Boet het heelwat vrae beantwoord, maar ook ’n paar nuwe vrae geskep.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Iets moes die nag met Phil se laaste besoek aan Amelia gebeur het. Dit maak vir haar net nie sin dat Amelia nie met Phil se vertrek kon aanvoel iets vreeslik gaan gebeur nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Daar is ’n krat dokumente in die stoorkamer wat Amelie nog nie deurgegaan het nie. Sy het al bolangs daarin geloer en weet dit bevat van die mees onlangse dokumente voor Amelia se dood.

Die seuns help Amelie om die krat tot in die kombuis te sleep. Dan begin sy die dokumente uitpak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Daar is heelwat kwitansies en amptelike briewe van die Marceaux-familie-trust en dit is duidelik Amelia se ma, Agnes, het selfs na haar dood vir haar dogter gesorg.

Latere dokumente van die trust laat Amelie regop sit. Daar is duidelike verwysings na Alett se erfporsie indien Amelia tot sterwe sou kom. Dit stipuleer dat indien Alett self tot sterwe kom, haar boedelbegunstigdes dié deel van die erfporsie moet kry. En ook die helfte van Le Crotoy!

So ver Amelie weet, het haar ouma geen ruim erfporsie in haar leeftyd ontvang nie. Sy het nederig geleef. Haar tante het beslis ook nie van die erfporsie melding gemaak nie. Haar ouma sou nie so nederig geleef het as die helfte van een van Frankryk se welvarendste wynplase aan haar behoort het nie.

Dit laat ’n effense wrang smaak in Amelie se mond. Haar ouma het die bloed van twee skatryk families in haar are gehad, dié van die Marceaux’s en dié van die Groenewalds. Die ironie is sy het tot haar sterfbed ’n eenvoudige bestaan gevoer en nooit die voordeel van een van die rykdomme gehad nie.

Sy neem haar voor om te baklei vir haar ouma se regmatige deel van ten minste die Marceaux-fortuin. Sy sal iets waardevol daarmee doen tot haar ouma se nagedagtenis.

Skielik verstaan sy haar ouma se betrokkenheid by ’n tehuis vir ongehude moeders in Pretoria. Sy het dit waarskynlik gedoen oor haar eie ma by haar geboorte nie ’n keuse gehad het as om haar te laat aanneem nie. As sy haar ouma se erfporsie kry, sal sy sorg dat dié tehuis daarvan kry.

Dit is vir haar vreemd dat so ’n groot familietrust nie die moeite gedoen het om die erfgename van die helfte van die rykdom op te spoor nie. Dit klink net nie reg nie. Daar moet iewers iets gebeur het, wat dit verhoed het. Die kans is goed dat haar ouma nooit eens van die erfporsie geweet het nie.

Amelie se ma was Alett se enigste begunstigde en Amelie self is haar ma se enigste begunstigde. Dit gee Amelie dus die reg om aanspraak te maak op haar deel van die erfporsie!

Sy wonder of Adrien Marceaux daarvan bewus is. As hy dieselfde afskrifte van die Trust-dokumente het, is dit waarskynlik. Hy het dalk voor haar geweet van dié kinkel in die erfporsie. Hy het nie in een van sy e-posse daarvan melding gemaak nie.

Amelie was onder die indruk dat Mon Abri en die meubels van die enigste bates was wat Amelia gehad het. Nou blyk dit die trustfonds wat haar sake bestuur het, het miljoene Euro’s in ’n Franse bank, en die helfte kom haar toe!

Sy kan nie help om nou te wonder of Adrien nie dalk bybedoelinge het met sy uitnodiging na Frankryk nie. Dit klink al meer of hy nie net aan die boek wil werk nie.

Adrien het hom volgens Hannes nie juis aan Mon Abri gesteur nie en geen wonder nie, dit is net ’n druppel in die emmer vergeleke met die miljoene in die trust wat hy van sy tante erf.

Het sy belangstelling in Mon Abri eers opgevlam toe hy besef wie dit is wat Mon Abri wil koop? Hy moes dadelik besef het dit is iemand wat hom die helfte van sy rykdom kan laat afstaan.

Sy is daarvan oortuig dat Adrien haar verbintenis met Amelia waarskynlik uitgerafel het voor sy dit kon doen.

Amelie pak al die Trust-dokumente op ’n hopie want sy wil dit met haar prokureur bespreek voor sy Frankryk toe vlieg. Sy gaan nie toelaat dat Adrien haar uit haar deel van die boedel kul nie. Al kry sy net Mon Abri uit die boedel, sal sy tevrede wees. Dit sal haar pas as sy nie die groot verband hoef af te betaal nie.

Haar skietgoed is gereed vir die sjarmante Fransman en sy ma, besluit sy. Al moet sy deur die nag werk, sy gaan so veel van Amelia se dokumente deurwerk wat sy kan.

Sy kry ’n paar briewe van Amelia aan haar suster Arianne wat aandui dat die twee susters se verhouding nie altyd wonderlik was nie. In van die briewe klink Arianne bitter oor Amelia die oorsaak was dat hulle ouers se verhouding verbrokkel het. In van die briewe maak Arianne melding van Adrien wat die enigste hoop is om die Marceaux-naam voort te dra. Sy noem nie Adrien se pa nie en dit bly vir Amelie vreemd dat Adrien se van Marceaux is en hy nie sy biologiese pa se van dra nie.

Arianne speel duidelik ’n manipulerende speletjie met haar suster en dit is duidelik dat die groot Marceaux trust die spil is waarom die meeste briewe wentel. Dit is moeilik om Amelia se kant van die saak te peil, maar Amelie kan aflei dat haar voorsaat nie eintlik erg aan die Europese geld gehad het nie. Mon Abri was haar koninkryk en in van die briewe maak Arianne melding dat dit vir Adrien moeilik sal wees om die huis na Amelia se dood in stand te hou. Dit klink of Amelia nie wou gehad het haar huis moet verkoop word nie. Die enigste rede waaraan Amelie kan dink, is dat Amelia Mon Abri op Sederfontein na haar dood in stand wou hou om die gemeenskap en die Groenewalds te herinner dat hulle haar nooit kon breek nie.

Amelie kry koue rillings as sy dink hoe Amelia in ’n bisarre sameloop van omstandighede tog haar sin gekry het. Mon Abri is besig om te herstel na sy volle vorige glorie en dit is inderdaad ’n steen des aanstoots vir die Groenewalds en die gemeenskap.

Al is Amelie nie ’n bygelowige mens nie, voel dit vir haar effe ontstellend dat ’n bonatuurlike aantrekkingskrag haar na Mon Abri en Sederfontein gelok het na haar lewe in die stad verkrummel het.

Sy is daarvan oortuig dat Hannes nie geweet het van Mon Abri se verbintenis met die Marceaux trust nie. Maar iemand op Sederfontein moes Adrien waarskynlik ingelig het oor die jongste verwikkelinge by Mon Abri. Maar wie? Haar e-posse aan Adrien het nie in diep detail ingegaan oor haar bloedlyn-verbintenis met Amelia nie. Noudat sy weer Adrien se e-posse lees, weet sy sy is waarskynlik reg dat hy reeds op sy manier die legkaartstukke ingepas het en dat dit moontlik vir hom rooi ligte laat flikker het dat hy ’n deel van sy erfporsie sal moet afstaan aan Amelia se nasaat in Suid-Afrika.

Die krat bevat ’n foto-album met moderner foto’s van Adrien en Arianne. Dit klink of Amelia nie eens na haar pa se dood weer na Frankryk teruggekeer het nie. Vandat haar pa haar as swanger jong meisie op die skip gesit het, het sy nooit weer na haar vaderland teruggekeer nie. Sy het verkies om as verstoteling op ’n dorp te bly waar sy moes aanskou hoe haar geliefde ’n lewe met ’n ander vrou deel.

Amelie kry haar voorsaat jammer. Sy moes baie bitter gevoel het omdat sy uit haar land verban is. Daar is ’n kort briefie in haar handskrif langs foto’s van Adrien in die kelders op haar geboorteplaas.

Amelia skryf oor haar verlange na Le Crotoy: “Jare se trane het in die wynvate agtergebly en gee die wyn ’n bittersoet aroma op die tong. ’n Ondertoon wat geslagte lank daar sal bly. Wynvate onthou. My naam is op die vate ingekerf. Ek sal altyd in daardie kelders wees. Altyd. Duisende myle daarvandaan skink ek die wyn in my glas. Ek lig my glas in die Vrystaatse son en ek kyk. Ek sien Le Crotoy in die wasigheid aan die ander kant.”

Op die foto’s kan Amelie sien hoe Adrien die middelpunt van sy ma se wêreld is. Sy is op die meeste foto’s saam met haar seun. Dit is opvallend dat hy geen familietrek van sy ma het nie. Hy is donker, lank en het ’n soel vel. Waarskynlik die gelaatstrekke van sy biologiese pa.

Na ’n lang soektog vind Amelie uiteindelik ’n brief waarin Arianne melding maak van Phil. Sy smeek haar suster om terug te keer. Die brief is na Phil se dood geskryf:

“Daar is niks meer wat jou daar hou nie. Hoekom bly klou aan ’n droom wat nooit waar kon word nie? Hy was jou nooit werd nie. Wat het hy vir jou opgeoffer? Jy het alles vir hom gelos. Jou familie is deur hom in twee geskeur. Mamma se trane het soos ’n waterval deur daardie skeur gestort. Wanneer gaan dit vir jou genoeg wees? Hy het gekry wat hy verdien het. Vergewe my, maar hy het die dood verdien. Maak jou nou los van daardie ellendige plek. Ek kan nie begryp waarom jy nog in daardie huis wil bly nie. Mon Abri is nie jou koesterplek nie, my suster. Dit is ’n monument van jou liefde vir ’n man wat dit nie werd is nie.”

Die brief moes Amelia ontstel het. Dit is eers opgefrommel en daarna weer uitgestryk.

In ’n bruin koevert kry Amelia nog ’n verwysing na Phil. Daar is ’n paar knipsels van koerantberigte na sy dood en ook ’n begrafnisbrief. Sou Amelia dit gewaag het om na die begrafnis te gaan? Daar is foto’s van die krans waar Phil afgestort het. Agterop die een foto staan. “Waar ek jou die laaste keer kon groet”. Wat sou Amelia daarmee bedoel het? Het sy met haar besoek aan die krans van Phil gaan afskeid neem?

Daar is ’n knaende gedagte wat Amelie probeer dood druk, maar wat heeltyd opborrel: Was Amelia daardie verskriklike aand saam met Phil by die krans?

*Lees hoofstuk 1-18 hier

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.