kategorieë: Lees

Dans met die rooirok: Hoofstuk 21

Kop verloor

Amelie stel haar foon se wekker sodat sy vroegdag kan gereed maak vir ontbyt saam met Adrien. Altans, sy neem aan hy sal hom dan seker verwerdig om by haar aan te sluit. Sy kan steeds nie glo hy het ’n hele dag van haar kort besoek aan Frankryk gemors nie. Hy het haar immers genooi om kamma die boek te bespreek en al dink sy nou hy het bybedoelinge, was dit uiters onhoflik van hom en sy ma om haar haar eerste dag alleen te laat. Sy vermoed dis ’n diskrete manier van hulle om haar te wys sy is nou op hulle terrein en hier is hulle baas.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dis hoekom sy op haar beste wil lyk vir die eerste ontmoeting. Sy moet Adrien wys sy is nie sommer net ’n verveelde vroutjie wat sy tante se huis op die platteland gekoop het nie. Sy het jare by Suid-Afrika se top uitgewery as uitgewer gewerk en sy het skouers geskuur met die ‘wie is wie’ en sy het ’n hele paar uitrustings by spogboetieks in Hyde Park gekoop. Sy het hulle almal natuurlik saamgebring want sy weet wat gesê word van Franse vroue se kleresmaak en sy wil beslis nie hê Arianne Marceaux moet haar aankyk asof sy iewers uit ’n gat gekruip het nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Vir haar groot ontbyt-afspraak kies sy ’n bruin langbroek van wolstof en ’n sagte roomkleurige lamswol trui saam met leerstewels met lekker hoë hakke aangesien sy weet dit laat haar langer en maerder lyk. Sy het ’n pragtige Hermes-serp tussen Amalia se goed gekry en dit gaan haar uitrusting afrond. Sy wil haar hare opbind om dit in beheer te hou en ook om seker te maak hulle sien die diamantoorbelle wat Renier een keer vir haar as ’n omkoop geskenk gekoop het toe hy ’n oortreding begaan het wat sy nou nie eens meer kan onthou nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy slaap onrustig en as ’n diep slaap haar uiteindelik oorval, droom sy Arianne is The Queen of Hearts in Tim Burton se weergawe van Alice in Wonderland en die Mad Hatter is nie Johnny Depp nie, maar inderdaad die aantreklike Adrien. Sy self speel in die droom die rol van Alice en sy besef gou hierdie weergawe van die Mad Hatter is nie haar vriend nie, maar ’n verraaier wat saam met die Queen of Hearts haar kop wil afkap!

Sy skrik dankbaar wakker net voor haar kop waai en begin haarself dadelik vermaan dat sy haar moontlik die vyandige atmosfeer in die Le Crotoy chateau verbeel. Dalk is daar ’n goeie verduideliking hoekom Adrien en sy ma haar die vorige dag ignoreer het?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

’n Kamermeisie kom haal haar vir ontbyt en neem haar na die eetkamer êrens in die weelderige labirint van die chateau, maar dit wat haar daar inwag, laat haar mond spontaan van verstomming oophang. Daar is weer net een plek gedek! Watse soort speletjie speel die Marceaux? Dit moet ’n spel wees want geen mens kan so onbeskof wees nie!

Tydens ete neem sy haar voor om haar tydjie in Frankryk te geniet, met of sonder haar kamtige gashere. Na ete gaan sy die chateau verken om te kyk of sy enigiets meer oor Amelia kan uitvind. Sy besluit om een van die kamermeisies se guns te wen sodat sy haar kan rondwys.

Al is die ontbyt effe te koud na haar smaak, gee sy hewige komplimente en vra om die sjef in die kombuis te kan besoek sodat sy self die kompliment kan oordra. Sy kan sien die kamermeisie skrik vir die versoek, maar tot haar verligting neem sy haar na die groot kombuis.

Haar instink was reg want Bertha, die sjef, is oud genoeg om van Amelia te weet. Haar vermoede word bevestig as Bertha doodsbleek raak met hulle ontmoeting. Amelie het vir ’n oomblik vergeet van haar verstommende ooreenkoms met Amelia. Bertha ken die gesin dus goed genoeg om dit raak te sien. Sy storm op Amelie af en vou haar lang hande weerskante van Amelie se gesig. Sy babbel in Frans en die naam “Amelia” is omtrent al woord wat Amelie kan uitmaak.

Bertha werk al vyftig jaar by die gesin en was baie na aan Amelia se ma, Agnes.

Amelie verduidelik kortliks vir haar hoekom sy so baie na Amelia lyk en dit laat Bertha terstond in trane uitbars.

“Ek gaan ’n boek oor Amelia skryf en wou kom kyk waar sy grootgeword het. Adrien het my genooi.”

Sy kan sien laasgenoemde is vir Bertha ’n verrassing.

“Regtig? Weet Arianne ook jy is hier? Dit verduidelik hoekom Adrien haar gisteroggend inderhaas met die helikopter Parys toe moes neem vir inkopies. Arianne koop net as sy gespanne is. Oe, ek kan nie wag dat sy môre terugkom om jou te ontmoet nie. Amelia se ewebeeld! Dit behoort dinge hier ’n bietjie opwindender te maak!”

Amelie besef nou die toppunt van die Marceaux se onbeskoftheid. Hulle het gewéét sy land die vorige oggend in Parys en niks buiten hul gebrek aan goeie maniere het hulle gekeer om haar self by die lughawe te kom haal nie. Hulle was dan in Parys op die presiese tyd wat sy geland het? Tog het hulle verkies om die stuurs Ruard te stuur om haar te kom haal. Adrien het seker lekker in Parys gejol voor hy laataand na Le Crotoy teruggekeer het.

Voor sy kan uitvra oor Amelia, kondig Bertha aan dat sy iets het om Amelie te wys. Sy neem haar na een van die kleiner huise rondom dier chateau.

“Hierdie een was Agnes se heiligdom. Niemand van die familie kom meer hier nie. Gelukkig is Arianne nie hier nie want sy sal woedend wees dat ek jou kom wys het,” sê Bertha.

Agnes se boudoir lyk of die vrou gister nog daar gewoon het. Die liggeel sy gordyne is oopgetrek en die hemelbed netjies opgemaak.

“Jy weet seker Agnes en Gerard het tot op sy sterfbed in vyandskap geleef oor Amelia? Maar selfs na sy dood het sy verkies om hier te slaap. Dié gebou was blykbaar ’n soort speelhuis toe Amelia klein was. Ek het foto’s gesien. Dit het alles gehad wat ’n klein dogtertjie kon begeer. Kan jy glo? Hierdie hele gebou was ’n pophuis! Gerard het glo voor die drama sy dogter verafgood.”

Bertha sluit ’n kas oop. Die rakke is vol klere en speelgoed wat in linnedoeke toegedraai is.

“Dit is die paar goed van Amelia wat Agnes gehou het. Sy het tot haar dood elke dag die kas oopgemaak en oor haar kind gehuil. Die arme vrou is van hartseer dood.”

Langs die hemelbed glimlag Amelia uit ’n vergulde fotoraam vir haar ewebeeld en Amelie kry koue rillings. Sy voel skielik so na aan haar.

Sy vertel Bertha van Mon Abri en hoe Amelia vir jare oor Phil getreur het.

“Sy was net so hardkoppig soos haar pa. Dit is juis omdat Amelia en Gerard so eenders was, dat nie een van hulle ooit kon vergewe nie. Dit was vir Agnes vreeslik dat haar dogter nooit weer haar voete in Frankryk gesit het nie. Ek hoop daardie Phil was die moeite werd.”

Die twee vroue is so druk in gesprek dat hulle nie die deur hoor oopgaan nie. Die bulderende mansstem laat hulle skrik.

“Ek moes dit geweet het! Bertha! Jy kon seker nie wag om my ma te ondermyn nie! En jy! Wie gee jou die reg om in ons huis rond te krap?”

Amelie voel hoe haar wange bloedrooi raak van woede. Die absolute arrogansie! Hoe durf die man haar daarvan beskuldig dat sy rond krap as hy so ’n vrotsige gasheer is en hy boonop geweet het sy wil navorsing doen oor Amelia? Sy staan op en gaan staan reg voor hom sodat hy kan sien hy intimideer haar nie.

Adrien troon bo haar uit en sy wit hemp kontrasteer met sy blas vel. Sy pikswart oë blits woede.

Amelie steek haar hand na hom uit en stel haarself in haar sjarmantste kalmste stem voor. Sy doen dit asof dit haar tweede natuur is aangesien sy jare se oefen opgedoen het onder die diktatorskap van haar gewese baas, knorrige Gielie Greyling. Sy bekroon haar sjarme teenoor die Fransman met ’n lieflike glimlag. Laasgenoemde het haar nog nooit in die steek gelaat nie, Sy kan sien sy ontsenu die Fransman effe. Hy steek sy hand uit en gee haar ’n stewige handdruk.

“Kom, ons het ’n besige dag.”

Hy los haar hand nie en stap met lang treë by Agnes se boudoir uit. Amelie is vir ’n sekonde effe spyt oor die hoë hakke waaraan sy nie meer gewoond is nie want dit veroorsaak dat sy taamlik pateties agter Adrien se haastige lang treë aan moet trippel.

Hy sleep as’t ware haar in stilte tot by ’n gholfkarretjie wat hulle na die helikopter op die heli-pad voor die chateau neem.

“Ons gaan Delville Bos toe,” grom hy kortaf terwyl hy haar inhelp.

Amelie verstom haar aan sy gebrek aan sosiale vaardighede. Kon hy haar nie maar vooraf gewaarsku het dat hulle die dag uitgaan nie? Wie sê vir hom sy wou nie ’n handsak of baadjie saamneem nie? Hy is duidelik ’n ongevoelige bombastiese man.

Adrien skuif langs haar in en maak die helikopter gereed om op te styg. Hy praat eers weer as hulle oor die chateau sirkel.

“Jy moes vir my gewag het voor jy begin krap het. Ek sou in elk geval vir jou ouma Agnes se boudoir gewys het.”

“Nou vir wat het jy my nie gisteroggend op die lughawe kom haal nie? Dan kon ons rustig oor my boek begin gesels het.”

“Jou boek? Ek dog dit gaan ons boek wees?”

“Dis my boek. Ek het eerste daaraan gedink.”

“O, het jy?”

’n Verbysterende aantreklike glimlag breek oor sy gesig. Amelie voel haar kniekoppe teen mekaar klap. Sy besef sy sal haar hormone in toom wil hou as sy die geveg oor die erfporsie wil wen.

Vir wat moet haar opponent in lewende lywe soos Johnny Depp se aantrekliker ouer broer lyk? Na haar droom van die vorige nag is dit glad nie ’n goeie teken nie. Sy weet dat sy met als in haar sal moet keer om nie haar kop te verloor nie.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.