Foto’s: Instagram/Demi Tebow
Demi-Leigh Tebow (voorheen Nel-Peters) en haar man, Tim Tebow, is amptelik ouers! Die voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Heelal en haar man, ’n voormalige Amerikaanse sportster, motiveringspreker en filantroop, het hul eersteling verwelkom – ’n dogtertjie wat op 6 Julie 2025 gebore is.
Demi-Leigh (30) het Maandag die opwindende nuus en kosbare foto’s van hul kleinding op Instagram gedeel.
“Ons dogter is hier! Ons kan nie meer dankbaar wees vir die seën en geskenk van hierdie nuwe klein lewetjie nie,” het Demi-Leigh by die eerste kiekies geskryf.
View this post on Instagram
Die paartjie het intussen hul dogtertjie se naam bekend gemaak: Daphne Reign Tebow. Volgens Demi-Leigh is Daphne vernoem na haar geliefde oumafiguur, haar ma se suster, wat vir haar ’n voorbeeld van sagtheid, geloof en innerlike krag was.
Reign is geïnspireer deur ’n spesiale dogtertjie wat vir jare deel van hul lewens is, en simboliseer hul geloof dat elke mens, as kind van God, geskape is om met doel en waardigheid te leef.
View this post on Instagram
Demi-Leigh en Tim woon tans in Jacksonville, Florida in die VSA. Die paartjie het in 2018 ontmoet toe sy nog haar Mej. Heelal-kroon gedra het, het in 2019 verloof geraak en in Januarie 2020 tydens ’n sprokiestroue in Suid-Afrika afgehaak. Die egpaar het vanjaar in Januarie aangekondig dat hulle swanger is, toe Demi reeds 16 weke swanger was.

Lees hier: Boer soek ’n vrou: Reandi vat binnekort die plaaspaaie vir boere op soek na ware liefde


