kategorieë: VelsorgSkoonheid

Die ABC van teenveroudering

Alfahidroksiesure

“Alfahidroksiesure is vrugte- of melksure wat in ’n konsentrasie van minder as 15% in skoonheidsprodukte gebruik word om dooie vel af te skilfer en selvernuwing te stimuleer. Die AHA’s wat algemeen gebruik word, is glikoliese suiker (suikerriet), asook laktose- (melk), appel- (malic acid), steen- (druiwe-) en sitrussuur,” sê Jody Hyam, uitvoerende groepkommunikasiebestuurder van Clarins.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Aminosure

“Aminosure is die boublokke van ons vel,” sê Riette van Tonder, Clinque se nasionale opleidingsbeampte. “Hulle is die molekules waaruit proteïene bestaan en groepeer saam om peptiedes (sien P) te vorm. Dit is ’n gewilde bestanddeel in teenverouderingsprodukte en is veral gewild onder mense wat sensitief is vir alfahidroksiesure. Ekstern bind hulle met selle om jou vel glad en vogtig maak en intern help dit om meer kollageen (sien K) te maak. Volgens Riëtte sal die langdurige gebruik van ’n produk wat wei-proteïen, ’n soort aminosuur, bevat, jou vel sterker en fermer maak en die voorkoms van lyne en plooitjies verminder.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Antioksidante

’n Voedingstof of chemikalie wat vrye radikale (sien onder V) neutraliseer en keer dat hulle die molekulêre struktuur van ons DNS beskadig. ’n Baie gewilde bestanddeel in skoonheidsprodukte. Vitamien A, C en E, sommige B-vitamiene, beta-karoteen en selenium is almal antioksidante. Dr. Nicholas Perricone, ’n hoogleraar in dermatologie wat sy eie skoonheidsreeks met dieselfde naam ontwikkel het, beveel aan dat jy ook voedselaanvullers en kos wat ryk is aan antioksidante by jou dieet insluit. Reënboogkosse, soos kleurryke groente en vrugte (soos bloubessies, ’n verskeidenheid rooi bessies, granate, Acai-bessies en broccoli) is volgens hom die beste antioksidante.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Eet reënboogkosse soos kleurryke groente en vrugte. Klik hier vir ons idees.

Basaal-selle

… is die heel onderste lagie van ons epidermis (sien E), net bokant die dermis (sien D). Hulle is die boodskappertjies tussen ons kollageen en fibroblaste wat kollageen maak. Sodra ons kollageen min word, stuur hulle boodskappe na die fibroblaste om nog kollageen te maak. “Wanneer ons ouer word, word die sinapse van ons fibroblaste met ’n proteïen-substansie omring en kan die boodskappe nie meer reg oorgedra word nie,” verduidelik Jody.

Ceramides

Seramiede is ’n baie belangrike lipiede (sien L) in ons stratum corneum, die heel boonste deeltjie van ons epidermis (sien E). Seramiede is soos die sement wat ’n baksteenmuur aanmekaar hou. Namate ons verouder, neem die produksie daarvan af, ons “sement” word droog en die struktuur en tekstuur van ons “muur” verander: ons velle word dowwer en droër en die eerste lyne en plooitjies verskyn.

Dermis

“Ons dermis is net onder die epidermis geleë en beslaan negentig persent van die dikte van ons vel. Dit kan ook as die vel se senuweesentrum gesien word, veral omdat so baie van die belangrike werk van die vel hier gedoen word. Dit bevat ons senuweereseptore wat sensitief is vir druk, temperatuur en pyn, asook ons sweet- en oliekliere, haarvliesies en bloedvate,” skryf dr. Perricone in sy boek The Wrinkle Cure. Jody sê die dermis word as die ondersteuningstruktuur van ons vel beskou: “Bloed en limfatiese vaatjies vloei daardeur. Dit is ook die plek waar ons fibroblaste (sien F) en immuunselle in ’n ekstra-sellulêre matriks baai wat uit vesels (kollageen en elastien), ’n noodsaaklike stof, proteoglycans (sien P) en glycosaminoglycans bestaan.”

Elastien

Soos kollageen is elastien ’n proteïen. Dit maak die vel rekbaar, maar steeds ferm. Dit is aan elastien te danke dat die vel terugspring wanneer jy daaraan trek, ’n spier styf maak of jou mond oop en toe maak om te eet. Elastienproduksie neem af sodra die jare begin aanstap en laat ’n ouer vel uitgerek en plooierig lyk.

Epidermis

Die buitenste lagie van jou vel – die heel boonste lagie van die epidermis – word die stratum corneum genoem. Hierdie lagie is dunner as papier en bestaan meestal uit dooie velselletjies wat boontoe gestuur word sodra nuwe selle gemaak is. Die epidermis vervel gedurig, maar veroudering verlangsaam die vervelproses omdat die vervaardiging van nuwe velselle nou soveel langer duur (in ’n jongmens vind selhernuwing elke 28-30 dae plaas, maar ná sestig vind dit slegs elke 45-50 dae plaas). Dit is die rede waarom ons velle daardie helder, vars voorkoms verloor namate ons verouder. Al is die stratum corneum “dood”, het dit steeds ’n baie belangrike funksie – dit help die vel om vog en olie binne te hou. Kyk by S (Sperfunksie) vir meer inligting.

Fibroblaste

Fibroblaste is van die sleutelselle wat in ons dermis geleë is. Dis hul taak om kollageen, elastien en ander belangrike molekules op te bou. Die behoorlike funksionering van fibroblaste is baie belangrik vir die algemene gesondheid van die vel.

Foto-veroudering

Die proses waardeur ons vel weens ultraviolet-bestraling in sonlig of ander bronne verander of beskadig word. Die langtermynuitwerking is gewoonlik plooie, verkleuring of velkanker.

GAGs

… (glycosaminogluca-molekules) word deur die liggaam geproduseer om struktuur en vloeistofbalans in weefsel te behou. Dit dien ook as ’n natuurlike bevogtiger tussen epidermale selle en help om die vel teen waterverlies te beskerm.

Glycans

Glycans word gesien as die sleutel tot sellulêre jeug,” sê Jason Eason, wetenskapbestuurder by L’Oréal Suid-Afrika. “Glycans kom op die oppervlak van selle voor en speel ’n belangrike rol in die binding van selle,” sê prof. Peter H. Seeberger, direkteur van die Max Planck-instituut in Potsdam, Duitsland, en konsultant vir die YSL SKINSCIENCE-span. Hulle stuur seine na die selle waarop hulle voorkom om te verdeel en te vermeerder sodat jou vel digter en fermer kan word. “Wanneer ons ouer word, verminder ons glycans en ons reseptore daarvoor. Ons selle word nou ‘gesluit,’ want hulle kry nie meer die glycan se boodskappe nie en tekens van veroudering, soos plooie of  ’n vaal vel word sigbaar,” verduidelik Jason.

Groeifaktore

… is proteïene wat sellulêre groei reguleer. Dit sluit fibroblaste, keratinosiete en masselle in. Hulle bevorder ook die vorming van kollageen en elastiese vesels wat die vel sag en soepel maak. “Kliniese toetse het getoon dat wanneer groeifaktore in die regte kombinasie, verhouding en konsentrasie gebruik word en in ’n stabiele formule aangewend word, bevorder dit selvernuwing,” sê Helene Schoombie, produkspesialis by SkinMedica.

Genomika

(Genomics) ’n Navorsingsmetode wat ontstaan het ná die Human Genome Project in 2003 vasgestel het dat ons liggame uit byna 30 000 gene bestaan. Al 30 000 is geïdentifiseer en groot skoonheidsmaatskappye, soos Avon, L’Oréal en P&G het op grond van hierdie navorsing die “optrede” van gene in velle wat jonk, oud en deur son beskadig is, begin vergelyk. Met dié kennis het hulle probeer om bestanddele te ontwikkel wat verandering in die vel sal teëwerk.

Hialuroonsuur

’n Dik skuimrubberjel wat in ons dermis geleë is. Kollageen en elastien is in die jel ingebed. Saam maak dit jou vel sponserig en plomp. Hialuroonsuur is ’n algemene bestanddeel in skoonheidsprodukte wat baie vog verskaf en veroudering doeltreffend vertraag. Navorsing toon dat wanneer die suur ingeneem word, verhoog dit jou vogvolume dramaties en jou vel lyk plomp, soos ’n spons wanneer dit water absorbeer. Verhoogde vogvlakke maak jou vel elastieser en laat plooitjies sagter lyk.

Hipodermis

Jou hipodermis is nie deel van jou vel nie; dit lê net onder jou dermis. Die hipodermis heg jou vel aan die onderliggende bene en spiere en voorsien jou vel van bloedvaatjies en senuwees. Dior se Capture Totale-navorsingspan het onlangs bewys dat ’n mens ook hipodermale stamselle kry wat ’n stewige basis vir die bou van ’n ferm vel vorm.

Infrarooi-bestraling

“Nuwe navorsing toon dit is nie net die hitte van die son wat veroudering veroorsaak nie, maar ook die hitte wat deur oonde, ligte, verwarmers en selfs jou rekenaarskerm uitgestraal word,” het ’n bekende kosmetiese dokter, dr. Yves Hébert van Montreal, op ’n onlangse besoek aan Kaapstad gesê. “Selfs breëspektrum-sonroom blok slegs 55% van die son se uitstraling en beskerm jou ook nie teen infrarooi-bestraling nie. Daarom is dit belangrik om ’n goeie sonskerm saam met ’n produk te gebruik wat hoog in anti-oksidante is.”

Idebenone

’n Sterk anti-oksidant wat aanvanklik as ’n mediese produk in die behandeling van Alzheimer-siekte gebruik is. Dit is nou een van die bestanddele in Elizabeth Arden se Prevage-velprodukte.

Jojoba-olie

… word uit die sade van die vroulike jojoba-plant gepers. Die olie word goed deur ons velle geabsorbeer en help om die sperfunksie van die vel te versterk en vog binne te hou.

Kollageen

… is ’n lang, veselagtige en baie sterk proteïen wat in die bindweefsel van die liggaam, asook in ons bene, ligamente, spiere en tande voorkom. Dis kollageen wat ons vel plomp en elasties laat lyk. Namate ons verouder, maak ons liggame minder kollageen en ouer velle begin sakkerig en plooierig lyk.

Langerhans-selle

… is immuunselle en word beskou as die voetsoldate van die vel. Hulle is gewoonlik in ons epidermis geleë, maar kan wanneer nodig ook na die dermis beweeg. Wanneer skadelike bakterieë of stowwe die vel binnedring, verteer hulle dit soos ’n wafferse Pac-man. Daarna beweeg hulle na die dermis om nog immuunselle te lok om infeksie te beveg.

Lipiede

Lipiede hou die water (wat 70% van ons vel vorm) in ons vel. Lipiede (die belangrike een vir ons vel is fosfolipiede) het ’n waterhatende kant en ’n waterliewende kant. In ons velselle is hulle in twee rye gerangskik met die waterliewende kante wat na mekaar toe wys en die waterhatende kante na buite. Die waterhatende kant los nie in water op nie en voorkom so dat water ontsnap. Lipiede is ’n belangrike bestanddeel in velsorgprodukte omdat dit ons sperfunksie (sien S) versterk.

Melanien

… is die pigment wat kleur aan ons vel gee. Hoe meer mela-nien jy het, hoe donkerder is jou vel. Dit bepaal ook hoe goed jou vel sonskade en irritasie kan hanteer – hoe ligter jou vel, hoe weerloser is jy teen sonskade.

Mitochondria

Die mitochondria word gesien as die kragopwekkers van ons selle. Hulle skakel energie om in ’n vorm waarin die selle dit kan gebruik maar aan die ander kant kan hierdie energieproduksie ook chaos in ons selle veroorsaak. Navorsing deur ’n bekende Amerikaanse dermatoloog Leslie Bauman toon dat die mitochondria suurstof nodig het om energie te vervaardig, hoewel suurstof elektrone dra. Sommige elektrone verbind in gelyke getalle aan die suurstof, maar ander in ongelyke getalle wat vrye radikale (sien V) veroorsaak. Ons liggaam (en nie net eksterne faktore nie) veroorsaak dus self ook vrye radikale. Daar is tans nie juis ’n oplossing vir die probleem nie. Al wat ons kan doen, is om ’n goeie sonskerm en produkte hoog in anti-oksidante te gebruik, meen Bauman.

Nasolabiale voue

Dit staan ook bekend as lagplooie, en is die twee lyne wat van die kant van jou neus na jou mondhoeke loop. Veroudering maak dit meer prominent. Kosmetiese vullers kan gebruik word om die lyne minder sigbaar te maak.

Osmose

Osmose is die beweging van water deur die selmembrane. Dit beweeg in die waterkanale (aquaporins) van die selle van dig na minder dig.

Aktiewe bestanddele van velsorgprodukte word so gekoppel aan osmotiese draers om die selle binne te dring

Peptiede

… is die boublokke van ’n proteïen soos kollageen. Dit word vrygestel wanneer kollageen afgebreek word – wanneer ons kollageen minder word, stuur die peptiede boodskappe na jou vel dat dit kollageen verloor het en nog moet maak. Wanneer peptiede in die vorm van ’n velsorgproduk aangewend word, stuur jou vel ’n vals alarm dat kollageen besig is om te verminder en meer daarvan gemaak moet word. En danksy die wetenskap verhoog die vel sy vorming van kollageen!

Pigmentasie

… beteken verkleuring en beïnvloed dus die kleur van jou vel. Velselle gee kleur aan jou vel deur melanien te maak. As hierdie selle beskadig of ongesond word, beïnvloed dit die melanienproduksie. “Ek sê gewoonlik vir my pasiënte dat pigmentasie ’n lewenslange probleem is,” sê dr. Yves Herbert. Dit moet ook so behandel word. Die kanse is skraal dat die toestand ooit heeltemal sal weggaan. As jou vel te veel melanien maak, word dit donkerder (swangerskap en sonblootstelling kan oorsake wees). Dit is uiters belangrik om uit die son te bly wanneer jy pigmentasie wil verminder. ’n Breëspektrum-sonroom is ’n moet. ’n Vel wat te min melanien maak, word ligter.

Ko-ensiem Q10

(CoQ10) is ’n vitamienagtige stof wat meestal in die mitochondria-selle teenwoordig is. Dit is ook ’n kragtige antioksidant en teenverouderingsmiddel.

Retinoïede

Dermatoloë skryf graag retinoïede voor om die vroeë tekens van ouderdom te verminder en om te keer. Die hoeveelheid retinoïede wat in voorgeskrewe produkte voorkom, kry jy nie in gewone oor-die-toonbank produkte nie. Maar dit is ook ’n produk wat diegene met sensitiewe velle kan irriteer en tot sonskade kan lei wanneer dit nie reg gebruik word nie. “Die sterkste retinoïede is nie noodwendig die beste vir jou nie. Kies eerder een wat jou vel kan hanteer en jy gereeld kan gebruik pleks van ’n sterk produk wat jou vel so irriteer dat jy dit net sporadies kan aanwend,” beveel die Amerikaanse dermatoloog dr. Jeffrey Dover aan. Retinoïede is familie van vitamien A en sluit verskillende soorte retinoïede in, soos retinol, retinal, retinoïede-suur, Retin-A en tretinoïen.

Sperfunksie

Een van die vel se belangrikste funksies is om die liggaam te help om vog binne te hou.  Die sperfunksie beskerm ons vel. “Dis ontsettend belangrik dat jou sperfunksie goed werk en die selletjies goed inmekaar pas waar dit op die oppervlakselle voorkom. Weens veroudering en sonblootstelling pas hierdie selletjies later nie meer so lekker saam in nie en ons is geneig om vog te verloor,” sê Clinique se dermatoloog, dr. David Orentreig. Dit kan tot voortydige veroudering lei. As jou vel droog is, het jy gewoonlik baie dooie selle op die oppervlak wat afgeskilfer moet word voor ’n vogroom die vel behoorlik kan binnedring.

Tonikums

“Tonikum-aanwending is ’n noodsaaklike stap in enige ernstige velsorgprogram. Die werking en voordele van ’n tonikum (verfrisser) is nie aldag so bekend nie. Jou vel het ’n deursigtige lagie op die oppervlak, die hidrolipidiese film, wat uit vog en sebum (die vel se natuurlike olies) bestaan en pH-sensitief is. Sodra die pH uit balans is – reinigers, water, daaglikse blootstelling aan die elemente en lugversorging is die groot sondaars – is jou vel kwetsbaar vir vrye radikale en die tekens van voortydige veroudering sal weldra sigbaar wees. As jou vel styf voel nadat jy jou gesig gewas het, kan dit ook daarop dui dat jou pH-balans nie reg is nie. Die enigste produk wat dan jou pH kan balanseer, is ’n verfrisser. Dit help ook dat jou serum en vogroom beter geabsorbeer word,” verduidelik David White, handelsmerk-en-opleiding-bestuurder van Givenchy.

Die enigste produk wat dan jou pH kan balanseer, is ’n verfrisser. Dit help ook dat jou serum en vogroom beter geabsorbeer word

Ultraviolet-strale (UV)

… kan nie vermy word nie. Die hoofbron is die son. UV is verantwoordelik vir die verbruining van die vel en die produksie van vitamien D. Oormatige blootstelling aan die son kan lei tot velkanker en voortydige velveroudering. Oormatige UV dring die vel diep binne en breek die kollageenweefsel af wat lei tot die vorming van lyne en plooie en daardie afgesakte voorkoms. ’n Breëspektrum-sonskerm is daarom ’n moet,” sê David.

Vrye radikale

… is die boelies van ons velsel-wêreld. Dié radikale is suurstofmolekules wat ’n elektron verloor het en onstabiel is. Hulle probeer hulself genees en steel elektrone by gesonde molekules, wat op hul beurt net nog vrye radikale vorm en in die proses ons selle beskadig. Vrye radikale word nie net deur ons eie liggame vrygestel nie, maar ook deur eksterne faktore soos besoedeling, sonlig en sigaretrook. Vrye radikale veroorsaak veroudering omdat hulle veral ons kollageen aanval.

Vitamien C

’n Hoë dosis stabiele vitamien C wat gereeld op die vel aangewend word, kan mettertyd fyn lyntjies om jou mond en oë, asook ander plooie minder sigbaar maak. Dit verbeter ook die tekstuur en toon van die vel.

Wimperserums

Kosmetiese chirurge meet die “ouderdom” van jou oë van die binnehoek van jou oog tot by die punte van jou wimpers. Hierdie nuwe manier van meet beklemtoon die belangrikheid van langer wimpers en verklaar waarom wimperoorplantings, groeiprosedures en behandelings vir wimperverdikking nou so gewild is. Vichy se navorsingspan meen hoe ouer ons word, hoe meer lyk dit asof ons oë toe is. So, langer wimpers kan jou jonger laat lyk!

Xylose

… ’n natuurlike suiker wat uit houtvesels en bas verkry word, is ’n aktiewe bestanddeel van Pro-Xylane TM. Lancôme het ProXylane, ’n suiker-proteïen-mengsel wat die produksie van GAGS stimuleer, in 1996 ontwikkel (sien G). ProXylane dring die velle binne en moedig die produksie van proteoglycans aan wat deeltjies is van ons ekstra-sellulêre matriks, ’n jelagtige netwerk van proteïene en suiker wat as die boustrukture en skokabsorbeerders tussen selle dien. Hierdie molekules absorbeer water wat die matriks meer jelagtig en ons selle en vel fermer maak. Dit bevorder ook kollageenvorming.

Yl hare

Namate ons ouer word, word ons hare ook yler en dunner. Vrouens sien dit veral in of ná menopouse wanneer ons estrogeen verminder en androgene hormone vermeerder. “As jy kaal kolle het, wend ’n bietjie oogskadu wat dieselfde kleur as jou hare is, op die kolle aan,” is grimeerkunstenaar Bobbi Brown se wenk in haar boek, Living Beauty. Laat jou haarkapper ’n snit aanbeveel wat meer volheid gee.

Zzzz

… staan vir skoonheidslaap. Wanneer jy slaap, kry jy meer as net rus. Die vel vernuwe snags op sy doeltreffendste omdat daar geen ultravioletlig of besoedeling is nie. Slaap is ’n wonderlike tyd van selvernuwing vir jou liggaam en veral vir jou vel. Baie teenverouderingsbestanddele bly langer aktief wanneer dit nie aan sonlig blootgestel word nie. Dis snags die ideale tyd om plooie te beveg.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.