Deur Maryke Roberts. Foto’s: Verskaf
Die handgemaakte spieëltent, Magic Cristal, waarin die geliefde gravin, Zingara, gehore gaan betower, word tans opgeslaan om haar verblyf van 20 Junie amptelik by Melrose Arch Pavilion met die vertoning, La Dolce Royal, te open.
Madame Zingara het haar reis in 2001 in Kaapstad begin as ’n boheemse, teateragtige restaurant wat gou legendaries geword het vir sy betowerende atmosfeer, kreatiewe kostuums en unieke geregte. Die ikoniese sjokolade-en-brandrissie-biefstuk was veral gewild.
Sy is die breinkind van Richard Griffin en was meer as net ’n eet-ervaring; dit was ’n viering van kuns, vertonings en menslike verbintenis. Nadat die oorspronklike restaurant in 2006 in Langstraat afgebrand het, het Richard die konsep herbedink en dit in ’n rondreisende teater omskep – ’n luukse, sirkusagtige aandete-vertoning wat in ’n eeu-oue spieëltent aangebied is.
- Rolo Bolo (Foto: Dan Manners)
Deur fynproewerkos, wêreldklas-akrobatiek, kabaret en lewendige musiek te kombineer, het Madame Zingara ontwikkel tot ’n magiese, meesleurende ervaring wat gehore regoor Suid-Afrika en verder betower het.
Vir tien jaar het dié geliefde dame ’n skoonheidslapie geniet. Maar sy is terug in blinkertjies en goud; fluweel en sterstof en nou is sy boonop ’n gravin. Sy bied die vertoning, La Dolce Royal, aan en sal saam met dié mooie tent jou asem wegneem.
Agter die fluweelgordyn tower maestro Richard nou ’n nuwe meesterstuk op, wat weer sy getroue medewerkers bymekaarbring: die visionêre mederegisseurs Craig Leo en Valentina Love; die legendariese beligtingsontwerpers Mannie Manim en Joshua Cutts; die choreograaf Samantha Kotze en ’n rolverdeling van wêreldklas- internasionale en Suid-Afrikaanse kunstenaars.
Hoogtepunte sluit in die voormalige Cirque du Soleil-lugkunstenaars Juan Pablo Palacios en Victoria Perez Iacono; die Oekraïnse kragsensasies Mykola en Andrii Pysiura; die kontorsionis Nokulunga Buthelezi van Johannesburg; en die Kaapse vokale kwartet The Clorettes.
- (Foto: Dan Manners)
- Lunga Buthelezi (Foto: Dan Manners)
“In ’n tyd wanneer gehore smag na verbintenis en ontvlugting, gaan La Dolce Royal oor gedeelde verwondering,” sê die mede-regisseur Valentina Leo.
Die seremoniemeester vir die aand is The Timekeeper, en tussen sy kort geselsies deur, ontvou die ervaring as ’n multisensoriese reis wat opvoering, ontwerp en ’n viergang-maaltyd kombineer.

The Timekeeper (Foto: Dan Manners)
Jou ervaring in die magiese spieëlpaleis begin egter nog lank voor die internasionale akrobate, sweefstok-artieste of sangers hul verskyning maak. Dis wanneer jy met jou verwelkomingsdrankie in jou hand staan, dat jy gul ontvang word deur Kevin Ellis, die flambojante gasheer, wie se uitrustings jou vir ure aan’t praat kan hê.
Kevin is nie deel van die konsertprogram nie, maar sy teenwoordigheid as magiese gasheer wat tussendeur met die gehoor flankeer, soms ’n skeutjie drank aanbied en graag vir foto’s poseer, maak die aand ekstra spesiaal.
- Kevin in sy kostuums (Foto: Armand Hough)
- Kevin in sy kostuums (Foto: Armand Hough)
Kevin vertel meer:
Wat is die doel van ’n kuiertjie saam met die gravin by die Magic Cristal?
Ons probeer om ’n goeie outydse ontsnapping uit die werklike lewe te skep; ’n aandjie uit waar jy van die bekommernisse van die wêreld kan ontsnap en nie na ’n digitale toestel hoef te kyk nie, maar eerder skouers skuur met ander mense wat ook wil ontsnap. As jy die tent instap, is dit asof jy ’n magiese koninkryk binnegaan.
Vertel meer van jou uitrustings en hoeveel keer jy tydens een vertoning verklee?
Ek ruil my uitrusting elf keer in ’n enkele opvoering en hoop elke transformasie is meer verstommend as die vorige een. My hoede word ontwerp deur die verhoogbestuurder Gareth Greaves, saam met wie ek my kostuums ontwerp. Dit is ’n eklektiese mengsel van elegansie, chaos en sirkus. Ons hou daarvan om kledingstukke uit vervloë eras te hergebruik, deur die stad te snuffel vir juwele en vergete materiale in pragtige nuwe skeppings te herverwerk. Dit is ’n gepaste filosofie in ’n produksie wat self die geskiedenis laat herleef en herontdek. ’n Elegante chaos met sirkus. Ek is bekend daarvoor dat ek oordrewe en dramaties is.
Van jou kostuums is nie net mooi en oordadig nie, maar ook sentimenteel?
Een van my kostuums is met dasse versier wat aan my pa behoort het, wat ná sy dood vir my ’n koffer vol kosbare kledingstukke nagelaat het. Dit sluit die mansjetknope in wat ek nou op die verhoog dra. My luiperdvelhandskoene het eens aan my ma behoort, wat sy na die Durban July gedra het.
Dis geen toeval nie. Ek en Graham het Durban July-mode vir ’n hele dekade oorheers en toekennings gewen, insluitend Beste Geklede Paartjie, Beste Geklede Man en Mees Fassinerende Avant-Garde. In 2025 het ons weer die Beste Geklede Paartjie gewen. Ons verstaan hoe om ’n storie deur klere te vertel.
- Kevin in sy kostuums (Foto: Armand Hough)
Wat is jou gunstelingversierings op kostuums?
Vir Zingara gebruik ek slegs ingevoerde Swarovski-kristalle en meng dit met halfedelgesteentes, diamante en vere om kostuums te skep wat onder die ligte skitter. Ek het ook gehelp om die voorkoms en gevoel van die hele rolverdeling te vorm en die produksie na ’n meer avant-garde visuele taal te stoot. Dis wonderlik dat ek die kunstenaarsvryheid gekry het om dit vir die Zingara-vertoning te doen.
Wie werk saam met jou om die kostuums so mooi in stand te hou?
Cathy Durrbaum is ons naaldwerker met towervingers. Baie van die kostuums spoor ons op interessante plekke op en sy maak hulle mooi, hou hulle in stand en ek versier dit met alles wat mooi en blink is. Sy maak ook kostuums.

The Clorets (Foto: Dan Manners)
As gaste ook deel van die mooi wil wees, hoe gemaak?
Ons het baie talentvolle gesigverwers wat jou sal help optower en ons boetiek voor in die tent het die mooiste hoede, handsakke, juwele en kaftans wat jou sal laat skitter.
Die magiese ervaring by Melrose Arch is Dinsdag tot Sondag beskikbaar. Die deure open om 17:00 en die vertoning begin om 19:30. Kaartjies kos van R1 260 per persoon en sluit ’n verwelkomingsdrankie, viergang-maaltyd en vertoning in. Daar is privaat sitkamers, die Aperoltuin en die Royal Balconies en ander BBP-ervarings beskikbaar. Geen o/10’s. Bespreek hier of hier, boxoffice@zingara.co.za of 021 891 0448.
Lees ook: Jan Hendrik van der Westhuizen op Laataand by Rian: ‘Ek wil terugkom Suid-Afrika toe’












