Die bekroonde sangeres Anna Davel verskyn eersdaags by Aardklop in die produksie Landskap, waar vier sangers hul toonsettings van Suid-Afrikaanse digters se werke aanbied. Dit sluit in toonsettings van gedigte deur Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw, Fanie Olivier, Eugène Marais en Griekwa-psalms, onder andere. Ons het ’n bietjie met haar hieroor gesels.
Waaroor handel Landskap?
Ek het drie van my gunsteling-kunstenaars (Laurinda Hofmeyr, Lizanne Barnard en Leon Gropp) genader wat uitstekende toonsettings doen van Suid-Arikaanse gedigte, en ek het hierdie produksie saamgestel uit van hul beste werk. Ek het Rudi Silbermann se werk destyds gesien in tydskrifte, en hom gevra om die digitale films te ontwerp vir elke gedig.
Hoe het julle vier bymekaar gekom vir hierdie projek?
Ek en Laurinda is vir jare al vriende, en ek is ook ’n groot aanhanger van haar werk nog voordat ek haar leer ken het. Lizanne het ek ontmoet meer as 20 jaar gelede toe sy ATKV Crescendo gewen het en ek die verhoogbestuurder was by die Staatsteater. Sedertdien volg ek haar loopbaan en is ek ook ’n “groupie” wat graag haar shows bywoon en na haar albums luister. My en Leon Gropp se paaie het ook oor die jare gereeld gekruis by konserte, feeste en op verhoë. Spesifiek is dit die Afri-Spaans-vertoning wat ons landwyd saam gedoen het wat my bewus gemaak het van sy talent as ’n sanger en liedjieskrywer, buiten sy ongelooflike kitaarspeelvermoë. Hy was oorspronklik nie deel van die eerste Landskap-vertonings by Woordfees nie maar toe ek sy toonsettings hoor van N.P. van Wyk Louw het ek dadelik geweet hy moet deel wees van dié produksie.
Vanwaar die naam Landskap?
Die gedigte besing almal die spesifieke Suid-Afrikaanse konteks; met ander woorde plekke, mense, dorpe en stories eg aan ons land en sy gemeenskap. So, die verskillende diverse landskappe waaroor mense skryf was die inspirasie.
Waarom is dit belangrik om digters se werk te toonset?
Die woorde raak soms weg op mens se rak; jy weet dit is briljant en dit roer jou wanneer jy dit die eerste maal hoor, maar wanneer daar musiek bykom kry die woorde nuwe betekenis, energie, atmosfeer en kan dit net nog ’n slag wees om die storie te vertel. Dit skep die tipe musiek wat mens oor en oor kan luister, omdat gedigte se woorde dikwels meer om die lyf het, en meer diepte het om te ontgin. Van die gedigte wat ons doen is wel ook lig en komies. Ander is weer lekker ritmies en ander weer magies. Musiek kan regtig die woorde ’n nuwe konteks en lewe gee wat dalk veral van die baie ou gedigte toeganklik kan maak vir jong gehoorlede wat dalk nie so bekend is met Eugène N. Marais en Sheila Cussons se werk nie.
Hoe verskil toonsetting teenoor jou eie lirieke?
Dis heeltemal anders. Jy moet in die skrywer se wêreld instap, die landskap leer ken waarvandaan hy skryf, en dan met sy simbole en ritme werk, en baie deurdag werk om dit outentiek te hou. Jy moet jou unieke musikaliteit of klank behou, maar ook die woorde eer en jouself kan verplaas.
Wie is jou gunsteling- Afrikaanse digters en waarom?
Eugène Marais en N.P. van Wyk Louw se woorde tref my steeds diep. Ek dink dit is ’n kombinasie van beide se intellek saam met ’n diep gevoelswêreld. Beide van hulle kyk deur mense se kleinlikheid, sonder om hul menslikheid te misken. Daar is ’n hunkering na skoonheid, vrede, stilte, ’n verwondering aan die skepping en gebrokenheid of broosheid in beide se werk wat my ontroer.
Wat het jou laat besluit om ’n kunstenaar te word en hoe het dit gebeur?
Dit is ’n lang, lang storie, en ek sal ten minste ’n week neem om dit neer te skryf! In ’n neutedop … Ek het begin liedjies skryf toe ek 20 jaar oud was, en op universiteit hier en daar begin optree en ook agter die verhoog begin werk as ’n verhoogbestuurder. Aan die einde van my BA sielkunde-studies het ’n vriendin my gebel en gesê ek moet saam met haar Ligte Musiek by TUT gaan studeer. Ek het binne ’n paar minute besluit dit is wat ek gaan doen. Ek is op 25 Pretoria toe, en vandaar het al my energie in musiek gegaan. Dis wonderlik om al vir soveel jare voltyds musikant te kan wees. Ek het ’n interessante en vol lewe met heerlike avonture.
Hoe het die kunstelandskap in Suid-Afrika verander sedert jy deel geword het daarvan?
Mens het baie op CD-verkope staat gemaak. Dit het drasties afgeneem. So, mens moet meer konsentreer op konserte en toere. Social media het kunstenaars meer toeganklik gemaak vir die publiek. En andersom. Ek kan baie makliker my konserte adverteer by die regte mense of dorp of platform. Dit neem ongelooflik baie tyd om te post en die boodskappe op facebook, twitter, Instagram, en e-pos te beantwoord en kan soms oorweldigend raak wanneer mense wat jy glad nie ken of nog nooit ontmoet het nie vir jou dikwels baie persoonlike boodskappe begin stuur en konstante interaksie verwag. Ek sukkel om by te bly daarmee. Maar die teenkant is ook dat mens ’n verhouding het met die lojale ondersteuners wat so lief en dierbaar is, mens se konserte bywoon en albums koop. Daar is mense wat al van die 90s die pad saam met my stap en net altyd daar is – dis regtig ongelooflik hoe Afrikaanse musiekliefhebbers kunstenaars ondersteun.
Daar is daardie direkte bemoediging en waardering van daardie mense se kant af wat dalk nie 20 jaar terug so maklik by mens sou uitkom nie. So, as jy ná ’n konsert by die huis kom is daar dikwels ’n boodskap wat deurkom om te sê watter liedjies hulle van gehou het. Dit is wonderlik om sulke terugvoer te kry. Ek het ook al negatiewe terugvoer gekry, en dit help mens ook om te weet as die publiek nie happy is nie. As hulle nie happy is nie, wil mens dit weet, anders kan jy nie groei nie.
Jy het in 2006 ’n SAMA gewen en al verskeie ander toekennings en nominasies ook ontvang. Is hierdie toekennings motiverend of maak dit nie eintlik saak nie?
Dit was vir my 3de solo-album: Godinne op die Grondpad. Dis altyd great om ’n toekenning te kry. Veral as mens besig is met ’n niche-tipe produksie soos Landskap is dit fantasties om ’n prys te wen.
Pak jy musiek en toneelspel verskillend aan of behels dit min of meer dieselfde vermoë?
Nee, toneelspeel is baie moeiliker en meer spesifiek. Jy moet in ’n formaat werk – jy het ’n regisseur met ’n visie, mede-akteur met wie jy elke woord en beweging moet beplan, alles beïnvloed mekaar. So dit is baie meer sistematies en konsekwente werk. Musiek is vry, oop, ek kan elke liedjie interpreteer net soos ek wil in my solo-shows. Ek verander soms die tempo, ritme of struktuur van liedjies terwyl ek besig is met die show. Die gehoor bepaal ook baie hoe ek my program saamstel. Met toneelspeel moet mens stick by die teks en die visie van die regisseur anders foeter jy jou medespeler en die vloei van die produksie deurmekaar.
Jy behartig ook gereeld die regie en vervaardiging van vertonings. Jy is regisseur en vervaardiger van “Landskap” en jy was ook regisseur vir Leon Gropp se vertonings van “Rooidag.” Wat is die belangrikste aspekte van ’n regisseur?
Jy moet seker wees dat die vloei van die musiek en teks sin maak, dat die energie, verloop en emosionele journey van die gehoor vervullend is. Jy wil nooit hê ’n gehoorlid moet uitstap en teleurgesteld wees met wat ookal op die verhoog gebeur het nie. Ek dink die regisseur se hoofdoel is om al die elemente so te bind dat dit ’n eenheid vorm wat die gehoor wegneem uit hulle alledaagse lewe en hulle iets anders laat belewe. Iets wat hulle nuut laat dink, voel, laat omgee, kwaad maak, hartseer maak, of bly maak. As hulle niks voel nie en nêrens heen beweeg nie, het jy gefaal, al is die elemente hóé afgerond. Die inhoud van die woorde, die spanningslyne, die ontknopings, alles bepaal of die gehoor uitstap en voel dat hulle meegesleur was of nie. Ander tegniese dinge soos klank en beligting is ook baie belangrik, en die regisseur moet seker maak dat die omstandighede en tegniese aspekte gunstig is vir die akteurs en musikante om hulle storie te vertel of hulle musiek na die beste van hul vermoë uit te voer.
Jy was destyds ook deel van die a capella-groep Cutt Glas wat wêreldwyd gereis het. Vertel ons meer van hierdie ervaring.
Dit was ’n groot avontuur om deur die wêreld te toer met die formidabele klomp vroue. Ons het soveel pret gehad, baie gelag en regtig ’n baie kleurvolle loopbaan gehad. Ek dink my lewe sou baie armer gewees het as dit nie vir daardie beginjare was saam met Cutt Glas nie. Ek het soveel geleer wat ek nooit op my eie sou kon leer nie
Wat was, tot dusver, hoogtepunte in jou loopbaan?
Starlight Classics, waar ek saam met kunstenaars soos Lira opgetree het saam met ’n simfonie-orkes. Die KKNK Pops in die 90’s: om saam met Johannes Kerkorrel op die verhoog te staan en vir hom agtergrondsang te doen op “Hillbrow.”
Niks kom ooit by die eerste keer wanneer jy jou eerste CD in jou hand vashou nie. Dit is ongelooflik.
Ek het ook vir Madiba gesing as deel van ’n groep van so 6 sangers by die KKNK waar hy ’n toespraak gemaak het. Hy het na die tyd na elkeen van ons gestap en ons elkeen in die oë gekyk en ons individueel gehug en bedank. Dit was ’n groot oomblik. Soveel liefde en respek van iemand van wie ek dit glad nie verdien nie. Dit is die tipe leierskap wat Suid-Afrika nodig het. Iemand wat almal in hierdie land liefhet, ongeag waar hulle vandaan kom of wat hulle ouers en grootouers gedoen het of nie gedoen het nie. Al wat ons het is nou, en ons het net mekaar. Hy het dit geweet, en hy het na die toekoms gekyk en dit was ’n hoogtepunt om in die teenwoordigheid van iemand te wees wat so tasbaar liefde en vergifnis uitleef.
Met watter ander projekte is jy op die oomblik nog besig?
Ek doen ook Afri-Frans by Aardklop, met die internasionale sangeres Myra Maud. Dit is Afrikaanse musiek vertaal in Frans. Dit is ’n beeldskone produksie en ek sien uit om dit weer te doen.
Ek is ook betrokke by PG du Plessis: ’n Lewe vol … Dit is ’n huldigingsproduksie van hierdie wonderlike skrywer en iemand vir wie ek baie lief was.
Lees ons onderhoud met PG du Plessis hier
Wat is die belangrikste les wat jy al geleer het?
Om mense met respek te behandel. Dit is soms vir my baie moeilik, maar ek streef daarna om meer geduld, liefde en toeganklikheid teenoor my medemens te hê. Ek kan soms maar lekker kort van draad wees, en is ook soms te reguit en se ’n ding dalk te vinnig en te kras. So ek werk daaraan. Elke konsert of email of bespreking is belangrik. Of jy nou voor 7 mense of 7 000 optree. Elke noot wat jy sing en elke konsert wat jy doen is ewe belangrik en verdien jou onverdeelde aandag en fokus.
Wat is jou groot liefdes?
Sushi, koffie, sjokolade, lees, en kuier saam met my naaste geliefdes.
Wat is jou gunsteling-landskap?
In Suid-Afrika is dit die see by Heroldsbaai, Rosendal se berge in die Vrystaat en die berge in Franschhoek. Die Drakensberge en Underberg in KwaZulu-Natal en enige poel, rivier, water, of dam.
Ek hou van reis na onbekende lande.
Oorsee is dit Lake Louise in Kanada, Interlaken en Gimmelwald in Switserland, Rio de Janero se strande, Scarborough se strand in die Verenigde Koninkryk en die Phi Phi-eilande in Thailand.
Lees hier om meer uit te vind oor Landskap wat by Aardklop opgevoer word.