Van verstoteling tot kanniedood, Wilhrisca het gedoen wat niemand anders op Die brug nog kon nie: drie huisverskuiwings, een uitskakeling en ’n ongelooflike klomp sydelingse blikke oorleef – en sy staan steeds.
In episode 7 het die program se mees veerkragtige deelnemer weer eens teruggebons. Nadat sy as deel van Suidhuis ingeskryf het, op dag een uitgeskakel is, in ‘n skokwending na Noordhuis gestuur is, bevind Wilhrisca haarself nou weer in Suidhuis.
En hierdie keer bring sy meer as net bagasie saam. Sy het ’n plan en ’n doel.
“Ek het moedeloos gevoel,” het sy onthul nadat sy weer verskuif is. “Ek het myself aangebied vir my span – Durand het in trane uitgebars, en Lelani wou nie haar leierskap prysgee nie. Maar verwerping is deel van die lewe. Dit was ’n nederige oomblik, ’n herinnering dat ek steeds besig is om myself te bou.”
Terwyl haar terugkeer na Suidhuis dalk op die oppervlak heel vreedsaam gelyk het, het die atmosfeer ’n ander verhaal vertel.
“Nie warm nie, eerder beleefd,” het sy oor haar ontvangs gesê. “Daar was vriendelike gesigte, maar dit het gevoel soos ’n masker. Die ongemak was tasbaar – so duidelik dat selfs die visse in die meer dit kon aanvoel.”
In ’n spel waar vertroue so broos kan wees soos die brûe wat hulle bou, het Wilhrisca ’n ander pad gekies – een gewortel in diep persoonlike vasberadenheid. Sy speel nie net om te wen nie. Sy speel vir iets groters.
“Ek is hier om brûe te bou wat in my lewe lank ontbreek het,” het sy gesê. “Ek is ’n enkelma wat leer hoe om liefdevol en sterk te wees sonder dat ek self ’n voorbeeld van moederskap gehad het. My seun is beide my krag en my swakplek – vir hom staan ek elke keer weer op.”
Ten spyte daarvan dat sy die maklikste teiken en die onderwerp van gefluisterde skinderstories in beide huise is, gaan Wilhrisca nêrens heen nie. Haar onwrikbare egtheid, wat eens as haar swakheid gesien is, is nou haar wapen.
Sy sê wat haar aan die gang hou, is om haarself te wees – ongeag wat ander sê of dink. “As jy in jouself glo, het jy reeds genoeg. Mense kan wreed wees, maar innerlike krag dra jou deur alles. Om eg te wees tel soms meer as om aanvaar te word.”
Met die brug steeds onvoltooid, en spanning wat onder elke glimlag skuil, is een ding seker: Wilhrisca is nie klaar met bou nie. Die ander spelers kan maar weet: Hierdie kat se lewens is nog lank nie op nie.
Beleef al die drama van Die brug, Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Lees ook: Hier kom ’n ding! Jandré le Roux in Skemergrond as sjarmante Genie te sien