kategorieë: Skoonheid

Estetiese behandeling: Sonder die mes

Neem dit in ag

• Hoe meer ervaring jou dokter het, hoe beter.
• Dit is belangrik dat jy gemaklik voel met jou dokter of terapeut, en sou jy onseker voel, sê dit.
• Met sommige prosedures is die effek eers ná ’n paar maande sigbaar. Neem ’n foto voor die behandeling en weer so ’n paar maande later om te kyk of daar ’n verskil is (sonder grimering, op dieselfde tyd van die dag en dieselfde plek).
• Die prosedures is wel aansienlik goedkoper as chirurgie, maar dis steeds duur, en die verandering is nie so ingrypend soos wanneer jy chirurgie sou ondergaan nie.
• Jy hoef nie narkose te kry nie, en jy lyk gouer weer “aanvaarbaar”.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Vermy dié 5 foute

Dr. Judey Pretorius, biochemiese wetenskaplike en produkontwikkelingskundige en eienaar van Biomedical Skin Emporium, gee dié raad:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

1 Moenie te veel te vinnig doen nie. As jy nog nooit ’n chemiese afskilfering gehad het nie, moenie vir die sterkste een vra nie. Jy moet eers jou vel se sperfunksie ’n bietjie vir bietjie versterk met minder intensiewe afskilfering.

2 Moenie te veel behandelings ná mekaar laat doen nie. Gee jou vel ’n blaaskans van minstens twee weke.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

3 Moenie voor of net ná ’n prosedure was gebruik nie, dit kan ’n litteken maak.

4 Moenie aspirien drink voor ’n semi-indringende behandeling soos plasmategnologie, mikronaaldbehandeling of mikro-dermabrasie nie sodat jy nie met die behandeling bloei nie.

5 Sekere estetiese behandelings kan jou vel dehidreer. Bevogtig jou vel minstens drie tot vier keer per dag.

LW rooi rose glo glad nie dit is noodsaaklik om dié soort behandelings te laat doen nie. As jy sulke behandelings oorweeg, doen dit vir jouself en nie vir iemand anders nie.

Plexr

Wat is dit?
Dié revolusionêre toestel is ’n eerste in sy soort. Die gefokuste en beheerde mikrostrale van die toestel verfyn die boonste lagie van die vel sonder om die weefsel daaronder of daarnaas te beskadig. Plexr bied ’n doeltreffende en goedkoper alternatief vir kwessies wat eers net met chirurgie reggestel kon word. Dit het vele gebruike – van tandheelkunde tot ginekologie en estetiese behandelings, soos om littekens, vratjies, plooie en selfs tatoeëermerke te verwyder.

Dr. Johan Botha, Plexr-segsman, sê een van die gewildste behandelings is om die ooglede te lig.

Hoe voel dit?
Eers word ’n verdowingsalf op die spesifieke plek aangewend. Aanvanklik voel dit soos klein vonkies wat op die vel skiet, maar ná ’n ruk raak dit nogal ongemaklik tot seer. En daar hang ’n reuk van gebrande hare in die lug!

Wie is die ideale kandidaat?
Wanneer jy plooie wil takel, moet jy sigbare plooie hê, veral op dele waar jou vel dunner is. Dit is ook ideaal vir mense met klein, nie-kwaadaardige veluitgroeisels soos vratte en moesies.

Hersteltyd
Drie dae tot ’n week. ’n rooi rose-redaksielid het die behandeling laat doen om oortollige vel op die ooglede weg te neem en het omtrent ’n week lank aardig gelyk. Ná die behandeling lyk dit of jy fyn swart kolletjies op jou oë het en die oë is erg geswel. Die kolletjies word later rofies en val af. Vir meer oppervlakkige behandelings is die hersteltyd korter.

Moontlike newe-effekte
Jou ooglede is maande daarna nog effens rooi. Jy kan ook hiperpigmentasie ontwikkel, veral as jy nie alle UV-blootstelling vermy het nie. Dr. Botha sê die rooiheid in die eerste twee maande is ’n teken van heling en beveel die gebruik van sinksalf (boudjiesalf) en ’n goeie gehalte stabiele vitamien C-serum aan. Indien rooiheid voortduur, kan dit ’n teken wees van PIH (Post Inflammatory hyperpigmentation) en dan moet ’n bleikroom voorgeskryf word.

Tuissorg
Sit ys, of daardie soort jelmaskers wat ’n mens in die yskas hou op die oë om swelling te verminder. ’n Sonskerm wat ’n fisieke blok bevat, is ’n moet, asook ’n onderlaag wat dun genoeg is om tussen die rofies aan te wend. Dr. Botha beveel BioNike Liquid Foundation aan, want dit bevat sonskerm en is ook dun genoeg.

Koste
Om die ooglede te lig as die vel reeds taamlik gerek/slap is, kan tot drie behandelings verg (wat minstens drie maande uitmekaar gedoen moet word). Dit kos sowat R12 000 tot R15 000. Dit is nie goedkoop nie, maar aansienlik goedkoper as ’n operasie.

Resultaat
“Die dele om my oë lyk vir seker gladder en jonger, hoewel dit ná ses maande steeds effens rooi is,” sê ’n rooi rose-redaksielid.

Die toestel is deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsraad goedgekeur. Ligloop vir namaaksels, is dr. Botha se raad.

Meer inligting by plexr.co.za

Ellansé-vullers

Hoe werk dit?
Ellansé is soos ’n vuller wat onder jou vel (in die sub-dermale laag) ingespuit word. Wat dit anders as ander vullers maak, is dat dit nie net vul nie, maar jou vel ook help om meer kollageen te maak sodat die vel vir langer plomper lyk. Dit kan op jou slape, om die wenkbroue, wangbene, nasolabiale voue, kakebeen, om jou neus, die lyntjies om jou mond en vir kendefinisie gebruik word.

Wat kan jy verwag?
Jou gesig word met ’n ligte inspuiting of verdowingsroom verdoof sodat die proses effens gevoelig maar nie pynlik is nie. Die behandeling word nie aanbeveel as jy reeds ander vullers gebruik het nie.

Wie is die ideale kandidaat?
Dit is veral gewild onder meer volwasse mense waar meer kollageenafbreking al plaasgevind het. “Maar dit is ook gewild onder jonger mense wat hul profiel wil verander – deur hul wangbene, neus en of ken anders te laat lyk,” sê dr. Gerhard van Niekerk.

Hoe lank hou dit?
Sowat 12 tot 48 maande, afhangend van wat gebruik is.

Hersteltyd
Jy kan dalk effense kneusing hê maar niks wat onderlaag nie kan toemaak nie.

Tuissorg
Geen spesifieke tuissorg is nodig nie, net ’n gewone goeie velsorgroetine word aanbeveel.

Koste
R4 000 vir een ampule en R8 000 vir twee ampules. Die koste hang ook af van die gedeelte wat behandel word.

Hoe voel dit?
“Jou vel voel effens styf ná die behandeling, maar dis nie pynlik nie. Plek-plek, veral langs die neus en mond, kan jy selfs hoor hoe die produk ingespuit word … ’n bietjie grillerig!” rooi rose-redaksielid.

Resultaat
“Jy sien dadelik die resultate, jou oë lyk wyer oop en die wangbene meer prominent – die kontoere van die gesig is beter uitgelig. Jou mondhoeke lyk vriendeliker sonder die lyntjies wat dit aftrek, en die nasolabiale lyn langs die neus af is voller. En as jy dink hoe min daar eintlik gespuit word, is dit merkwaardig. Ná 14 dae begin kollageen vorm en dan word die resultate nog meer sigbaar.” rooi rose-redaksielid

Meer inligting by drgerhardvanniekerk.com

Plaatjieryke plasma-behandeling (PRP)

Wat is dit?
Jou bloed word getrek en in ’n spesiale masjien gespin wat die plaatjies van die bloed skei. Die plaatjies word dan in jou gesig, nek of hande teruggespuit.

Met die jongste PRP-behandelings word die bloed deur ’n unieke dubbelspinproses geplaas. Die plasma word geskei in ’n super-gekonsentreerde plaatjieryke plasma (ook bekend as vloeibare goud) en plaatjieryke en -arm plasma. Die plaatjieryke plasma word op probleemplekke gebruik, want dit lewer die beste resultate. Die plaatjie-arm plasma word op al die ander dele gebruik, verduidelik dr. Tony van der Merwe van Skin & Body Renewal, Claremont.

Die behandeling help kollageenproduksie aan, wat die vel fermer en sterker maak en die algemene toestand van die vel verbeter. Plooie is ook minder opsigtelik.

Wat kan jy verwag?
’n Verdowingsroom word aangesmeer op die dele wat behandel gaan word en ’n suster trek jou bloed. Jou bloed word gespin terwyl jy wag dat die verdowingsroom werk. Die plaatjieryke en plaatjie-arm plasma word in ’n Dermapen (soos ’n reuse-pen met ’n klomp superfynnaalde) geplaas en jou gesig en nek word behandel. Dit is pynloos. Daarna word die super-gekonsentreerde plaatjies met ’n inspuiting op probleemplekke soos die voorkop, om die oë, nekplooie en hande gespuit. Dit brand nogal.

Moontlike newe-effekte
Weinig, want jou eie bloed word gebruik wat allergiese reaksies beperk. Pigmentasievlekke kan tot op drie weke erger lyk en dan verbeter.

Hersteltyd
Effense rooiheid en swelling ná die behandeling en rooiheid vir twee tot vier dae.

Tuissorg
Gebruik die eerste aand ’n room wat jou sperfunksie beskerm, en daarna produkte wat pigmentasie onderdruk.

Moenie in die volgende drie weke afskilferaars gebruik nie. Onthou sonskerm elke dag en vermy die son sover moontlik vir minstens die eerste drie weke.

Hoe gereeld moet jy dit doen?
Twee tot agt behandelings, vier tot ses weke uitmekaar, afhangend van die toestand van jou vel.

Wenk
’n Kostedoeltreffende manier is om die volle behandeling af te wissel met ’n Dermapen-sessie deur ’n terapeut.

Koste
Vanaf R5 200 vir ’n behandeling met die Dermapen. Dié prosedure word deur ’n suster of terapeut gedoen en sluit nie die dokter in wat die gekonsentreerde plaatjies op probeemplekke inspuit nie. Die volle behandeling kos R7 050.

Resultaat
“My pigmentasie het die eerste drie weke erger gelyk en toe verbeter. My vel lyk vir seker meer glansend en voel gesonder, en veral my hande lyk jonger. Danksy die kollageenvorming het my vel ná twee maande skielik voller gelyk.” rooi rose-redaksielid.

Meer inligting en pryse by skinrenewal.co.za

Gesiggaring

Wat is dit?
“Dié behandeling behels stekies wat jou gesig en nekstrukture lig,” verduidelik dr. Alek Nikolic, estetiese mediese dokter en stigterslid van SA Allergan Medical Aesthetics Academy.

Die gare word deur die vetlagie van jou vel “geryg” en het “hakies” wat seker maak die steke bly waar hulle moet. Mettertyd stimuleer dit kollageenproduksie wat die vel stywer laat lyk en lig.

Wat kan jy verwag?
Jou gesig word ontsmet en dan word die plekke en rigting gemerk waar die gare geryg moet word. Die in- en uitgaanplekke word met ’n verdowingsroom behandel. Die gaatjies word met ’n naald gemaak en die gare word met ’n mikronaald deur die vetlagie van jou vel getrek.

Wie is die ideale kandidaat?
Mense tussen 35-55 wie se vel nog nie te veel styfheid of volheid verloor het nie, want die gare gaan onderdeur die onderliggende vetlagie, en as jy te min vet het, sal jy die gare kan sien.

Hoe gereeld moet jy dit laat doen?
Die Silhouette Soft Thread hou 12 tot 18 maande.

Hersteltyd
Jou vel lyk vir so twee tot sewe dae of dit “gevou” is, dis vir twee tot vyf dae geswel en vir vyf tot veertien dae gekneus. ’n Pasiënt met wie ons gesels het, was gelukkig, want sy het byna geen kneusing gehad nie, en het min geswel.

Koste
Die meeste mense het een tot twee garings per kant nodig. Een paar (een per kant) kos sowat R9 000, twee pare R16 000 en drie pare R22 000.

Hoe voel dit?
“Minder indringend as om na ’n tandarts te gaan,” was ’n pasiënt se mening. “Jy voel wel ’n bietjie trek en stoot, maar dit is heel uithoubaar.”

Resultate
“Ek voel en lyk wonderlik!” – pasiënt van dr. Nikolic.

Meer inligting by dralek.co.za

Exilis Elite

Wat is dit?
’n Behandeling wat jou vel styf maak deur radio-frekwensie en ultraklank saam te gebruik. Die behandeling kan op verskeie dele van jou gesig gedoen word, asook die arms, maag, agterstewe, labia en bobene.

’n rooi rose-redaksielid het dit op haar maag laat doen. Die beste resultate word verkry deur Btl X-Wave vooraf te gebruik. Die klankgolwe is veral goed vir selluliet, littekens en rekmerke. Die golwe moedig ook bloedvloei en kollageenvorming aan en help om gifstowwe uit te skei. Ná die tyd word die gebruik van ’n limfdreineringsbroek, die BTL 6000 Lymphastim, aanbeveel om die gifstowwe wat afgebreek is, uit te skei.

“Met die gebruik van die drie masjiene kry ons wonderlike resultate,” sê Elizabeth Token, eienaar van New Life Aesthetics in Durbanville.

Wat kan jy verwag?
’n Jel word aan die plek gesmeer wat behandel gaan word en dan word die X-Wave gebruik. Dit klink en voel amper soos ’n klein hamertjie wat op die vel slaan. Dis nie seer nie, net effens ongemaklik. Met die Exilis vryf die terapeut die toestel oor die gedeelte. Dit verhit jou vel tot min of meer 42 °C. Dit is effens ongemaklik, maar die terapeut verlaag die temperatuur as jy dit nie kan uithou nie. Die proses maak jou vel stywer en “smelt” die vet (wat deur normale metaboliese prosesse uitgeskei word). Dit was heel gemaklik tussen 40 °C tot 42 °C.” rooi rose-redaksielid.

Moontlike newe-effekte
Weinig, tensy die terapeut nie opgelei is nie en sy jou dalk brand. Jy kan ligte hoofpyn ervaar weens die ontgiftingsproses, en jou vel kan ná die tyd effens songebrand voel en rooi wees.

Koste
Exilis-maag R1 600 (gewoonlik vier tot agt sessies), X-wave R350 per gedeelte (agt sessies word aanbeveel) en limf-dreinering R300 per sessie. Spesiale pakkette wat alles insluit, is ook beskikbaar.

Resultaat
“Sonder enige verandering in my oefenprogram of dieet het ek ná agt sessies 5 cm om my maag verloor. Dieet en oefening het nie juis ’n verskil daaraan gemaak nie, so ek is baie tevrede met die 5 cm wat ek verloor het.” rooi rose-redaksielid.

Meer inligting by newlifeaesthetics.co.za en btlaesthetics.com

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.